Luister: Pietie Beyers oor sy rol in ’n Afrikaanse ‘Karoo sci-fi’

Vroeër vanjaar het ʼn kameraversamelaar ʼn boks vol 8 mm- & 16 mm-filmrolle en oudiobande wat van 1967 dateer opgekoop. Die beeldmateriaal in dié rolle wys hoe vier Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensiediens-agente ʼn vreemde voorwerp ondersoek wat in Desember 1967 op ʼn plaas in die Karoo geland het.

Dié filmrolle word nou aan die publiek vertoon in die wetenskapsfiksie-rolprent Wesens. Die rolverdeling van die fliek sluit bekroonde Afrikaanse akteurs soos Albert Maritz (Griekwastad, Trackers), Morné Visser (The Harvester, Dis ek, Anna) en Pietie Beyers (Meisies wat fluit, Vergeet my nie) in.

Beyers vertel in die Maroela Media-ateljee dat Wesens een van die uitsonderlikste rolprente is in Afrikaans, maar benadruk dat dit slegs fiksie is.

“Wetenskapsfiksie is nie iets wat ek al baie in Afrikaans gesien het nie. Dit is ongewoon en uniek, maar nie op so ʼn manier dat dit mense gaan afskrik nie en ek hoop juis dit trek mense in. Ek is so opgewonde om deel te wees van iets wat moeilik is om te beskryf op die heel beste manier moontlik.”

Beyers vertolk die rol van ʼn wapeningenieur, Kuyper. “Ons is ʼn viermanskap van intelligensiediens-agente wat op die plaas ʼn vreemde voorwerp teëkom. Ons moet uitvind wat dit is, wat ons daarmee gaan doen en vir wie ons daarvan gaan sê. Al vier van ons het verskillende idees oor hoe die situasie benader moet word.

“Mense hoor ‘wetenskapsfiksie’ en raak dadelik bang, maar hierdie fliek wil nie die kyker bang maak nie. Dit wil jou laat raai en jou geboei hou, maar uit my oogpunt het dit ʼn baie verwelkomende hart wat plek het vir almal.”

Die skrywer en regisseur, Derick Muller, het dié fliek se genre “Karoo sci-fi” gedoop. Volgens Beyers is Muller se “hart vir mense” sigbaar in dié rolprent.

“Die manier hoe hy mense van alle klasse, rasse, maniere en gewoontes dieselfde hanteer, maak van hierdie projek ʼn palet van perspektiewe.”

Pietie Beyers. (Foto: Facebook)

Beyers sê die fliek is ʼn uur buite Montagu in die Karoo op ʼn plaas geskiet. “As die periode wat jy uitbeeld die 1960’s is, gaan dit moeilik wees om te skiet in Kaapstad of Johannesburg, want dinge het nou al ʼn bietjie verander, maar as jy in die Karoo skiet – daai grond wat daar lê is tien teen een dieselfde grond wat al ʼn honderd jaar daar lê. Op ʼn stadium kom jy by ʼn stilte aan wat al ʼn rukkie daar sit.

“Ons het geen selfoonopvangs of elektrisiteit gehad nie en dit het bygedra tot die afgesonderde gevoel op die stel. Ek hoop die rou, aardse gevoel op die stel kom deur in fliek.”

Hy sê hy hou nie van flieks wat pretensieus of “grand” probeer wees nie. “Hierdie fliek is eg en daarom is dit spesiaal.”

Hy voeg by dat dit vir die span van Wesens belangrik was om menslikheid in die fliek te weerspieël. “Dit is iets waarmee ons almal kan vereenselwig. Ek dink daar is baie verskillende stemme in die fliek. Daar is iets van alles en dit wys vir jou dat daar ʼn plek is vir almal.

“Dit was vir my belangrik om deel te wees van iets wat nie homself probeer slim hou nie. Baie goed kan so akademies wees en dan vervreem dit gehore, omdat dit hulle probeer skok of hulle laat dom voel. Wesens wil jou nie wegdruk nie. Dit wil jou met nuwe oë na sekere dinge laat kyk, maar steeds met ʼn warm gevoel laat.”

Wesens begin op Vrydag 23 Oktober in rolprentteaters landswyd en in Namibië draai. Vir ʼn volledige lys van teaters, besoek www.wesens.co.za.

  • Luister na die volledige onderhoud met Pietie Beyers bo-aan hierdie berig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.