Luister: Sean-Marco is ‘Vergeet my nie’ se ‘kaalvoetklong’

Sean-Marco Vorster. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Met sy lenige lyf en aantreklike glimlag het Sean-Marco Vorster lankal hartebrekerstatus op die Suid-Afrikaanse silwerdoek bereik. Hy was te sien in die rolprente Strikdas, Die windpomp en Susters en nou vertolk hy die hoofrol in die lankverwagte romantiese rolprent Vergeet my nie.

Vergeet my nie is geskoei is op die ware liefdesverhaal van Hugo Derks en sy vrou, Mardaleen.

Vorster, wat ook te sien was as Nico in die gewilde kykNET-dramareeks Alles Malan, vertolk die rol van Hugo, ʼn Namibiese boer wat ʼn ambisieuse stadsmeisie se hart verower terwyl hulle saam in Londen werk en toevalling in dieselfde kommune woon.

In sy plakkies en kortbroeke lyk Hugo heel uit plek uit in die strate van koue Londen. Vorster vertel dit het hom ook opgeval toe hy die teks vir die rolprent gelees het.

“Hugo is plat op die aarde. Toe ek die teks gelees het, het ek gedink sjoe, dié ou is nogal dikwels kaalbolyf. Maar toe ek na ou foto’s van hom gaan kyk toe hulle in Londen was het ek gesien dit is net hoe hy is – hy is ʼn kaalvoetklong,” sê Vorster.

“Hugo het in Londen beland, want hy het baie lank studeer. Sy pa het toe vir hom gesê as hy sy eie bakkie koop kon hy terug gaan plaas toe in Namibië [sodat hy weer kon gaan boer]. So hy het gaan werk in Londen vir sakgeld om sy eie bakkie te koop.”

Vorster gee toe dat dit “vreemd” voel om die rol van ʼn persoon te vertolk wat die fliek gaan sien. Vorster en aktrise Marguerite van Eeden, wat die rol van Mardaleen vertolk, het die egpaar ontmoet toe hulle gedeeltes van die fliek in Namibië geskiet het.

“Ons het vooraf vir mekaar stemboodskappe gestuur, maar ons het eers nader aan die einde van die skietproses mekaar ontmoet. Ek was bly daaroor, want dit het my kans gegee om die karakter ook my eie te maak.”

Sean-Marco Vorster en Marguerite van Eeden speel die rolle van Hugo en Mardaleen Derks, ‘n egpaar van Namibië. (Foto: Verskaf)

Vorster moes vir sy rol ook ʼn Namibiese aksent aanleer. “Hugo het skoolgegaan op Potchefstroom, so sy aksent is nie so sterk nie. Ek het wel ʼn dialekafrigter gehad wat my gehelp het. Ek het eintlik so min gedoen met die aksent, maar ek wou graag meer soos ʼn egte Namibiër klink.”

Vorster is vol lof vir André Velts, regisseur van Vergeet my nie, en sê dit was een van die hoogtepunte van sy loopbaan om saam met Velts te werk. Velts was ook verantwoordelik vir rolprente soos Jou Romeo, Die Pro en Knysna.

“Om toneel te speel is moeilik, want jy kom op die stel aan met jou hart op jou mou. Jy raak amper half kind, want jy wil rondspeel met emosies en jy is heeltyd in hierdie emosionele staat. André het ons so veilig laat voel en ons gehelp, gesê wanneer ons heeltemal belaglik raak en wanneer ons goed is.”

Die span van Vergeet my nie het ook in Londen gaan draai om tonele vir die fliek daar te skiet. “Ons het gewerk vir ons geld terwyl ons daar was, ons het lang dae gehad en almal wou natuurlik die fliek so goed maak as moontlik. Dit was besonders. Ek ag myself baie bevoorreg dat ek kon reis vir werk.”

Vergeet my nie is tans te sien in fliekteaters landswyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.