Luister: ‘Stroomop skyn ʼn lig op die innerlike krag van vrouwees’

Donnalee Roberts as dr. Lana Marais (Foto: Suna Robberts)

Donnalee Roberts as dr. Lana Marais (Foto: Suna Robberts)

Donnalee Roberts is ʼn baanbrekervrou wat in ʼn kort ruk diep voetspore in die vermaakbedryf getrap het.

Eers het sy Suid-Afrikaners se harte verower as Annalie in die SABC 2-sepie 7de Laan. Dit was ook op die stel van dié sepie waar sy en haar vennoot en verloofde, Ivan Botha, die eerste keer teenoor mekaar gespeel het.

Nou, twee lokettreffers en talle ander samewerkingsproduksies later, is dié gedugte span terug met hul jongste rolprent, Stroomop.

“Dis ʼn fliek oor lewe en dood,” som Roberts dit kortom op in ʼn onderhoud met Maroela Media. Sy is ook die mede-vervaardiger van die rolprent.

“Letterlik en simbolies. Ons ontmoet vyf vroue wat besig is om te verdrink in die rivier wat ons die lewe noem.”

Die vyf vroue ontmoet tydens groepsterapie. Daar is Lana (Donnalee Roberts), die perfeksionistiese en effe rebelse dokter wat verplig word om daar te wees; Adrie (Chanelle de Jager), die ma van drie wat wroeg oor haar gewig en begeerlikheid; Diona (Ilse Klink), wat haar hele lewe lank haar loopbaan voor haar dogter, Nixie (Carla Classen), se behoeftes gestel het en Vivian (Simoné Nortmann), ʼn valerige data-analis wat angstig en bang is vir die lewe.

Dié vyf vroue pak saam met ʼn riviergids, Guy (Armand Aucamp), die onstuimige waters van die Oranjerivier aan en wanneer hulle in die moeilikheid beland en die gids verdwyn, moet die vroue hulle verskille (en geskille) eenkant toe skuif om hulself, én Guy, lewend aan die ander kant uit te kry.

“Die vyf vroue word oorgelaat aan hulle eie genade, oorgelaat om self te oorleef. In die proses ontdek hulle wonderlike vriendskappe, hulle eie innerlike krag én besef hulle alles wat hulle nog altyd nodig gehad het om enigiets te oorkom wat die lewe na hulle kant toe mag spoel, was eintlik nog altyd daar binne-in hulle en het net gewag vir hulle om stroomop te gaan om dit te ontdek,” vertel Roberts geesdriftig.

Donnalee Roberts as dr. Lana Marais. (Foto: Verskaf)

Donnalee Roberts as dr. Lana Marais. (Foto: Verskaf)

Die verhaal van Stroomop is reeds drie jaar gelede, tydens die produksie van hulle tweede samewerkingsrolprent, Vir altyd, in hulle harte wakker gemaak. “Ons wou eerstens weer op ʼn avontuur gaan. As fliekmakers is dit altyd vir ons die lekkerste ding om self op ʼn avontuur te gaan tydens die verfilming.”

Dit was ook vir die span belangrik om ʼn fliek te maak wat vir kykers ʼn boodskap gee om in hulle harte saam huis toe te neem. “Ons sê altyd die kosbaarste geskenk wat iemand jou kan gee, is tyd. So, as iemand vir ons twee uur afstaan om ons fliek te kom kyk, is dit ons verantwoordelikheid as storievertellers om vir hulle waarde vir hulle tyd te gee.”

Sy vertel die fliek skyn ʼn lig op die innerlike krag van vrouwees. “Ons ondersoek wat gebeur as mens dan temas soos selfontdekking, selfaanvaarding en vergifnis saamvoeg, want eers wanneer daai drie dinge bymekaarkom, kan ware genesing plaasvind.”

ʼn Span van sowat 60 mense het vir ongeveer vier weke op Onseepkans langs die Oranjerivier gekamp tydens die verfilming van die fliek. “Ons het spesifiek besluit om op die Oranjerivier te skiet, want ons wou ook ons karakters in ʼn wêreld plaas waar hulle letterlik gekonfronteer word met lewe en dood. Die Oranjerivier is oor die 2 000 km lank, maar die deel waar ons gekies het om te skiet is een van die dele waar daar nog nooit in menseheugenis ʼn voetspoor getrap is nie.”

Sy gee toe dit was ʼn uitdagende proses. “Daar is nie elektrisiteit of selfoonseine nie. Ons het hande gevat met Under Canvas Events en hulle het letterlik vir ons ʼn wêreld gebou langs die Oranjerivier. Daar het ons oorleef vir vier weke. Party dae was dit tot 46 grade Celsius, en daar is nie paaie wat jou tot aan die rivier bring nie.”

Ivan Botha, Tom Marais en Donnalee Roberts op die stel van die fliek. (Foto: Verskaf)

Ivan Botha, Tom Marais en Donnalee Roberts op die stel van die fliek. (Foto: Verskaf)

Dit was soms uitmergelend om selfs net die eerste skoot van die dag te kry. “Dit het ons party dae tot twee uur geneem net om te kom tot by die punt waar ons wil skiet. Dan het ons ge-4×4, maar soos 4×4 wat omtrent van daai karre afgeskryf het, want dit is sulke rowwe en klipperige dele.

“Ons het sewe piepklein bootjies gehad wat al 60 van ons moes vervoer na ʼn hoër deel van die rivier, met ons toerusting wat ons nodig het vir die dag se verfilming. Dan moes ons as span dit als dra, partykeer vir nog ʼn uur verder opstap en dan eers het ons verfilming begin.”

Tog sal sy dit in ʼn oogwink weer doen. “Ons het so kliphard gewerk elke dag, maar aan die einde van elke dag word die lug ingekleur met elke skakering van geel en pienk en oranje wat jy jou kan indink. Dit is soos ʼn geskenk aan die einde van elke dag. Elke aand het ons saam om die vuur gesit en saam huis toe verlang en gesels oor die dag wat ons as ʼn span saam-saam gewerk, gesweet en deurgedruk het.”

Roberts raak liries wanneer sy vertel hoe dit is om saam met Botha as regisseur te werk. “Ek vertrou hom met my hele lewe. Wanneer dit kom by eerlike toneelspel is dit so belangrik om ʼn regisseur te kan vertrou, want ʼn regisseur moet vir jou ʼn veilige ruimte skep waar jy as akteur die rouheid en eerlikheid van jou karakter kan vertolk. Ivan het dit vir ons almal geskep. Ek is oortuig daarvan dat ek namens almal kan praat daaroor. Ek eer hom daarvoor en sal tot aan die einde van dae dankbaar wees vir die kans om op so ʼn manier saam met hom te kon werk.”

Stroomop begin op 9 Augustus in fliekteaters landwyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.