Luister: SA gruwelfliek maak opslae

Die kinemtograaf Jorrie van der Walt op die stel van ‘Gaia’. (Foto: Verskaf)

Sedert die Suid-Afrikaanse rolprent Gaia in Maart verlede jaar op die hoog aangeskrewe South by South West-fees in die VSA gedebuteer het, het dié grensverskuiwende fliek wêreldwyd lof en entoesiastiese resensies ontvang.

Gaia het in Desember Variety en Forbes se lyste vir die tien beste rillers van 2021 gehaal. Die fliek het ook koning gekraai op vanjaar se Silwerskermfees toe dit as die beste vollengte rolprent aangewys is en met die pryse vir die beste regisseur (Jaco Bouwer), beste grimering en haarstilering (Sulani Saayman), asook klankontwerp (Tim Pringle) en redigering (Leon Visser) weggestap het.

“Die fliek raak baie kwessies aan. Daar is veral ʼn sterk boodskap daarin oor wat die mensdom besig is om aan die natuur te doen. In Gaia is dit eintlik dan die natuur wat terugveg teen die mensdom,” sê Jorrie van der Walt, kinematograaf en medevervaardiger van Gaia.

Gaia gaan nie oor ʼn liefdevolle aardmoeder nie. Dit is ʼn ekologiese gruwelfantasie wat die mens se geskiedenis irrelevant maak.

Die fliek gaan oor Gabi, ʼn natuurbewaarder, wat op ʼn roetine-patrollie in ʼn wildernisgebied ʼn kluisenaarpa en -seun ontmoet wat ʼn post-apokaliptiese leefstyl volg. Hulle volg skynbaar hul eie godsdiens in ʼn geheimsinnige verhouding met die natuur. Vele aspekte van hulle bestaan is verdag, maar wanneer hulle skuiling een nag deur vreemde, onmenslike wesens aangeval word, besef sy dat daar ʼn groter bedreiging in hierdie ontluikende wildernis skuil.

Van der Walt het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel waarom dit so ʼn merkwaardige prestasie is om by die South by South West-fees te kon wys. Hy gesels ook oor die prys vir kinematografie wat aan hom toegeken is en hy sê watter kykers hierdie fliek sal geniet.

“Die South by South West-fees is een van die vyf toprolprentfeeste ter wêreld. Om eerstens daar te kon inkom was op sigself ʼn prestasie, maar toe Gaia uit die120 flieks wat daar gewys het die prys vir kinematografie wen, was dit ongelooflik.

“Ek dink die wonderlike ding van die prys en internasionale blootstelling is om te wys dat Suid-Afrikaanse rolprente wel op daardie vlak kan meeding. Ons hoef nie terug te staan in ons tegniese vaardighede en die uitdagings wat ons het nie. Dit was eintlik net daardie bevestiging wat ʼn mens soms nodig het,” sê Van der Walt.

Hoewel die verwysing na ʼn gruwelfliek sommige kykers kan afskrik, meen Van der Walt dat enigiemand dit sal geniet wat graag ʼn boodskap in flieks wil hoor.

“Kykers moet dit nie afskiet as gevolg van die genre nie. Ek wil mense aanmoedig om die fliek ʼn kans te gee en daarna te kyk. Dit is ʼn fliek wat jou op die punt van jou stoel hou en lank na die tyd nog in jou gedagtes gaan bly.”

Die riller is tans op DStv Box Office te sien.

Kyk hier na Floris Groenewald se resensie van Gaia:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.