Luister: ‘Vaselinetjie’ die fliek – ‘n verhaal van seer en hoop

Corne van Rooyen, regisseur van ‘Vaselinetjie’, saam met sy vrou René tydens die fliekpremiere van ‘Hollywood in my huis’. Foto: Maroela Media/Burger Meyer

Die verhaal van Vaselinetjie, geskryf deur Anoeschka von Meck, gryp al sedert 2005 die verbeelding van derduisende mense in boekvorm aan. Dié storie, wat handel oor ʼn wit meisie wat as baba in die veld gelaat is en dan opgetel en versorg word deur ʼn bruin man en sy vrou voordat sy na ʼn kinderhuis gestuur word, word eersdaags op die silwerdoek uitgereik.

Corné van Rooyen, regisseur van die fliek, het aan Maroela Media vertel dat hy die storie vir die eerste keer 11 jaar gelede gelees het. “Ek was toe net klaar met rolprentskool en ek het gedink as ek eendag ʼn fliek kan maak van dié boek, sal dit soos ʼn droom wees wat waar word.”

Van Rooyen vertel die storie handel oor ʼn bruin man van die Noord-Kaap wat op ʼn baie warm dag ʼn baba optel. “Hy en sy vrou het nie aanvanklik besef dit is ʼn wit kind nie, omdat die son haar bygekom het teen die tyd wat hulle haar gekry het. Hulle het haar versorg en Vaseline aan haar bene op die gebrande vel gesmeer. Dis hoe sy die naam van Vaselinetjie gekry het.

“Natuurlik, teen die tyd wat sy agt jaar oud was, het haar vel al witter geword, en omdat sy witter was as die ander het mense haar begin spot,” vertel Van Rooyen. “Op ʼn dag kom die welsyn skool toe en omdat sy anders lyk, besluit hulle dit sal beter wees vir haar om kinderhuis toe te gaan in Johannesburg. Dan beland sy skielik vanuit ʼn baie onskuldige en beskermde omgewing by haar aanneem-ouma en -oupa, in die rowwe kinderhuiswêreld in Johannesburg. In Johannesburg maak sy vriende en ontmoet ook ʼn seun, Texan, wat met dieselfde rasse-identiteitsprobleem worstel as sy.”

Hoewel die storie draai om swaar temas soos bendegeweld, prostitusie en selfmoord, glo Van Rooyen nie dit is ʼn fliek wat deur sensitiewe kykers vermy moet word nie. “Die hooftema van die storie is identiteit. Het God ʼn fout met my gemaak? Die temas wat ons aanraak is regte goed waarmee kinders in kinderhuise worstel, en dit is goed wat party volwassenes self nie eers verstaan nie. Die storie gaan nie daaroor om kinders beskermd groot te maak nie, maar eerder om ons te herinner aan die realiteit dat daar kinders daar buite is wat in ongelooflike rowwe omstandighede groot word.”

Van Rooyen verduidelik dat hy nie probeer het om om die harde kwessies te werk nie. “Dit was vir my belangrik om binne-in Vaselinetjie se kop te wees en die wêreld soos wat sy dit sien vir die gehoor te wys. Die manier hoe ons dit hanteer het met die kamerawerk en redigering was juis so beplan dat ons nie die gehoor skok nie. Baie keer speel ʼn situasie af in ʼn wyer skermskoot sodat die geweld nie geromantiseer word nie.”

Hy vertel sy grootste vrees was wat die gehoor gaan sê nadat hulle die fliek gesien het. “Mense gaan altyd vergelykings trek tussen die fliek en die boek. Die dag wat ek oor hierdie kwessie vrede gekry het, was toe ek die fliek vir Anoeschka gewys het in my sitkamer. Sy het ná die tyd gesê sy voel ons het die hart van die boek vasgevang.”

ʼn Groot faktor tydens die produksie van die fliek was om die perfekte rolverdeling te kry. “Ek het geweet ek gaan nooit Vaselinetjie maak as ek nie die regte rolverdeling het nie,” het Van Rooyen vertel. “Daar was ook nie vir my akteurs daar buite wat almal perfek in die rolverdelings pas nie. Ek wou akteurs kry wat nog nooit op die rolprentdoek was nie. Hulle noem dit “non actors – mense wat totaal en al is wie hulle is. Ek het regte mense gaan soek met dieselfde karaktertrekke en siele as die karakters in die storie.”

Alhoewel Marguerite van Eeden, wat die rol van Vaselinetjie vertolk, by ʼn akteursagentskap is, was dit haar eerste ervaring voor die kamera. “Sy was nommer een uit al 6 000 kinders wat ek gesien het, en sy het deur die hele proses my eerste keuse vir die rol van Vaselinetjie gebly. Ons het regoor die land gesoek,” het Van Rooyen gesê. “Ek moes Vaselinetjie op ʼn baie meer volwasse manier aanpak as my vorige flieks.”

Van Rooyen is ook die regisseur van flieks soos onder meer Hollywood in my huis en Sy klink soos lente. “Ek hou van grootwordstories. Vir my maak dit nie saak watter genre dit is nie, solank dit gaan oor mense wat grootword.

“Aanvanklik het ek gedink dit is net ʼn goeie storie, maar soos ons reg oor Suid-Afrika gereis het op soek na kinders vir die rolverdeling, het ek al hoe meer besef hoe seer ons land se kinders eintlik het. Ek was ook by kinderhuise en plakkerskampe. Dis daar waar ek besef het hoeveel die storie eintlik vir ons land se kinders kan beteken en die krag wat daarin lê en die hoop wat dit kan bring.”

Vaselinetjie word op 22 September in teaters landswyd uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Juffrou ·

Ek het vir die jong Texan skool gehou en ek kan net baie dankie se vir die regisseur wat kinders tot by ons kom soek het!!! Dit is vir my fantasties om te sien hoe hy ontwikkel het. Die ander kinders kyk op na hom en besef daar kan.iets goeds uit die omgewing kom!! Baie dankie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.