Luister: Leandie en Simoné gesels oor ‘Vuil Wasgoed’

(Foto: Facebook / Leandie du Randt Bosch)

Die gewilde aktrises Leandie du Randt Bosch en Simoné Nortmann is albei by die fliek Vuil Wasgoed betrokke sedert dit in 2014 as kortfilm opslae gemaak het by die Silwerskermfees.

Dié fliek is intussen omskep in ʼn vollengte fliek wat vandag in teaters landwyd begin draai.

Die storie handel oor Wim (Bouwer Bosch) en Kevin (Bennie Fourie), twee beste vriende wat ook saam by ʼn klerewassery werk, maar daarvan droom om hul eie koffiewinkel oop te maak. Hoewel die twee net tydelik by die klerewassery sou werk, is albei sewe jaar later steeds daar. Vir hulle is dit ʼn hoogtepunt om elke aand die klere van die wassery se kliënte aan te trek en dan partytjies by te woon.

Simoné vertolk die rol van Nikki, ʼn veeartsenykunde-student. Kevin het sy oog op Nikki en word teen wil en dank betrek by die chaos wat volg nadat Kevin en Wim ʼn vinger in ʼn kliënt se baadjiesak ontdek.

“Bennie het uitstekende werk gedoen om die kortfliek in ʼn vollengte fliek te omskep,” vertel Simoné. “Hy het baie meer in die skurke se wêreld in beweeg en die Gotty-gesin se dinamika ontwikkel. Die fokus is baie meer op die vriendskap tussen Wim en Kevin. Die feit dat hy hierdie nuwe genre wou verken, is ongelooflik.”

Simoné sê die fokus van die fliek is meer op die donker wêreld. “My karakter is ingekleur in terme van haar vriendskap met Alecia, Leandie se karakter, en ons werk as veeartse. Ons het nie regtig geweet wat ons doen in die kortfliek nie,” lag sy.

Die fliek is gekies vir die Portland-fliekfees in die VSA en Simoné sê die feit dat internasionale oë dit reeds raakgesien het, getuig van hoe goed die fliek is. “Dis een van die soort flieks wat jy oor en oor sal moet kyk, want daar is so baie om te geniet. Daar is drama, komedie en aksie.”

Sy vertel dat sy en Leandie nie die geleentheid gekry het om met gewere te speel nie, maar dat hulle wel ontvoer en in ʼn kattebak gedruk word. “Dit was baie opwindend,” lag sy.

“Om saam met Leandie te werk is baie lekker. Sy is so ondersteunend en ons speel lekker naas mekaar. Sy is so natuurlik,” sê Simoné.

Leandie het ook net lof vir Simoné se toneelspel. “Sy is so eg en het dit so maklik gemaak om as’t ware van haar toneelspel af te speel. Sy is ʼn lieflike mens en ons het baie pret gehad.”

Sy sê haar karakter, Alecia, is ʼn baie bitsige meisie. “Sy is bitter vir die lewe en sy hou meer van diere as van mense. Sy is Nikki se beste vriendin en sy dink Wim en Kevin is groot verloorders, maar sy help hulle tog wanneer hulle in die moeilikheid beland.”

Leandie meen dat daar nog nie só ʼn goeie komedie in Suid-Afrika gemaak is nie. “Ná Orkney snork nie en Lipstiek Dipstiek is dit vir my die snaaksste fliek wat nog in die Afrikaanse mark verskyn het. Die teks is goed, die humor is skerp en hulle het nie nodig gehad om toilethumor te gebruik om dit snaaks te maak nie. As jy net vir ʼn uur en ʼn half lank wil lag, dan is dít net die fliek vir jou.”

Sy vertel hulle het die lang ure en laat nagte op stel oorleef deur baie lekkergoed te eet en Milo aan te dra. “Ons het gereeld op ons jasse gelê en slaap in die skeepsvraghouer,” lag Leandie. “Ons was ʼn baie lekker groep mense wat saamgewerk het.”

Kyk hier na die lokprent van Vuil Wasgoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.