Luister: ‘The Recce’ vertel storie ágter die oorlogstories

The Recce is ’n splinternuwe Afrikaanse oorlogsdramafliek wat die verhaal vertel van ’n jong recce wat verkeerdelik dood verklaar word in die vyande se kamp, terwyl sy swanger vrou by die huis agtergelaat is.

Greg Kriek, wat die rol van die jong recce Henk Viljoen speel, en Christia Visser wat die rol van Henk se vrou, Nicola vertolk, het gesê hierdie film is vertel nie net die oorlogstorie nie, maar ook die emosionele storie.

“Die film is almal se storie. Dit gaan nie net oor die recce of soldate of bevelvoerders nie, maar dit gaan oor die families en die hele samelewing en wat gebeur in die konteks van oorlog. Die balans tussen man en vrou is wat die film so spesiaal maak; daardie stryd om oorlewing vir almal van ons, dit is so rou in elke karakter,” het Kriek aan Maroela Media gesê.

Visser het gesê The Recce het haar oë laat oopgaan oor wat dit regtig beteken het om in die  Bosoorlog te leef.

“Ek het skielik ʼn ander idee van wat eintlik in die oorlog aangegaan het. Ek dink ons distansieer onsself so maklik van wat die oorlog regtig was. Ons het hierdie idee in ons kop van wat dit is, maar as jy regtig begin rondkrap en begin sien wat daar aangaan, verander jou idee. Dit het my emosioneel baie aangeraak,” het Visser gesê “Om te sien wat vrouens soos my ma en haar vriendinne moes deurgaan, ek meen, baie van die mans het nie teruggekom huis toe nie. So dit was ʼn baie emosionele film om te maak.”

Christia Visser en Greg Kriek as Nicola en Henk Viljoen.

Visser het ook gesê dat haar karakter Nicola vir haar uitdagend was, omdat sy nog nie vantevore gevra

het oor die vrouens se stryd in die oorlog nie.

“My pa was in die oorlog gewees en hy praat baie daaroor, ek het van kleins af grootgeword met die stories. Maar ek het nooit regtig vrae gevra oor die vroue in die oorlogstyd nie,” sê sy.

“Nicola weet net so min soos ek wat daar aangaan, sy het ook nog net stories gehoor, en ek het baie van daardie onsekerheid gebruik om in haar karakter te klim. Nicola het haar eie opinies oor die oorlog, sy sê haar sê en sy is ʼn baie sterk vrou. Sy stem nie saam met die oorlog nie, maar sy is lief vir Henk, so sy gaan daar deur. Ek dink sy verteenwoordig alle vroue en ek dink daar is baie vroue wat hulself met haar kan vereenselwig.”

Ná die bekendstelling van die fliek het Visser en Kriek met baie mense in aanraking gekom het wat in werklikheid deur die oorlog geleef het. Hulle hoop dat dit nou ʼn betekenisvolle verandering sal maak in die dialoog oor oorlog.

“Baie van die onderwerp is taboe. Ek het baie ooms en familielede wat glad nie praat oor wat in die oorlog gebeur het nie,” sê Kriek.

Greg Kriek (Foto: The Recce)

“Met voorskoue van die film het ons met baie manne wat destyds recces was gesels, en dis spesiaal om te sien hoe die film hul hartsnare raak. Een fliekganger het my vertel dat hy een van sy vriende verloor het in die oorlog; die vriend het amper nes ek gelyk. Dit het dit net vir my duidelik gemaak dat daar mense is daar buite wat wíl oopmaak oor die oorlog en ek sien uit om te sien of die fliek dalk dinge bietjie sal aanhelp dat mense kan praat oor wat hul deurgemaak het,” het Kriek gesê.

Alhoewel The Recce nie op ware gebeure gebaseer is nie, meen Kriek en Visser dat baie mense se waarhede, deur middel van hul gesprekke met mense wat deur die oorlog geleef het, in die film ingeglip het.

”Ek dink enigiemand sal van hierdie film hou. Ek dink dis ’n fliek wat die potensiaal het om genesing te bring of ten minste ʼn gesprek kan begin oor die lewe in oorlogstyd. Die materiaal is eg en rou, en almal leef hulself so in die film in,” het Kriek gesê.

“Moet nie verkeerd verstaan nie – The Recce is nie net ʼn oorlogsfliek nie, dit gaan oor veel meer as dit, dit gaan oor die emosionele reis daaragter,” het Visser gesê.

The Recce begin op 28 September in fliekteaters landswyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Blommie ·

Nou wonder ek gaan die regte egte recce’s van die bosoorlog hierna kyk en gaan hulle kommentaar kan gee. My broer was op die grens en hy praat nooit oor dit nie.

Dean ·

Op die foto sit hy langs sy vrou in die uniform van n korporaal in valskerm batalion aka vleis bomme…nourie dag sien ek hom sit in n gunship met black is beautiful op sy gesiggie met sy R 4 wat se loop na bo wys..as hulle n paar ou manne gevra het sou hulle vertel het dat die eerste ding wat jy doen is draai jou wapen om sodat jy nie jouself afskiet nie..aan al die ou manne daar buite…ons sal nooit vergeet nie en ons sal nooit praat nie..mors met ons mense by die huis en ons wys hulle hoe lyk n goed opgeleide soldaat..ons moet net eers ons tanne insit en bril op..dan is ons paraat

JAN ·

Die ergste van die oorlog was nie die weggaan en veg nie .Neee. Dit was die tuiskoms… Soos met die ABO . HC Bosman beskryf.. Datna 4 jaar op kommando , toe die Boer weer op sy verwoeste plaas sy vrou ontmoet , wie na 2 jaar in die kamp hul 2 dogtertjies verloor het…het hy skokkend besef dat hy nooit die oorlog gesien het nie.!!
SO WAS die grensoorlog ook tuis…
Ek was daar .. Onmoontlik om my dagboek oor te skryf wat langs my rekenaar lê vir 10 jaar al..
Dis te erg om te onthou…

JAN ·

Casta Diva van Bellini is die allermooiste area …ń hartverskeurende gebed van die Moeder vir haar seuns wat oorlog toe moet gaan. Luister gerus met sakdoek as u dink aan ons eie kinderoffers!!
Waarvoor?

Hennie ·

guantanamo baai tronk se ervaring kan niemand beskryf as hy nie daar was en dit ervaar het nie.

Nuckle Beukes ·

Ek sal julle glo as dit vir die res van jul lewe klou, dit was nooit af nie, julle raak nie eens aan die rowe nie. Nie eens op hierdie ouderdom nie.

E.K. die eerste ·

Dit maak my verskriklik hartseer en ook woedend-magteloos as ek kommentaar lees soos bg mense wat vir altyd met daardie aaklige herinneringe moet saamleef. Ouens ek kan maar net sterkte sê – “for what it’s worth”.

Nicky ·

Die jonger geslag sal nooit weet hoe dit was om n gesensorde brief of n kollekteer oproep te ontvang nie………

Ou koeie ·

Hoekom word in hierdie verlede gekrap, Die mense haat ons reeds oor ons verlede .Hulle gaan weer iets daarin kry om ons nog meer te haat .STOP dit.As jy geld wil maak uit iets gaan soek iets ander wat ons nie veroordeel gaan word nie

Erfenis ·

Ou koeie – hoekom moet ons ons erfenis vergeet. Hierdie manne het hulle lewe gegee en baie het dit verloor vir niks. Gee hulle die eer. Ek is n vrou en 48, maar ‘n ware boer en is trots daaroop. Ons fokus so op hierdie ander dat ons van ons erfenis vergeet en dit is ‘n skande !!!!

Johan ·

Ek stem saam . Ek gaan nie deel van my lewe vergeet net om manupileerende linkses tevrede te stel nie.

Frik ·

Ag sommer met die intrapslag, daardie Recce se haarstyl sou nie werk in die 70’s 80’s. Heeltemal borselkop miskien, maar daardie laaitie lyk te veel na n wannabee moviestar!

Conrad ·

“Met voorskoue van die film het ons met baie manne wat destyds recces was gesels” Ek sou graag wou weet hoeveel is hierdie baie manne.. Daar was basies op enige gegewe tyd net 300 Recces… Kyk maar op die special forces league website..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.