Luister: ‘Skemerson’ se Pietie en Elize: ‘Dis nie maklik om plek van vrede te vind’

Pietie Beyers en Elize Cawood kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Pietie Beyers en Elize Cawood kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Depressie is ʼn siekte soos enige ander siekte; ʼn mens hoef nie skaam te wees om hulp daarvoor te soek nie. Dít is die boodskap van die splinternuwe Afrikaanse rolprent, Skemerson, wat geestesiektes met empatie, respek en integriteit behandel.

Pietie Beyers (Sella), Elize Cawood (Ma) en Anneke Weidemann (Emma) vertolk onderskeidelik die hoofrolle in dié fliek, waarvan die draaiboek uit Beyers se pen is.

Beyers vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media die rolprent is ʼn “ervaring”, omdat dit so ʼn gevoelvolle en sielvolle fliek is. “Dit is ʼn hele ervaring vir jou sintuie – die klank en visuele aspek is ontsettend ryk en mooi en die fliek is baie rou,” sê hy.

Volgens Beyers handel die fliek oor drie karakters, wat al drie op kwesbare en weerlose tye in hulle lewens is en elkeen op sy eie tipe kruispad is. “Hierdie drie mense ontmoet mekaar toevallig op die Bloukransbrug op die Tsitsikamma-kus in die Oos-Kaap, waar hulle dan ʼn naweek saam deurbring en elkeen se lewens in ʼn ander rigting stuur op grond van hulle interaksie met mekaar.”

Hy vertel dat die fliek enig in sy soort is en dat dit is wat die fliek spesiaal maak. “Die fliek is vars. Daar is nie een vloekwoord, ʼn stukkie naaktheid of geweld in nie en tog is dit een van die rouste flieks wat jy sal kyk. Dit sê vir jou iets oor die inhoud van die fliek en die egtheid daarvan.”

'Skemerson' word by dié fliekteaters landwyd vertoon.

‘Skemerson’ word by dié fliekteaters landwyd vertoon.

Beyers vertel hy het die draaiboek geskryf toe hy homself op ʼn plek bevind het waar hy self gesukkel het met sy eie geestesgesondheid. “Ek hoop dit is ʼn fliek wat vir mense meer insig sal gee oor waardeur mense gaan. Almal het hulle eie stel uitdagings, of dit nou emosioneel, sielkundig of finansieel is. Skemerson wil mense gerusstel en vertroosting bied dat dit oukei is om jou eie unieke stel uitdagings te hê – dit maak jou nie weird nie.”

Hy vertolk die rol van Sella, wat sy eie lewe wil neem op die Bloukransbrug. “Die naam beteken in Hebreeus ‘plek van vrede’ en die karakter is in ʼn angsworsteling van skuldgevoelens en waar hy homself geestelik bevind is ʼn totale teenpool van wat sy naam beteken. ʼn Plek van vrede is waarna hy, en ek dink baie van ons, op soek is.”

Cawood voeg by dat dit nooit maklik is om ʼn plek van vrede te vind nie. “Dit is ʼn helse reis en vir verskillende mense beteken dit verskillende goed. Ek wil altyd sê die rolprent is vir my ʼn liefdesverhaal, want dit gaan oor mense wat verskriklik weerloos is en dan moet ʼn mens dink: Is dit die noodlot wat die karakters bymekaar gebring het op daardie spesifieke oomblik?”

Beyers sê Skemerson is nie ʼn fliek waar die kyker verwyder is van wat op die skerm afspeel nie. “Eerder as wat jy ʼn vlieg teen die muur is, word jy amper die polsslag van die karakters. Dit is baie intiem en daar is baie naby-skote, en die rou, groot landskap. Jy sien hierdie majestueuse skote van die ryke natuur. Jy kan die gedruis van die see voel, jy kan die hartklop van die karakters voel en om dit op die grootskerm te ervaar is net ʼn soveel ryker ervaring.”

Elize Cawood in 'Skemerson'. (Foto: Verskaf)

Elize Cawood in ‘Skemerson’. (Foto: Verskaf)

Cawood vertel haar karakter en haar dogter, Emma, ontmoet vir Sella by die brug, waar hy sy eie lewe wil neem. “Sy gaan rekspring, want sy het ʼn emmerskoplysie wat sy wil voltooi. Sy en haar dogter het ʼn verskriklike hegte verhouding en dit is iets waarby Sella aanklank vind omdat hy self ʼn hegte verhouding met sy eie ma gehad het, wat reeds oorlede is. Sy is ʼn wonderlike vrou wat vol lewe, liefde en empatie is, en dit is iets wat ons almal behoort te hê.”

Skemerson word op Vrydag 3 Mei in fliekteaters landwyd uitgereik.

Kyk ook hier na Maroela Media se fliekvlooi, Floris Groenewald, se resensie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.