Luister: Vermaak, romanse én lewenslesse in ‘Jou Romeo’


Jou Romeo (Foto: Facebook)

Jou Romeo (Foto: Facebook)

Jou Romeo, die jongste Afrikaanse romantiese tienerkomedie, begin op 23 Desember landwyd in fliekteaters draai en beloof om te vermaak én lewenslesse te leer.

Maroela Media het onlangs met Elani Dekker (Yvette), Ruan Wessels (Marko) en Andre Velts, die regisseur, gesels om meer uit te vind oor dié fliek.

Jou Romeo vertel die verhaal van twee vasbeslote dramaliefhebbers van Hoërskool Monument in Krugersdorp wat alles in die stryd sal werp om hul droomproduksie op die planke te bring.

Yvette, Tyler (Christopher van der Westhuizen) en die dramabrigade is ’n piepklein kunssinnige minderheid in ’n sportmalskool en het slegs een doel voor oë: Om Romeo en Juliet in hul matriekjaar op die planke te bring. Die skoolhoof, mnr. Kirby Potgieter (Pierre Breytenbach), het egter ander planne en besnoei die kuns- en kultuurbegroting om opgraderings aan die klubhuis aan te bring.

Je-Ani Swiegelaar, Ruan Wessels en Leandi du Randt (Foto: Verskaf)

Je-Ani Swiegelaar, Ruan Wessels en Leandi du Randt (Foto: Verskaf)

Desperaat om kaartjies te verkoop en sodoende die vertoning te red, beraam Yvette en Tyler ’n plan. Hulle oortuig die skool se sportheld en hartebreker, Marko, om die rol van Romeo in Tyler se plek te vertolk. Hulle plan werk en die kaartjies verkoop soos soetkoek.

Dié gebeure ontketen ʼn vonk wat die liefde hoog laat brand. ’n Leuen dreig egter om die geliefdes uitmekaar te skeur en gevolglik ook die opvoering te kelder.

Ruan, wat ook bekend is vir sy rolle in Dis ek, Anna en Binnelanders, het gesê dié fliek het sy toneelspel op die proef gestel.

“Dit het my uitgedaag om harder te werk en die beste te lewer wat ek kan. Ook om die storie eerlik te vertel, wat volgens my beteken om te alle tye en tot die beste van jou vermoë jouself te wees, ongeag van die ‘groepies’ waarin mense hulle bevind.

Die skrywer Fanie Viljoen, Elani Dekker en Christopher Van Der Westhuizen (Foto: Verskaf)

Die skrywer Fanie Viljoen, Elani Dekker en Christopher Van Der Westhuizen (Foto: Verskaf)

“Ek dink mense moet Jou Romeo gaan kyk want dit is regtig oulik en snaaks. Gehore sal kan identifiseer met die situasies wat in die prent geskep is.”

Elani, ʼn opkomende aktrise, meen dit was vir haar ’n eer om saam met regisseur André Velts te werk. “Om elke dag op stel saam met sulke vriendelike mense soos Jou Romeo se rolverdeling en tegniese span te wees, was vir my ’n droom. Die storie van Yvette en Marko is getuienis dat vooropgestelde idees nie net misleidend kan wees nie, maar dat dit ’n mens ook van persoonlike groei kan weerhou. “

Ander akteurs soos Diaan Lawrence, Dirk Stoltz, Row-Lean, Sarahann Doherty en Carmin Coetzer is ook in die fliek te sien.

Vir meer inligting, besoek Jou Romeo op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.