Luister: ‘Frankie & Felipé’ se Solomon wil ‘mooi kant van lewe wys’

Solomon Cupido kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Solomon Cupido en Bradley Olivier se paaie het gekruis toe albei die vermaakbedryf as jong akteurs betree het en vandag, sowat twee dekades later, is hulle debuutfliek, Frankie & Felipé, op grootskerms landwyd te sien.

Gehore en resensente is ewe gek oor die fliek, met Leon van Nierop wat die rolprent ʼn stewige agt uit tien gegee het.

“Snaakser kry jy nie,” sê Leon in sy jongste resensie, en gehore stem saam, sê Solomon in Maroela Media se ateljee.

“Die terugvoer wat ons kry, is ongelooflik. Dit oortref al ons verwagtinge. Baie mense sê dit altyd, maar as jy onthou ons het aan die kombuistafel gesit en besluit ons moet begin werk skep toe die saadjie vir die fliek geplant is. Wat in die kombuis begin het, het toe ons ons oë uitvee, op die grootskerm beland.

“Mense sê vir ons hulle is mal oor die fliek, hulle het lanklaas so ʼn goeie fliek gesien en baie lekker gelag. Dit maak ʼn mens se hart bly.”

Hy vertel hy en Bradley, die Binnelanders-akteur wat in Julie verlede jaar oorlede is, is albei in die Paarl gebore en getoë. Hulle het hulle studies in toneelspel afgeskop aan die Northlink College in Bellville, waarna hulle die res van hulle studies by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) in Pretoria voltooi het.

“Ons het ʼn storie begin skep uit noodsaak toe ons albei werkloos was. Ek en Bradley wou nog altyd ʼn storie vertel wat oor twee wêrelde strek, maar ons wou ook ʼn besonderse liefdesverhaal vertel.”

Solomon en Bradley het Frankie en Felipé ontwikkel saam met Brett Michael Innes, wat ook flieks soos Sink (2015), Fiela se kind (2019) en Die Storie van Racheltjie de Beer (2019) geskryf het.

“Baie keer as ons die tipe stories hoor wat van ʼn bruin gemeenskap af kom, is daar altyd negatiewe verteenwoordiging, byvoorbeeld oor bendes en dwelm- en drankmisbruik. Hoewel dit die stories is waarmee bruin gemeenskappe kan vereenselwig, is daar ook meer aan die lewe.

“Ons wou net die mooi kant van die storie vertel en daar is soveel mooi stories. Ons het die geleentheid gehad om maar net een van die mooi stories te vertel. Dit is heeltemal anders as wat mense verwag het, en hulle bedank ons daarvoor.”

Die fliek handel oor Franklin Blaze (Bradley Olivier), ʼn hardwerkende man uit ʼn verarmde agtergrond wat hy geheim hou vir sy kollegas en verloofde, Kim Fortuin (Kim Syster), wat besef sy komende troue en werk is op die spel wanneer sy biologiese halfbroer, Felipé Baadjies (Solomon Cupido), kom aanklop vir hulp.

Felipé is ʼn passievolle, maar verlore siel wat dringend geld nodig het en dreig om Franklin se geheime te verklap as hy hom nie help om die geld terug te betaal wat hy verskuldig is aan ʼn venynige geldskieter nie.

Met sy rug teen die muur besluit Franklin om toevlug te bied vir sy broer en hom in te sluit by die troue, maar kort voor lank is hy spyt oor dié halsoorkop besluit.

Volgens Solomon was dit van dag een af die plan dat hy en Bradley die hoofrolle sou vertolk in die fliek.

“Ons het dit by Ivan [Botha] en Donnalee [Roberts] geleer – as jy die hoofrolle wil speel, skryf die fliek self. Ivan gaan baie kwaad wees vir my,” skerts Solomon.

Frankie & Felipé is nou by fliekteaters landwyd te sien.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Solomon Cupido.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.