Luister: ‘Liewe Lisa’ nié die tipiese romantiese rolprent nie

Elani Dekker tydens die première van 'Liewe Lisa' in Johannesburg. (Foto: Maroela Media)

Elani Dekker tydens die première van ‘Liewe Lisa’ in Johannesburg. (Foto: Maroela Media)

Elani Dekker vertolk die rol van Lisa, die jong joernalis in die splinternuwe Afrikaanse rolprent, Liewe Lisa, wat vandag in fliekteaters landwyd begin draai.

Dié rolprent, uit die pen van akteur en regisseur Hendrik Cronjé, handel oor Daniël, ʼn jong man wat naby aan die einde van sy studies is en nou voor die kruispad staan om te besluit wat hy met die res van sy lewe wil doen en wat die doel van sy lewe is.

“Daniël herontmoet vir Lisa en hulle twee leer saam hoe jy sekere dinge kan vergeet as jy verlief is en hoe jy sekere dinge nié kan vergeet nie, en wat jy saam kan leer en wat jy alleen móét leer,” vertel Dekker in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Die fliek is deur die onafhanklike rolprentmaatskappy, Kompanjie Stories, aangepak en die finansiering vir die rolprent was minimaal. Dekker vertel dit was baie meer intiem om aan ʼn fliek op so ʼn klein skaal te werk, aangesien sy nog net op groot rolprentstelle soos Jou Romeo in die hoofrol van Yvette Verwey, Vaselinetjie, in die rol van Pizzaface en Sink, as produksie-assistent, gewerk het.

“Wat Hendrik-hulle reg gekry het met so ʼn klein produksiespan, is ongelooflik. Hendrik, wat die hoofrol vertolk, die draaiboek geskryf, geregisseer én die redigering behartig het, was verskriklik betrokke by elke liewe aspek van die skietproses. Die rolprent is letterlik sy visie van begin tot einde en daardeur het hy vir my ook baie vryheid gegee om te kan asemhaal in die karakter van Lisa. Ek hoop regtig die fliek doen goed sodat Hendrik nog kan maak!”

Sy vertel sy het nie ʼn oudisie vir die rol van Lisa afgelê nie. “Kompanjie Stories het twee weke voor ons begin skiet het, my agent gebel en gesê hulle het hierdie fliek wat hulle wil skiet en hulle wil my gebruik. Ek het met Hendrik oor die foon gesels en hy is so rustig. Ek kon nie glo dat hy nie wou hê ek moet ʼn oudisie aflê nie – dit is ongehoord. Hier doen ek niks en dit kom net. Ek is baie dankbaar daarvoor. Dit was regtig ʼn unieke ervaring.”

Dekker sê hoewel die rolprent oor die liefde handel, het dit ʼn baie meer realistiese uitkyk op die liefde. “Vir ons jonger generasie is sekere goed wat vroeër jare vanselfsprekend was in romantiese verhoudings, vandag nie meer vanselfsprekend nie. Daar is gesprekke wat ons moet hê wat vroeër jare nie noodwendig nodig was om mekaar beter te leer ken nie. Hulle eindig nie noodwendig saam op nie …”

Liewe Lisa begin vandag, 14 Februarie, in fliekteaters landwyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.