Luister: Liefde oorwin álles, sê ‘Vir die Voëls’


Francois Jacobs en Simoné Nortman (Foto: Maroela Media)

Francois Jacobs en Simoné Nortmann (Foto: Maroela Media)

Toe sy maar nog bloedjonk was, het hy haar met ʼn kluit reg in die gesig gegooi. Sy het haar voorgeneem om nie weer met hom te praat nie, maar liefdesbriewe van ʼn soldaat in die grensoorlog het later gevolg en sy het self ook haar skanse laat sak, want liefde oorwin mos álles, of so sê die nuwe Afrikaanse fliek Vir die Voëls.

Die akteurs Francois Jacobs en Simoné Nortmann, wat die hoofrolle in dié fliek vertolk, het onlangs in die Maroela Media-ateljee kom kuier om te gesels oor dié fliek. Hulle meen die verskeie temas, soos komedie, romanse, rugby en musiek wat in die fliek voorkom, maak dit perfek vir ʼn wye gehoor.

Vir die voëls is vervaardig in samewerking met kykNET Films as deel van Huisgenoot se eeufeesviering vanjaar.

Die storielyn van die fliek is gegrond op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie de Klerk, wat hul verhaal as deel van ʼn kompetisie met dié tydskrif gedeel het.

Simoné vertolk die rol van Irma de Klerk. “Sy is ʼn regte vurige rabbedoe. Sy wil niks van liefde of trou weet nie, omdat sy uit ʼn agtergrond van seerkry kom. Sampie doen alles in sy vermoë om haar hart te wen, maar sy skop vas,” vertel sy.

Simoné Nortmann en Neels van Jaarsveld (Foto: Verskaf)

Simoné Nortmann en Neels van Jaarsveld (Foto: Verskaf)

Sampie verskil egter wêrelde van haar – hy is ʼn régte kanniedood. “Sampie en Irma het van kleintyd saam grootgeword, maar hul paadjies het later geskei,” verduidelik Francois.

“Hy het haar met ʼn kluit in die gesig gegooi,” keer sy vinnig.

“Snaaks genoeg kruis hul paadjies weer en hy besef eers later dis dieselfde Irma. Dis egter ʼn moeilike taak om haar voor sy sjarme te laat swig. Hy het teruggekom van die grensoorlog af vanwaar hy vir haar baie briewe geskryf het, maar sy het nie een keer teruggeskryf nie. Selfs wanneer hulle op trou staan, twyfel sy,” vertel Francois.

Vir die Voëls is Simoné se eerste rolprent. Sy is onder meer ook bekend vir haar rol in 7de Laan en Hotel op kykNET. “Dit was nog altyd die droom. Ek het in ʼn sepie gespeel en daarna die voorreg gehad om in ʼn reeks te speel. Flieks is egter wonderlik, want jy kry soveel ruimte om iets na die prentjie toe te bring. ʼn Sepie is ʼn goed geoliede masjien en daar is baie min tyd. Quentin Krog, die regisseur, het ons baie vryheid gegee,” sê Simoné.

Francois meen dié fliek is gepas vir oud én jonk omdat dit die nostalgiese hartsnare sal roer vir ouer mense, maar ook jonger mense ʼn blik op daardie tyd gee.

Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom en Leandry Smith (Foto: Verskaf)

Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom en Leandry Smith (Foto: Verskaf)

“Daar is baie ander sterk storie-elemente, drama, romanse, die grensoorlog en sewentiger-musiek waarna mense in besonder kan uitsien. Die wêrelde wat Quentin vir die fliek geskep het, is in detail vervaardig. Verder bestaan die klankbaan uit negentien liedjies vanuit dié tydperk.”

Ander akteurs wat in die fliek speel, sluit in Elize Cawood, Nicola Hanekom, Neels van Jaarsveld, Drikus Volschenk, Leandry Smith, Liam Bosman, Lara Kinnear, Candice Kruger en Bennie Fourie.

“Baie van die akteurs is absolute veterane. Net om te sien hoe hulle hulself handhaaf op die stel, die oomblikke wat hulle skep en hoe rustig hulle is, het ons so baie geleer. Dis altyd ʼn groot eer om saam met die groot name gewerk,” bevestig albei die akteurs.

Vir die Voëls is in samewerking met kykNET Films deur The Film Factory vervaardig.

Die rolprent word op 25 November landwyd uitgereik.

Vir meer inligting, besoek die fliek se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.