Luister: ‘Tainted Heroes’ vertel ander kant van geskiedenis


AfriForum/Facebook

AfriForum/Facebook

Forum Films verwag dat sy debuut, Tainted Heroes, wye reaksie in die rolprentbedryf gaan uitlok, het Solidariteit se bestuurshoof, dr. Dirk Hermann, Maandag by die première van dié dokumentêre prent gesê.

Tainted Heroes dek die tydperk in Suid-Afrikaanse geskiedenis wat strek van die Soweto-onluste in 1976 tot die aanvang van die demokratiese bestel in 1994 en die inhuldiging van oudpres. Nelson Mandela.

Hoewel die dokumentêr heelwat aandag skenk aan bekende dele van die geskiedenis van Suid-Afrika, vertel dit ook ʼn “kant van die verhaal wat in geskiedenisboeke ontbreek”, het Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum en medevervaardiger van die fliek, vertel.

Die dokumentêr is egter nie wit propaganda nie, en ook nie ʼn storie oor wit teen swart nie. “Die algemene gevoel is dat almal wat hulle in die ANC se kamp bevind het, onbevlekte helde was en almal wat van die ANC verskil het, bose belhamels. Die feite wat Tainted Heroes op die tafel plaas wys dat die geskiedenis nie so eenvoudig is nie,” het Roets gesê.

Dié gegewens is geskoei op dr. Anthea Jeffery se boek People’s War. Die gelyknamige strategie van die ANC kom grootliks ter sprake in die fliek.

“Die geskiedenis van Suid-Afrika moet beoordeel word deur feite en die waarheid. Dié dokumentêr gaan die waarheid van Suid-Afrika se geskiedenis blootlê en nie bloot propaganda wees nie,” het Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP, by die première gesê.

Vir Katlego Chale, ʼn akteur wat in die fliek optree, is dit belangrik om te verseker dat geskiedenis nie eensydig vertel word nie. “Die fliek is geskoei op feite wat bewys kan word. Dit staan eensydige vertellings van ons geskiedenis teen,” het hy gesê.

Annchen Dreyer, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, sê Suid-Afrika se geskiedenis word geskryf deur die regerende party. Dié verbreek glo sulke propaganda. “Dit is belangrik dat ʼn fliek soos dié ʼn ander kant en interpretasie wys sodat ʼn mens ʼn meer gebalanseerde idee van die geskiedenis kry,” het sy gesê.

Hoewel daar beplan word om DVD’s te laat druk is die fliek nog nie in teaters te sien nie. “Ons is nog besig om te onderhandel met die oog op uitreiking van die prent. Ons kan ongelukkig nie sê wanneer die prent beskikbaar sal wees nie, maar ons sal dit goed bemark sodat almal weet waar dit beskikbaar is,” het Shinelle Brewis, projekkoördineerder van AfriForum, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ZAR ·

Gaan die ANC toelaat, dat hierdie film die lig sien, en dat die waarheid uitkom?

Rupert Ashford ·

Hou ons asseblief op hoogte oor beskikbaarheid van DVDs. Mens sal dit graag ook vir mense in die buiteland wil wys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.