Luister: ‘Predikantsvrou’ Henriëtta gesels oor ‘Dominee Tienie’

Henriëtta Gryffenberg vertolk die rol van die predikantsvrou, Ester Benade, in die rolprent 'Dominee Tienie'. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Henriëtta Gryffenberg vertolk die rol van die predikantsvrou, Ester Benadé, in die rolprent ‘Dominee Tienie’. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Henriëtta Gryffenberg, wat alombekend is vir haar rol in die ikoniese Afrikaanse televisiereeks Sonkring en wat ook die skrywer van die uiters gewilde SAUK-drama, Erfsondes is, is nou op die grootskerm te sien as Ester Benadé in die nuwe Afrikaanse rolprent, Dominee Tienie.

Die fliek, wat geskoei is op die eenmanstuk wat deur die skrywer Dana Snyman geskryf is, handel oor ʼn dominee wat in ʼn geloofsdilemma is en wat nie weet of hy nog doeltreffend is nie. Só sê Gryffenberg in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

“Dis op die ou einde ʼn werk en die wêreld om Tienie het verander. Mense gaan al hoe minder kerk toe en uiteraard vra hy homself hoekom en hy blameer homself.”

Die res van die verhaal gaan oor hoe hy homself en sy betekenis moet vind. “As jong man het hy sy hart vir die Here gegee en as jy jonk is, is jy vol passie, maar dan gebeur die lewe.”

Gryffenberg, wat in 1993 in Orkney Snork Nie! 2 (Nog ʼn movie) ook teenoor Frank Opperman, wat die rol van dominee Tienie vertolk, gespeel het, vertel dit was vir haar ʼn belewenis om weer teenoor Opperman te kon speel.

“Frank is die soort akteur wat só ʼn fyn aanvoeling het wanneer dit kom by wat jy as sy medespeler nodig het. Hy is ongelooflik beskermend én vrygewig met sy talent. Ek het op die stel aangekom en ek was bang, want ek het lanklaas gespeel. Ek het pas my pa verloor nadat hy vir twee maande lank siek in die hospitaal was. Ek was so vodde, ek het niks meer oorgehad nie. En hierdie man het my net so laat lag en my so baie gehelp met die toneel waarin ek hom moes uittrap.”

Gryffenberg brei uit oor dié treffende toneel. “Ester is ʼn uitsonderlike vrou. Sy is ʼn musiekonderwyseres, maar sy kon ʼn konsertpianis geword het. Sy het al hierdie dinge egter opgeoffer om predikantsvrou te wees. Ons ontmoet haar in die verhaal waar sy soveel jare later al so voos geslaan is daardeur om mev. Dominee te wees. Sy sien haar man is besig om te kwyn en sy kan niks daaraan doen nie en sy kan nie tot hom deurdring nie. Sy kom uiteindelik op die punt waar sy vir hom sê: Word wakker.”

Sy vertel sy het die rol van Ester losgeslaan toe die regisseur van die rolprent, Sallas de Jager, haar genader het. “Hy het my gebel en gesê: Doen dit. Ek het gedink hy is mal, want niemand wil my gebruik nie, en hier kom hy nou en vra vir my om hierdie rol te speel. Ek weet nie wat het hom besiel nie, maar ek is baie dankbaar.”

Frank Opperman, Thapelo Mokoena, Henriëtta Gryffenberg en regisseur Sallas de Jager tydens die première van die rolprent 'Dominee Tienie'. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Frank Opperman, Thapelo Mokoena, Henriëtta Gryffenberg en regisseur Sallas de Jager tydens die première van die rolprent ‘Dominee Tienie’. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Gryffenberg besing ook De Jager, wat ook aan die stuur was van rolprente soos Roepman, Musiek vir die Agtergrond en Free State, se lof as regisseur. “Hy laat jou voel dat hy jou vertrou. Hy het hierdie wonderlike manier om jou te laat gaan en met klein dingetjies bring hy jou terug op die pad. Ek is gek oor daai man en ek hoop ek werk weer saam met hom.”

Sy benadruk dat Dominee Tienie nie ʼn fliek is wat slegs gaan oor gelowige mense agter die boereworsgordyn nie. “Dit gaan nie net oor al die ou, geykte waardes nie, want ʼn mens kan maklik daarteen vaskyk. Die strekking van die fliek gaan oor alle Suid-Afrikaners en waar ons ons tans bevind, dat ʼn mens so half amper koers verloor het en dat jy nie eintlik meer weet of jou bydrae enigsins meer waarde het nie.

“Hoe kan een mens die wêreld verander? Hoe kan een gesin die wêreld verander? Hierdie fliek wys dit is moontlik. In vandag se dag en tyd waar daar soveel haat is en onmin wat gesaai word, is die resonansie van Dominee Tienie se boodskap so ongelooflik belangrik. Nié net vir Afrikaanssprekende kykers nie, maar vir alle Suid-Afrikaanse kykers.”

Gryffenberg speel die laaste drie jaar in ʼn Leon van Nierop-radiodrama op RSG getiteld Hartebreker, en beplan ook om later vanjaar ʼn toneelstuk op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees te doen saam met Lizz Meiring en Jak de Priester, maar dit is die rol van Karen in Sonkring waarvoor sy steeds op straat herken word. “Dis 30 jaar later en mense kom steeds na my toe en sê: Ek is só vies vir jou!”

Sy vertel laggend van ʼn brief wat wyle Jan Scholtz, regisseur van Sonkring, destyds voor sy dood vir haar geskryf het. “Ek het deur al my bokse gegaan en afgekom op ʼn pragtige brief van Jan, waarin hy my bedank vir my spel in Sonkring en so aan, en in dié brief gee hy vir my vaderlike advies. Hy vra ek moet asseblief nie weer sulke rolle soos dié een wat hy vir my geskryf het in Sonkring, as die feeks, aanvaar nie, want hy wil nie hê ek moet getipeer word as ʼn feeks nie. Die ironie is dat Sonkring al soveel jare oor en oor uitgesaai word en dit sit só diep in die psige van Afrikaanssprekende kykers, dat dit presies is wat gebeur het! Jan is nou nie meer met ons nie, maar ek wil vir hom sê: Jan, dit het nie gewerk nie!”

Dominee Tienie begin Vrydag, 25 Januarie, in fliekteaters landwyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.