Luister: Grapjas-duo terug met ‘Mr. Bones 3’

Leon Schuster en Alfred “Shorty” Ntombela kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die vermaaklike grapjas-duo Leon Schuster (71) en Alfred Ntombela (50), beter bekend as “Shorty”, is terug met ʼn splinternuwe rolprent, Mr. Bones 3: Son of Bones, wat op 14 April landwyd in fliekteaters te sien is.

Tien jaar se komedie-plesier

Schuster vertel in die Maroela Media-ateljee dat hy en Ntombela die eerste keer in 1990 saamgewerk het aan die rolprent Oh Shucks! Here Comes UNTAG.

“Ek het ʼn 6-jarige seun gesoek om in die fliek te speel en na honderde oudisies het ek steeds nie die regte akteur gekry nie.

“Toe bring die legendariese Ken Gampo vir Alfred na my toe. Alfie was 18, maar dit het gelyk of hy ses is. Hy was net so groot,” sê Schuster al beduiende, en voeg dan laggend by: “Sy stem was nog nie eers gebreek nie.”

Met ʼn paar spontane dansbewegings en daardie aansteeklike lag van hom, het Schuster onmiddellik geweet dat Ntombela uitstekend in die rol sal pas.

Sedertdien het dié tweemanskap gereeld Suid-Afrikaanse gehore laat skater met komedies soos Sweet ʼn Short, Oh Shucks, I’m Gatvol!, Mama Jack, Schuks Tshabalala’s Survival Guide to South Africa en Schuks! Your Country Needs You.

Buiten die goeie dosis humor wat hulle menige maal al vir kykers opgedis het, het Schuster en Ntombela mekaar ook dikwels laat lê van die lag, veral wanneer die energievlakke laag is of een van hulle opgebeur moes word.

Leon Schuster en Alfred “Shorty” Ntombela in “Mr. Bones 3: Son of Bones”.

“Alfred speel ʼn groot rol in my psige wanneer ons flieks skiet. Hy sal inkom waar hulle besig is om my grimering te doen, grappe maak en dan skielik die pruik van my kop af trek,” vertel Schuster. “Hy is altyd daar en dit is waarom ek hom aanhou gebruik.”

Ntombela sê dit is ongelooflik om saam met Schuster te werk. Hy beskou die afgelope 10 jaar se samewerking as ʼn voorreg en sê dat niemand anders ooit Schuster se skoene langs hom sal kan volstaan nie.

Mr. Bones 3: Son of Bones is die tiende fliek waarin dié grapjasse saam verskyn. Oor Ntombela se groot rol in die jongste Mr. Bones-fliek, sê Schuster dat dit deels as gevolg van aanhangers se liefde vir hom is. “Ek weet hoe baie die mense, veral kinders, van Alfred hou.”

Humor wat almal laat lag

“Dit is spesifiek gemaak vir ʼn jonger gehoor, maar ma en pa wat saam met die kinders gaan fliek, sal dit ook geniet,” sê Schuster.

Mr. Bones 3, Son of Bones begin by die draai van die vorige eeu en die versteekte Krugermiljoene. Terug in die hede maak twee gewetenlose oliedelwers, ʼn maer sakeman (gespeel deur Sans Moonsammy) en ʼn Amerikaanse ingenieur van Texas (met Daniel Janks in die rol), saam met ʼn gids (die aktrise Jay Anstey) hulle opwagting in die Kuvukiland-omgewing.

Bones (gespeel deur Schuster) en Mathambo (met Ntombela in die rol) moet ʼn manier bedink om die eiesinnige Westerlinge te uitoorlê, anders sal die beplande olieboordery die pragtige natuurskoon van Kuvukiland besoedel. Natuurlik, soos hulle plan ontvou, volg talle onverwagse kinkels en draaie met skreeusnaakse gevolge.

“Dit is ʼn eenvoudige storie,” verduidelik Schuster verder. “Ek dink die kombinasie van elemente hierin is reg. Daar is tot ʼn plek in die fliek waar ek ʼn traan stort omdat ek vir Mathambo so jammer kry.

“As ʼn mens dit regkry om mense te laat lag en ʼn bietjie emosioneel of nostalgies raak, dan is jy redelik veilig.”

Ander akteurs wat in Mr. Bones 3, Son of Bones te sien is, is Tumi Morake, Jerry Mofokeng, en kameeverskynings deur Tobie Cronjé en Bouwer Bosch.

Hierdie rolprent kom uit die pen van Schuster en die bekroonde fliekmaker Gray Hofmeyr (Jock of the Bushveld, Sweet and Short, There’s a Zulu on my Stoep) as medeskrywer en regisseur. Dit is deur André Scholtz en Menzi Thabede vervaardig.

Die fliek word plaaslik deur Filmfinity versprei en word op 14 April vanjaar landwyd uitgereik. Mr. Bones 3, Son of Bones is vervaardig deur Thabede Menzi Films en M-Net Movies in samewerking met Film Chrome, Nasionale Bemagtigingsfonds (NBF) en die departement van handel en nywerheid (DTI).

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Leon Schuster en Alfred “Shorty” Ntombela.

Kyk hier na die lokprent van Mr. Bones 3, Son of Bones:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vonkprop ·

Klomp gemors. Jou IK moet regtig laag wees om dit snaaks te vind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.