Luister: Rolanda Marais oor rol in ‘Poppie Nongena’

Rolanda Marais. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Poppie Nongena is die jongste Afrikaanse rolprent wat eersdaags op die silwerdoek te sien is en alles dui daarop dat kykers aangegryp sal word.

Die rolverdeling vir die fliek is sterbelaai, met gesoute Suid-Afrikaanse aktrises soos Clementine Mosimane, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, Nomsa Nene en Letlotlo Zimkhitha Mohlabeng in die hoofrolle.

Dawid Minnaar, Thembalethu Ntuli en Chris Gxalaba is ook die rolprent te sien.

Poppie Nongena vertel die verhaal van ʼn Afrikaanssprekende Xhosa-vrou wie se lewe om haar gesin draai terwyl sy probeer om stabiliteit te vind in ʼn era van ondraaglike onrus in Suid-Afrika. Dit speel in ʼn tyd af waarin swart vroue deur boetes, arrestasies en gedwonge verskuiwings gedwing is om hul tuistes te verlaat om in afgeleë gebiede, die sogenaamde swart tuislande, ʼn nuwe lewe te gaan begin.

Wanneer Stone (Chris Gxalaba), Poppie se man, te siek word om te werk, beskou die owerhede haar skielik as ʼn onwettige burger in haar eie land. Sy voer ʼn desperate stryd om wettiglik te mag aanbly, al beteken dit sy moet van huis na huis trek en gedurig aansoek doen vir permitte en verdere uitstel. Poppie werp alles in die stryd om nie van haar kinders geskei te word nie.

Maar uiteindelik word sy vasgevang in die spervuur van haar kinders se behoeftes, haar man se siekte, ʼn gemeenskap se woede en onderdrukkende wette. In 1976 – net toe die onluste uitbreek – word Poppie uiteindelik gedwing om die stryd gewonne te gee.

Die fliek is geskoei op die roman Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert. Dié roman word steeds beskou as baanbrekerswerk in die Afrikaans letterkunde. Die draaiboek is geskryf deur die veelbekroonde dramaturg en regisseur Christiaan Olwagen en Saartjie Botha en die regie is ook deur Olwagen behartig.

‘n Toneel uit die film ‘‘Poppie Nongena’. (Foto: Verskaf)

“Poppie is ʼn vrou wat ten spyte van alle teëspoed en teen alle verwagtinge in nog steeds haar menslikheid en waardigheid behou en bo uitkom as gevolg van haar geloof en haar baie sterk sin van wie sy is en waar sy vandaan kom,” sê Rolanda Marais in ʼn onderhoud met Maroela Media. Sy vertolk die rol van Magriet Swanepoel.

Sy neem ʼn diep asemteug voor sy vertel oor Magriet, die suster van Antoinette Swanepoel, wat vertolk word deur Anna-Mart van der Merwe.

“Sy is nie oorspronklik in die boek nie. Dit is ʼn karakter wat ingeskryf is en sy is verteenwoordigend van ʼn soort mens wat nie altyd bewus is van die impak wat hulle woorde teenoor ander mense het nie. Sy is ʼn bietjie van ʼn leeglêer en ambisielose bedorwe brokkie as jy my vra,” sê Marais.

Marais gee toe dat sy geensins met Magriet kon vereenselwig nie. “Ek het onmiddellik vir Christiaan ja gesê toe hy my nader vir die rol, maar toe ek die teks lees het ek besef ek hou niks van haar nie. Ek wou kop uit trek, maar per slot van rekening is dit my werk om ʼn karakter te wees, al hou ek nie van haar nie.”

Sy vertel die eerste keer wat sy die rolprent gesien het, was sy oorweldig omdat sy so min weet van wat werklik in daardie tydperk in Suid-Afrika gebeur het. “Ons het ʼn bietjie in watte toegedraai grootgeword en dit is belangrik om bewus te raak van die stories van die mense wat vir ons werk. Ek dink dit hou ʼn spieël op sodat ons kan aanbeweeg en nie dieselfde foute te maak nie.”

Poppie Nongena begin op 31 Januarie in fliekteaters landswyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.