Luister: Plaaslike misdaadriller die naweek op die silwerdoek

Irshaad Ally en Monique Rockman in 'n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Irshaad Ally en Monique Rockman in ‘n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Nommer 37 is ʼn misdaadriller wat die storie vertel van Randal (Irshaad Ally), ʼn parapleeg van ʼn fiktiewe gebied op die Kaapse Vlakte, wat geld skuld aan ʼn geldskieter. Randal se tyd om sy skuld te delg loop stadig maar seker uit en hou ook verband met die rede waarom hy in ʼn rolstoel is.

Randal woon in ʼn baie beknopte, beklemmende woonstel op die derde verdieping van Haven Mansions. Sy meisie, Pam (Monique Rockman), gee vir hom ʼn verkyker present om hom te help om sy kluisenaarsbestaan meer draaglik te maak.

Terwyl Randal sy kop breek oor sy finansiële verknorsing, sien hy deur die venster ʼn geleentheid raak wat hom moontlik uit sy penarie kan help.

Irshaad Ally en Monique Rockman in 'n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Irshaad Ally en Monique Rockman in ‘n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

“Randal is sy lewe lank vasgevang in ʼn bose kringloop van slegte besluite,” vertel Benjamin Overmeyer, vervaardiger van Gambit Films wat verantwoordelik is vir Nommer 37. “Een ding lei tot die volgende en die spanning bou deurentyd op.”

Monique Rockman maak in dié fliek haar silwerdoekdebuut as hoofrolspeler en sê sy glo nie daar is regtig ʼn beproefde manier om as aktrise vir só ʼn uitdagende rol voor te berei nie.

“Jy is ʼn vrou op die Kaapse Vlakte met al hierdie gevaarlike elemente om jou. Ons het in klein, warm ruimtes geskiet en was elke dag vir lang ure op die stel. Pam ervaar verskriklik baie emosies en word rof hanteer.”

Sandi Schultz (links) is ook in die fliek te sien. (Foto: Verskaf)

Sandi Schultz (regs) is ook in die fliek te sien. (Foto: Verskaf)

Deur al dié gebeure skemer Pam se liefde vir Randal steeds deur, vertel Rockman. “Dit was nie die maklikste ding ooit nie, maar dit was baie lekker om myself so uit te daag.”

Overmeyer vertel een van die redes waarom Gambit Films dié fliek se draaiboek gekies het, is weens die klein ruimtes waarin dit afspeel. Die fliek is hoofsaaklik op een plek geskiet en die eng, benouende ruimte wat gebruik is, beeld die visie van draaiboekskrywer Nosipho Dumisa uit, wat die storielyn geleen het by Alfred Hitchcock se Rear Window.

“Die fliek het vier weke geneem om te verfilm. Ons het van die begin af geweet ons wil die fliek in die veld skiet en nie in ʼn ateljee nie. Omdat ons in regte woonstelle met klein vertrekke geskiet het, het ons planne beraam om te verseker dat al die toerusting in die klein plekkies pas, maar dat Irshaad en Monique steeds genoeg ruimte het om te speel. Ons het die stel só ontwerp sodat kykers ook daardie benouende gevoel ervaar.”

Nosipho Dumisa, regisseur van die rolprent. (Foto: Verskaf)

Nosipho Dumisa, regisseur van die rolprent. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse dialek in die fliek is eg Kaaps en volgens Overmeyer is die teks geskryf sodat kykers voel hulle kyk na ʼn outentieke verhaal oor die Kaapse Vlakte. “Die draaiboek is eers in Engels geskryf, maar ons het besluit om dit na Afrikaans te vertaal sodat dit kan bydra tot die egtheid van die fliek.”

Danksy die ryk taalgebruik lag fliekgangers soms op onvanpaste oomblikke. “Ironies genoeg breek dié onverwags humoristiese oomblikke die spanning effe, want jy sit deur die hele fliek op die punt van jou stoel. Kaapse mense gebruik dikwels humor as ontvlugting in moeilike situasies.”

Rockman praat met groot lof van Dumisa, wat met Nommer 37 ook haar debuut as vollengte-rolprentregisseuse maak.

Irshaad Ally in 'n toneel uit die rolprent. (Foto: Verskaf)

Irshaad Ally in ‘n toneel uit die rolprent. (Foto: Verskaf)

“Ek en sy het onmiddellik ʼn band gevorm. Die aard van die fliek is baie ‘sensitief’ vir vroue, omdat Pam deur soveel moeilike kwessies gaan. So, om in daardie aspek ʼn vrou te hê wat jou lei, wat jou en waarvandaan jy kom, kan verstaan, was vir my lekker. Ek het veilig gevoel.”

Rockman vertel Dumisa het geweet wanneer dinge dalk vir haar te veel geraak het. “Miskien omdat sy self ʼn vrou is en haarself in my skoene kon plaas. Ons het baie geheg geraak omdat ʼn mens as aktrise baie eerlik met jou regisseur moet wees. Om die rol van Pam te vertolk, moes ek baie eerlik wees met myself, Nosipho en Irshaad, omdat ons die spel so eg moontlik wou hê.”

Sy vertel van Dumisa se sagte regisseursaanslag en sê sy het soms die akteurs se notas in hul ore vir hulle gefluister. “Niemand anders het jou notas gehoor nie. Sy het ook dikwels saam met ons gehuil. Sy het gekyk op die monitor en wanneer Pam en Randal deur moeilike situasies gaan, dan kom Nosipho in trane daar uit.”

'n Toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

‘n Toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Rockman glo Dumisa is “briljant”. “Sy gaan nog baie dinge doen en ek is baie geëerd om in haar eerste vollengtefliek te speel.”

Overmeyer benadruk dat die rolverdeling van die fliek ʼn baie noukeurige proses was, aangesien dit van die akteurs afgehang het om die fliek se verhaalgang te dryf omdat dit meestal op een plek afspeel. “Dit was vir ons uiters belangrik dat elke karakter regtig deur die akteur of aktrise vergestalt word. Ons is al vyf jaar op reis met dié fliek, wat begin het as ʼn kortfliek vir die Silwerskermfees.”

Die talent van verskeie plaaslike akteurs, onder wie Sandi Schultz (BinnelandersNoem my Skollie), Deon Lotz (HansieFaan se Trein), Elton Landrew (Dis ek, AnnaDryfsand7de Laan), Ephraim Gordon (Class Act), Danny Ross (Broken VowsSuidooster), David Manuel (The OutsidersNoem my Skollie) en Amrain Ismail-Essop (This LifeForgiveness) word tentoongestel.

Die rolprent begin vandag in fliekteaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.