Luister: ‘Susters’ gaan jou laat lag én huil

Die akteurs tydens die verfilming van die fliek (Foto: Facebook)

Wanneer drie aangenome susters – vertolk deur Diaan Lawrenson, Quanita Adams en Leah – ná die dood van hul ma op ʼn ontdekkingsreis gaan, word dit duidelik dat dit nie nét bloed is wat mense bind of by mekaar hou nie. Om die waarheid te sê, biologie het inderwaarheid niks daarmee te make nie.

Ja, die nuwe Afrikaanse fliek Susters ís ʼn chick flick, vertel die akteurs – maar dit is ook ʼn verhaal gevul met teer herinneringe wat fokus op selfontdekking, nalatenskap en vriendskap.

Die akteurs en rolprentspan beskryf dié fliek in ʼn onderhoud met Maroela Media as ʼn storie wat vertel móés word.

Corné van Rooyen, regisseur, sê hy het onmiddellik nadat hy die draaiboek gelees het, besef dat ʼn groot gehoor by dié fliek aanklank kan vind. Van Rooyen is ook bekend vir flieks soos Vaselinetjie en Hollywood in my huis.

Susters het vir my begin by die draaiboek,” vertel hy. “Toe ek dit die eerste keer gelees het, het ek besef dit skep vir my ruimte om baie kreatief te wees. Ek het onmiddellik die verskillende temas en nuanses in die fliek opgemerk en geweet dat dié fliek ʼn sukses sou kon wees. Toe ek boonop hoor watter akteurs by Susters betrokke gaan wees, het ek onmiddellik ingestem om deel van die span te wees.”

Quanita, Diaan en Leah by die amptelike première (Foto: Facebook)

Die akteurs vertel die fliek is vol verskuilde boodskappe om ʼn ander dimensie aan die ontwerp van ʼn sogenaamde chick flick te gee. Een van dié boodskappe is dat jou begin nié jou einde bepaal nie. “As filmmaker kyk jy altyd eerste waarmee jy jou in die draaiboek vereenselwig. Die eerste wat vir my uitgestaan het in die teks, is dat niemand van ons ʼn eiland is nie; geen mens kan op sy eie funksioneer nie. Almal is op ʼn manier verbind, en die boodskap van die fliek is dat ons nooit alleen is nie, maar altyd verbind bly met ander mense,” vertel Corné.

Diaan sê die fliek vertel ook hoe mense hulself deur middel van ander ontdek. “ʼn Baie sterk tema in die fliek is dat ons as mense onsself deur ander mense – of deur jou eie mense – ontdek. Hierdie fliek fokus nou wel spesifiek op die verhouding van die susters, maar dit maak nie saak wie dit werklik is nie – jy leer jouself ken deur middel van ander mense wat ʼn invloed op jou lewe uitoefen,” sê sy.

Susters is in die hartjie van die winter in die Noord-Kaap in die Karoo verfilm. Die fliek word reeds deur talle resensente as “esteties mooi” bestempel.

“Wanneer jy die fliek kyk, kan jy byna glad nie opmerk presies hóé koud dit was toe ons die fliek verfilm het nie,” vertel Diaan. “Dit was vrek koud. Ná lang tye op stel begin jy amper sukkel om te fokus omdat dit so geweldig koud is. Maar as jy dan die hele film saam sien en veral die estetiese aspek daarvan, maak dit heeltemal sin. Die bar, droë en kaal landskap en die mooi kleure vorm ʼn mooi prentjie en gee werklik lewe aan Corné se visie vir ʼn Jules Verne- [die Franse dramaturg] tipe fliek.”

Die akteurs tydens die verfilming van die fliek (Foto: Facebook)

Quanita sê dit sit nie in enigeen se broek om ʼn karakter in dié koue te vertolk én jou woorde te onthou nie. “Corné het heel aan die begin vir ons gesê dit gaan uithouvermoë verg om dié fliek te skiet. Soms het ons 03:00 in die oggend – wanneer dit -7 ºC in die Karoo is – verfilm. Dan dra ons rokke sonder moue en bostukke wat ons byna glad nie bedek nie. Dit was bibberkoud, maar beslis die moeite werd. Boonop moes die arme hunk in die fliek [vertolk deur Sean-Marco Vorster] die helfte van die tyd sonder ʼn hemp rondloop,” terg Quanita.

“Die kere wat hy nié hemploos was nie, het hy altyd ʼn trui of iets aangehad. Ons het nie dieselfde voorreg gehad nie,” kap Diaan terug.

Die akteurs vertel die verfilming van die fliek was nie sonder uitdagings nie. Die geel Land Rover waarmee die susters in die fliek rondrits, was volgens die span die grootste kopseer.

“Op ons eerste dag het daardie einste karretjie besluit hy is vodde. Die fliek sou eenvoudig nie dieselfde gewees het sonder die geel Land Rover nie omdat die kleur baie tot die estetiese aspek van die fliek bygedra het – en ek wou eenvoudig nié die storie sonder dié kar doen nie. Toe ons die fliek klaar geskiet en die voertuig teruggegee het aan sy eienaar, was dit amper ʼn heel nuwe kar omdat hy só baie in die werkswinkel was,” vertel Corné.

Diaan Lawrenson, Quanita Adams en Leah (Foto: Facebook)

Wat maak dié fliek anders? “Die fliek is anders as ander flieks wat bloot net vermaak omdat daar nuanses in die verhoudings is wat die fliek ʼn ander dimensie gee. As akteur hoop mens om nie konstant een noot raak te slaan nie, maar in dié fliek dink ek daar is verskeie aspekte aan die fliek. Die wrywing wat karakters ervaar, is goed waarmee fliekgangers hulle kan vereenselwig en dit is ʼn storie wat ʼn mens gaan geniet,” sê Diaan.

Susters se draaiboek is geskryf deur Corine du Toit en Sandra Vaughn. Die vervaardigers is Jenny Griesel en Johan Vorster. Die fliek is ʼn samewerkingsprojek tussen Inhoud Huis Media en kykNET.

Susters is vanaf 29 Maart in teaters landwyd te sien. Vir meer inligting, besoek die fliek se amptelike Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.