Luister: Luan Jacobs, die ‘hunkerende pastoriekind’ in ‘Dominee Tienie’

Luan Jacobs, wat die rol van Martiens Benadé in die rolprent 'Dominee Tienie' vertolk, tydens die première. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Luan Jacobs, wat die rol van Martiens Benadé in die rolprent ‘Dominee Tienie’ vertolk, tydens die première. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Met rolprente soos Nul is nie niks nie, Jagveld, Suurlemoen! en Ballade vir ʼn enkeling op sy kerfstok is die akteur Luan Jacobs geen vreemdeling op die silwerdoek nie.

Dié 30-jarige gebore en getoë Pretorianer wat te sien is in die gewilde kykNET-reeks Fynskrif, het ook ʼn rol in die splinternuwe Afrikaanse rolprent, Dominee Tienie.

Hy vertolk die rol van Martiens, dominee Tienie Benadé se seun, in Sallas de Jager se rolprent wat geskoei is op Die klaagliedere van dominee Tienie, die solostuk uit die pen van Dana Snyman.

Jacobs vertel Martiens hunker as pastoriekind na sy pa, wat so besig geraak het met die uitdagings van die gemeente dat hy sy eie gesin in die proses verwaarloos. “Martiens is op die ouderdom waar hy leierskap nodig het, ʼn ouerfiguur wat hom in die regte rigting kan stuur. Ek wil nie sê hy is besig om aandag te soek nie, maar daar is ʼn mate van ʼn soeke na hulp van sy kant af. Hy probeer nog sy plek en sy voete in die wêreld vind en ek dink om dit reg te maak, moet hy by die huis begin.”

Volgens Jacobs handel die rolprent oor dominee Tienie se soeke na identiteit, na waar hy as dominee is en wie hy as mens is en die balans wat hy moet handhaaf tussen die twee. “Daar is lekker avontuur en komedie ook tussendeur, en dan ook verskriklike rou oomblikke wat ʼn baie eerlike storie vertel,” voeg hy by.

Sallas de Jager, wat ook die regie van rolprente soos Roepman, Musiek vir die agtergrond en Free State behartig het, het vir Jacobs genader om die rol van Martiens te vertolk. “Ek het vir Sallas gesê: You had me at hello’”, skerts Jacobs en haal die bekende frase uit die Oscar-bekroonde fliek, Jerry Maguire, aan.

“Sallas het my meer vertel van die produksie, maar ek was natuurlik reeds bewus van die solostuk waarmee Frank Opperman reeds geruime tyd mee getoer het. Toe ek hoor wie almal gaan speel, het ek dadelik ingestem.”

Luan Jacobs. (Foto: Verskaf)

Luan Jacobs. (Foto: Verskaf)

Hy vertel hy en Opperman het saam gewerk aan die toneelstuk Sing jy van bomme. Hy en Henriëtta Gryffenberg, wat die rol van sy ma, Ester Benadé, vertolk, werk ook gereeld saam aan die Leon van Nierop-radiodrama, Hartebreker, wat op RSG uitgesaai word.

“Albei van hulle is toegewyde akteurs en hul benaderings is fantasties. As Frank ʼn nota kry, oefen hy dit dadelik in en maak dit daar en dan reg. Jy kan eintlik as medespeler net opdaag en jy hoef niks moeite te doen nie. Alles is rou en eerlik omdat hulle soveel gee. Selfs van die stel af is dit so gemaklik, want hulle is soos ouerfigure wat met jou gesels oor jou lewe. As ʼn vryskut- en jong akteur het ek in my menswees ook saam met hulle gegroei.”

Hy is vol lof vir De Jager as regisseur. “Ek stel gewoonlik verskriklike, gekompliseerde lang vrae op voordat ek my karakter begin bou, en Sallas se huiswerk is so goed gedoen dat hy my met elke liewe vraag ontmoet het met soveel antwoorde. Dit was vir my so gerusstellend om te weet ek kon onder sy vlerk op hierdie stel uitdraf en ons kom saam vlieg.

“Sallas het die boodskap van Dominee Tienie so mooi verduidelik – dat daar ʼn tyd vir leierskap nodig is in Suid-Afrika. Tienie vind uit dat hy weer ʼn leier moet word en wat dit beteken om ʼn leier te wees, en dat daar baie sterk besluite is wat geneem moet word en dat hy moet weet waarvoor hy homself inlaat in terme van kompromieë wat hy moet aangaan.”

Dominee Tienie is nou landwyd in fliekteaters te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pastoriekind ·

Vir my was dit ‘n groot voorreg om ‘n pastoriekind te kon wees.
My pa was wel baie besig en ons het hom min gesien, maar hy was immers die dominee!
Jy het vir ‘ feit geweet jy sien jou pa sondag in die kerk!
Snaaks ek hom nooit as die dominee gesien nie, hy was maar net my pa, op of van die kansel af!

Die slegste ding vir my was toe my pa aftree.
Hy en my ma het vir meer as 30jaar in die pastorie gebly en al ons kinders daar groot gemaak. Dit was my huis…maar toe hy die dag klaar maak moes hy vir hom ‘n ander huis gaan soek.
Ek verlang sooooo baie terug en wens ek kon die pastorie koop! :(
Daar bly nou iemand anders daar en die huis lyk nie meer dieselfde nie…dit is nou hulle huis!

Irma ·

Baie teleurgesteld. Die film het skaars ‘n week in Witbank gedraai. So uitgesien om die naweek te gaan kyk. Hulle snoep ons met Afrikaanse flieks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.