Luister: Schuster sê ‘Frank and Fearless’ is ‘anders’

Leon Schuster is Sonny Frank. (Foto: Verskaf)

Leon Schuster is Sonny Frank. (Foto: Verskaf)

Die uiters gewilde akteur en fliekmaker Leon Schuster, wat bekend is vir sy lawwe en uitspattige komedies, se jongste fliek, Frank and Fearless, begin vandag in fliekteaters landwyd draai.

Die fliek handel oor ʼn ou sjef, Sonny Frank (Schuster), en ʼn jong seun, Fearless (Themba Ntuli), wat ʼn tog afsit na Pretoria om met die ambassadeur van Nambodia, ʼn fiktiewe land, af te reken en gevange te hou tot hy renosterstropery beëindig. Saam met hulle op hierdie missie is twee viervoet-vriende, wat bydra tot die pret en hart van die verhaal.

Reini is ʼn babarenoster wie se ma deur stropers doodgemaak is en Dog is Fearless se lojale swart brak. Wanneer dinge egter lelik skeefloop, word hulle gedwing om ʼn peloton genadelose stropers aan te vat, onder wie die skrikwekkende ekswildbewaarder, Dolf (Kenneth Nkosi), met wie Sonny ʼn “geskiedenis” het.

“Dit is ʼn heerlike gesinskomedie met hart en emosie,” vertel Schuster in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media.

Themba Ntuli is Fearless. (Foto: Verskaf)

Themba Ntuli is Fearless. (Foto: Verskaf)

“Die fliek is spesifiek gemik op kinders, met ʼn baie belangrike boodskap teen renosterstropery,” vertel hy opgewonde. “Dit is wat Frank and Fearless anders maak as enige ander Schuster-fliek wat ek al vantevore aangepak het. Dit was ʼn waagstuk, maar ons glo in onsself en het al uitstekende terugvoer gekry.”

Hy kan nie uitgepraat raak oor Ntuli se spel in dié fliek nie. Ntuli het naam gemaak in die fliek Meerkat Maantuig. “Klein Themba is uitstekend in sy rol. Ek het binne die eerste paar dae so gemaklik gevoel saam met hom. Hy is ʼn wonderlike mens met ʼn sagte geaardheid.”

Die regisseur van die fliek, Gray Hofmeyr, het Schuster gehelp met sy karakterinkleding vir die rolprent. “Hy het vir my gesê ek moet meer na ʼn kok lyk, met lang grys hare. Ons het saam die karakter voor die spieël uitgewerk, met ʼn lekker baard en ʼn snor. Ek het ook baie geëet en ʼn boepens bygekry. Gray het my baie goed in die rol gelei.”

Hierdie rolprent, uit die pen van Schuster, Hofmeyr en Geoff Newton, is geskep deur ʼn dinamiese span rolprentkundiges, met bekroonde fliekmaker Hofmeyr (Jock of the BushveldSweet and ShortThere’s a Zulu on my Stoep) as regisseur en André Scholtz en Menzi Thabede as vervaardigers.

Frank and Fearless begin Vrydag 23 November in 95 rolprentteaters landwyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hendrik van George ·

Ek bly maar vêr weg van enige Schuster fliek – slapstick op sy ergste……

alida ·

Daar is nie ‘n wet wat bepaal jy moet dit gaan sien nie. Bly dan weg as jy wil.

Paul ·

En natuurlik ‘n holruggeryde tema. Niks oorspronkliks nie.

Gert ·

Ek gaan dit se sy rolprente is deesdae net common kan nie eers n ander woord vir dit se.

Joe ·

Nee wat ek het al jaaaaare terug gestop om sy flieks te kyk, jare gelede was dit snaaks, maar dié wat hy “storielyn” probeer maak is belaglik swak.

DB Jaeger ·

Wat is jou punt nou eintlik Alida? Van die ouens gee net hulle opinies. Maak soos jy predik en moenie geforseerd voel om te reageer nie.

Susan ·

Ek gaan eerder tandarts toe as om na sy fliek te gaan kyk. Dit is minder pynlik.

Kabouter ·

Nee wat Leon. Jou humor is bietjie common en afgesaag. Jammer gaan nie kyk.

Tinus ·

Kyk ek voel ook dat sy beste flieks die was soos you must be joking … maar ja ek dink as hy vandag so iets probeer sal hulle hom skiet .

Ook ja ek stem baie goed is altyd selfde oor en oor maar ja darm doen die man iets nog !! Vir sy ouderdom pak hy nog baie aan.

Annelene ·

Ag nee regtig, ek skenk eerder my geld vir liefdadigheid. Leon se flieks is lankal nie meer snaaks nie

Gatvol Boer ·

Leon, vat die een op die ken en besef jy is klaar met die bedryf aangesien al jou flieks dieselfde baie afgesaagde storielyn is. Jou tyd is verby

Oujongvrou ·

En niemand val meer vir die gemengde swart en wit nie. Dis so afgesaag

Netso ·

Ek sê na elke Leon Schuster fliek “nooit weer nie, dis nou die laaste! ” maar iewers kom dit dan op tv later dan kyk ons maar! Ou Leon jy is steeds my held met jou rugby liedjies en gespot met spietkops toe ñ speed-trap nog ñ gat_so_meter genoem was maar regtig tree asb af jy maak my lam om altyd so aangeplak- polities korek te wees en dit op ons blankes af te wurg in jou flieks!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.