Luister: Prettige aanlyn fliekresensies vir Jan Alleman

Luan Lauw en Pierre Malan is die aanbieders en resensente van ‘Kritikus’. (Foto: Facebook)

Elrich Yssel, Luan Lauw en Pierre Malan het mekaar jare gelede op rolprentskool ontmoet en het destyds al besef dat hulle ʼn gedeelde passie vir rolprente en ʼn sin vir humor koester.

Dié drie vriende gaan fliek so gereeld saam dat hulle besluit het om ʼn aanlyn fliekresensieprogram te vervaardig wat ʼn prettiger aanslag het as algemene fliekresensies. Só is die konsep vir Kritikus gebore en is dit nou op die nuwe Afrikaanse stromingsdiens Dapper Media en Facebook te sien.

Malan en Lauw is die aanbieders en resensente van die program, terwyl Yssel die regie behartig.

“Ek en Pierre wou ʼn plan beraam sodat ons gedurende werksure kon gaan flieks kyk,” skerts Yssel, wat saam met Malan werksaam is by Forum Films. Die maatskappy is die vervaardigers van die program.

“Ons is baie lief vir rolprente en ons praat elke liewe dag oor flieks. Ons het nog altyd gesê ons wil hierdie gesprekke verfilm, aangesien ons voel ons het ʼn ander perspektief as ander resensente daar buite. Die tipe resensies wat mense lees of na kyk is gewoonlik baie ernstig met dieselfde soort kritici, en ons wou juis iets anders doen op ʼn baie meer humoristiese manier.”

Elke resensie skop af met ʼn humoristiese skets, wat hulle self skryf en waarin hulle ook die rolle vertolk.

Elrich Yssel en Luan Lauw in ‘n skermgreep uit een van ‘Kritikus’ se resensies.

“Baie mense wonder bloot of ʼn sekere fliek lekker gaan wees om te kyk en is nie altyd lus vir diepte nie. Dit is ook baie duur om te gaan fliek, so ons wil vir mense sê of dit die geld werd is om ʼn sekere fliek te gaan kyk,” verduidelik Malan die eenvoudige idee agter Kritikus se humoristiese resensies.

Lauw voeg by dat die resensies strook met vandag se internetkultuur. “Mense is deesdae baie visueel ingestel, en veral jonger mense wil graag na video’s kyk op YouTube of Instagram,” sê hy.

Tog, sê Yssel, is dit Malan en Lauw se sin vir humor wat soos ʼn goue draad deur die resensie loop en dit is nie die geval dat hulle doelbewus probeer snaaks wees nie.

“Dit is hulle persoonlikhede wat ons inkorporeer in die resensie self, so baie keer dwaal hulle van die onderwerp af wat gewoonlik iets komieklik tot gevolg het.”

Die trio sê hulle fokus daarop om verskillende genres van flieks te resenseer, hoewel hulle erken dat dit moeilik is om grappe te maak van die meer ernstige flieks. “Hoe slegter die fliek is, hoe makliker is dit om die spot daarmee te dryf,” sê Lauw.

Malan beaam dit. “Ons ken die proses van flieks maak redelik goed, so al is ʼn fliek goed kan ʼn mens steeds grappe daaroor maak.

“Ons is dankbaar dat Dapper Media ons die vryheid gee om ʼn fliekresensieprogram te maak in Afrikaans. Ons het almal ʼn baie groot liefde vir Afrikaans, al is ons taal nie altyd suiwer nie. Ons gaan seker ʼn paar taalpuriste warm onder die kraag kry,” sê Yssel.

“Daar is ʼn hele paar Afrikaanse regisseurs wat ons resensies volg en dit is presies wat ons wou bereik. Ons kry goeie terugvoer, want almal het daagliks ʼn bietjie nodig om te lag.”

Kritikus is te sien op Facebook, Instagram TV en Dapper Media.

  • Elrich Yssel, Luan Lauw en Pierre Malan het in die Maroela Media-ateljee met Leonie Bezuidenhout gesels. Luister na die volledige onderhoud bo aan hierdie berig.

Kyk hier na Kritikus se fliekresensie van Birds of Prey, met Margot Robbie in die hoofrol.

Kritikus – Birds Of Prey

Luan en Pierre gesels oor die nuutste, mooiste Margot Robbie en haar film, Birds of Prey.#DapperMedia #ForumFilms

Posted by Kritikus on Tuesday, February 18, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.