Luister: ‘Meerkat Maantuig’ ʼn ‘les oor hoe om vrese te oorkom’

(Foto: Facebook)

Hanneke Schutte, die regisseur van die betowerende gesinsavontuurfliek Meerkat Maantuig, het by Maroela Media gekuier om te gesels oor dié fliek wat reeds harte op internasionale feeste gesteel het en wat vandag op eie bodem in fliekteaters begin draai.

Schutte vertel die fliek gaan oor Gideonette de la Rey, ʼn vreesbevange jong meisie wat na haar ouma en oupa se plaas in Magoebaskloof gestuur word. “Daar ontmoet sy ʼn klein seuntjie met die naam Bhubesi. Hy en Gideonette se oupa is besig om ʼn maantuig in die woud te bou en sy besef baie gou dat hierdie magiese maantuig haar gaan help om al haar vrese te oorkom.”

Die verhaal is op Riana Scheepers se novelle Blinde Sambok geskoei en Schutte vertel sy het reeds ses jaar gelede met die idee van die fliek vorendag gekom. “Ek het dadelik vir Riana genader en gesê ek wil ʼn fliek maak van hierdie beeldskone boek. Ek het nie baie getrou gebly aan die boek nie en die maantuig is ʼn nuwe deel van die storie.”

Schutte verklap dat die storie deur haar eie vrese as kind geïnspireer is. “Toe ek klein was, was ek baie bang, en ek wou ʼn storie skryf oor ʼn klein meisie wat al haar vrese oorkom.”

Meerkat Maantuig is by verlede jaar se Silwerskermfees vir die eerste keer vertoon en genomineer vir beste kinematografie, beste produksieontwerp en beste regisseur. Willie Nel het met die beeldjie vir beste kinematografie huis toe gegaan.

“Ons het in ʼn klein kliphuisie in die mistige woude van Magoebaskloof geskiet,” vertel Schutte. “Dit is net ʼn absoluut sprokiesagtige wêreld waarin die fliek afspeel.”

Schutte kan nie uitgepraat raak oor die twee jong akteurs, Anchen du Plessis en Themba Ntuli, wat onderskeidelik die rolle van Gideonette en Bhubesi vertolk nie.

“Anchen het voorheen in Vaselinetjie gespeel en sy is só talentvol – ek het nog nooit met so ʼn talentvolle aktrise óf akteur in my lewe gewerk nie. Ek sê heeltyd sy is ʼn one take wonder. Sy gee jou letterlik in een skoot presies wat jy wil hê. Sy is volwasse, instinktief en intelligent en sy lewer sulke geloofwaardige spel.

“Themba het ook reeds ʼn hele rits aanhangers. Almal wat al die fliek gesien het, is absoluut gaande oor sy spel. Hy is ʼn wonderlike, charismatiese seuntjie waarop almal verlief raak.”

Schutte sê die boodskap van die fliek is dat ʼn mens jou vrese in die oë moet kyk om dit sodoende te kan oorwin. “As jy jou vrese kan oorwin, kan jy baie dinge bereik. Ons almal lewe in ʼn gemaksone en is te bang om dinge te doen. Daar is ʼn les te leer oor hoe om ʼn groter en ryker lewe te lei.”

Meerkat Maantuig begin op Vrydag 16 Maart in fliekteaters landwyd draai.

Lees Leon van Nierop se resensie hier. Kyk ook na Floris Groenewald se videoresensie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.