Luister: Rolprentmaker vertel oor ‘Dominee Tienie’

Frank Opperman, Thapelo Mokoena, Henriëtta Gryffenberg en Sallas de Jager tydens die première van die fliek. (Foto: Maroela Media/Tania Heyns)

Die rolprentregisseur Sallas de Jager, wat bekend is vir sy flieks soos Verraaiers, Free State, Musiek vir die agtergrond en Roepman, het reeds in 2017 die solo‑teaterstuk, Die klaagliedere van dominee Tienie Benadé, begin aanpas vir die silwerskerm – dié fliek, Dominee Tienie, is nou in fliekteaters landwyd te sien.

Die klaagliedere van dominee Tienie Benadé is uit die pen van die geliefde Afrikaanse joernalis en skrywer, Dana Snyman, en dié solostuk is al vir jare te sien op die verhoog met die akteur Frank Opperman in die titelrol.

Opperman vertolk ook die hoofrol in die rolprent teenoor bekende akteurs soos Henriëtta Gryffenberg, Deon Lotz, Paul Eihlers, Annette Engelbrecht, Luan Jacobs en Izel Bezuidenhout.

“Dominee Tienie gaan oor ʼn middeljarige dominee wat deur ʼn worsteling gaan in die sin van dat hy nie weet of hy regtig ʼn verskil maak in enigiemand se lewe nie. Hy moet dan sy selfvertroue terug kry en die rolprent vertel die storie van hoe hy dit regkry,” vertel De Jager in ʼn onderhoud met Maroela Media.

De Jager vertel hy het destyds die solostuk op die planke gesien en dié stuk het hom dadelik aangegryp. Hy het toe reeds met die idee om dit in ʼn vollengte rolprent te omskep in sy kop geloop.

“Ek was ʼn kind in die tagtigs en vroeë negentigs in Bronkhorstspruit. Die hele idee rondom ʼn predikant wat worstel met waar hy inpas of wie hy is, het my dadelik aangegryp, want in my verwysingsraamwerk in die wêreld waar ek vandaan kom, is dit die laaste ou wat wonder wie hy is en waar hy inpas,” verduidelik De Jager.

“As jy begin delf in hoe die wêreld verander het vir mans van my generasie, tussen die ouderdomme van 35 en 45, is die wêreld waarin ons grootgeword het en die wêreld waarin ons nou die volwassenes moet wees, totaal en al verskillend. ʼn Mens kan baie maklik verlore raak in hierdie tipe van politiek-korrekte wêreld waarin ons leef wat heeltemal verskil van hoe ons grootgeword het.”

Hy vertel toe hy en Opperman aan sy karakter begin skaaf het, het hy vir hom gesê dit is belangrik dat hy moet verstaan dominee Tienie kan ook ʼn loodgieter, prokureur of sakeman wees. “Dit gaan daaroor om jou identiteit weer van binne af buitentoe te bring en dan is dit, snaaks genoeg, baie makliker om jou plek in die wêreld te vind: As jy weer kan teruggaan na die goed wat vir jou die belangrikste is.”

Die bou van die karakters in Tienie se lewe het De Jager ook aangetrek om die eenmanstuk aan te pas vir die grootskerm. “Die karakters vorm hom en word die klippe in die pad. As daar nie klippe in die pad is nie, dan is dit te maklik. Die karakters is almal mense wat ek goed ken. As skrywer en dan in jou rol as regisseur, waar jy die karakters vorm in ʼn rigting en die manier wat hulle dinge doen, is dit belangrik om te weet jy moet lief wees vir hierdie mense. Jy moet verstaan waar hulle vandaan kom. Daar is nie iets in die wêreld dat iemand net goed of net sleg is nie – dit bestaan nie.”

Die karakter van Tienie se vrou, Ester, wat vertolk word deur Henriëtta Gryffenberg, was vir hom een van die grootste uitdagings tydens die skryfproses. “Vrouens se beweegredes is baie anders as mans sʼn. In hierdie geval moes Ester die katalisator wees wat Tienie dryf om ʼn verandering te maak. Nie net vir homself nie maar ook vir die mense om hom.”

Sallas saam met sy dogtertjies, Marli en Lisa, tydens die première van 'Dominee Tienie'. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Sallas saam met sy dogtertjies, Marli en Lisa, tydens die première van ‘Dominee Tienie’. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Om vroulike karakters te skryf, moet hy wanneer hy tussen mense is, nét na hulle luister. Hy lees ook graag en kyk na televisiereekse en flieks wat deur vrouens geskryf en geregisseer word.

“Ek sal byvoorbeeld ook saam met my vrou en my twee dogtertjies na ʼn televisiereeks kyk en as iets gebeur, hulle dophou. Ek is ook nie bang om te vra as ek onseker is oor iets nie. Vanuit ʼn skrywersoogpunt is vrouens ongelooflik, want nie een is dieselfde nie en nie een het dieselfde beweegredes vir hoekom hulle goed doen nie. Dit gee jou soveel opsies.”

Oor die terugvoer wat hy reeds oor die rolprent ontvang het, is hy baie positief. “Ek sal seker eers die ware impak wat die fliek op mense het oor ʼn jaar van nou af kan waardeer. Op hierdie stadium is ek baie dankbaar oor al die mooi goed wat mense oor die fliek te sê het. Ek kan net namens die hele span vir mense wat die vrymoedigheid gehad het om die fliek te gaan kyk, dankie sê. Ons maak uiteraard die fliek vir die grootskerm en daarom wil ek vir mense bedank dat hulle die tyd neem om die fliek op die grootskerm te gaan kyk.”

Hy vertel Snyman het hom vrye teuels gegee om die draaiboek aan te pak. “Dit was vir my spesiaal om te sien hoe die rolprent hom geroer het. Ek was baie bang, want dit is Dana Snyman wat een van die geliefste skrywers in die land is en Die klaagliedere van dominee Tienie Benadé was seker een van die suksesvolste teaterstukke in die afgelope 10 jaar. Jy moet jou skoene uittrek as jy op daardie heilige grond wil loop en dit was van die begin tot die einde ʼn reusevoorreg.”

Dominee Tienie is nou landwyd in fliekteaters te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

RHG ·

‘n Storie wat jou aangryp. Ek beplan om dit weer te gaan kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.