Luister: SA’ners se gruwelprent trek aandag oorsee

Henk Pretorius en Llewelynn Greeff. (Foto: Paul Harries)

Die Suid-Afrikaanse regisseur en skrywer, Henk Pretorius, en vervaardiger, Llewelynn Greeff, se nuwe rolprent The Unfamiliar het pas rolprentgrense verskuif deur ʼn internasionale verspreidingsooreenkoms vir dié fliek los te slaan.

The Unfamiliar sal versprei word deur Lionsgate VK en Vertical Entertainment in Noord-Amerika, en verteenwoordig word deur Scoundrel Media, die afdeling van Myriad Pictures wat internasionale verkope behartig.

Pretorius het voorheen flieks soos Leading Lady, Fanie Fourie’s Lobola en Bakgat geregisseer terwyl Greeff Leading Lady en Modder en Bloed se vervaardiging behartig het.

The Unfamiliar is ʼn gruwelprent wat handel oor ʼn Britse weermagdokter (vertolk deur Jemima West) wat terugkom van die oorlog af en dink dat sy aan posttraumatiese stresversteuring ly, net om te ontdek dat daar bose geeste in haar huis is. Die lewe wat sy voorheen geken het, word ingrypend verander.

Dié twee rolprentmakers woon die afgelope paar jaar in Brittanje, waar hulle aan die stuur is van die vervaardigingsmaatskappy Dark Matter Studios. Dié maatskappy is in 2012 gestig en spesialiseer in teikengerigte rolprente en televisie-inhoud vir gehore oor die hele wêreld.

Barend Kruger, finansiële direkteur van Dark Matter Studios, is ook medevervaardiger van The Unfamiliar.

“Die inspirasie vir die fliek is die vrees wat mense vir die onbekende koester. Die gruwelprent het my uit my gemaksone as regisseur gedwing. Die tema van die ewige soektog na ʼn eietydse identiteit is ook iets wat ek met die hoofkarakter gemeen het,” sê Pretorius.

Greeff vertel die Amerikaanse kontrakte is ʼn groot mylpaal. “Dit is ʼn baie moeilike mark om jou rolprent in te kry en ek sou sê The Unfamiliar het definitief al die bestanddele wat hulle nodig gehad het om die verspreidingsooreenkomste met ons te sluit.”

‘The Unfamiliar’ se plakkaat.

Hy sê daar is wesenlike verskille tussen die plaaslike rolprentbedryf en die een in Brittanje. “Dit is vir ons  ʼn groot voorreg om in Brittanje te kan werk. Die groot verskil tussen Suid-Afrika en Brittanje [se rolprentbedrywe] is die diepte wat jy in jou spanne daar het. Daar is ongelooflik baie mense in Brittanje wat in die bedryf werk. Natuurlik is dit ʼn baie meer gevestigde bedryf. Dit is ook een van die lande wat baie van die talent oor die wêreld lok, maar dit is nie te sê dat ons nie ons tyd in Suid-Afrika geniet nie. Ons vervaardig tans in Suid-Afrika en in Brittanje,” voeg Greeff by.

Pretorius gee ook raad vir voornemende rolprentmakers. “Die bedryf is baie mededingend en daar sal altyd iemand wees wat jou probeer terughou. Die geheim is om nie vir hulle te luister nie, om te fokus op dit wat jy gebore is om te doen en om nie moed op te gee nie. Dit was nog altyd my droom om ʼn internasionale rolprent te maak,” sê hy.

Kirk D’Amico, voorsitter en uitvoerende hoof van Myriad Pictures, meen dat hulle baie opgewonde is om betrokke te wees by die internasionale verspreiding van The Unfamiliar.

“Henk [Pretorius] se rolverdeling is puik – veral Jemima West wat die hoofrol vertolk. Ons is ook baie opgewonde om saam met die talentvolle span by Dark Matter Studios te werk.”

Scoundrel Media sal The Unfamiliar op die Cannes Virtual Market vrystel en dit word op 21 Augustus in die VSA deur Lionsgate VK en Vertical Entertainment versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.