Luister: ‘Vlugtig’ herskep Rooikappie-verhaal

Jane de Wet speel die rol van Chantel Opperman in ‘Vlugtig’. (Foto: Verskaf)

In Vlugtig, ʼn nuwe Afrikaanse sielkundige rolprent, neem aspirant-akteur Simon Berg, gespeel deur Arno Greeff, se lewe ʼn onverwagse wending.

Wanneer hy ʼn uitnodiging ontvang om saam met sy rolmodel, die bekende teaterregisseur Andreas Vog, met Ernst van Wyk in die rol, aan sy nuwe Rooikappie-toneelstuk te repeteer, ontaard sy akteursdroom in ʼn nagmerrie.

ʼn Reeks gebeure lei daartoe dat Simon onder die sadistiese Andreas se onortodokse metodes deurloop, met slegs sy medeakteur, Chantel Opperman (gespeel deur Jane de Wet), wat hom aanmoedig om deur te druk.

Akteurs wat kameerolle in die fliek speel, sluit in Tobie Cronjé, Simoné Pretorius, Altus Theart, Annie Malan, Schalk Bezuidenhout, Gerald Steyn en Hannes Brümmer.

Vlugtig is gegrond op die gelyknamige kortfliek wat in 2017 by kykNET se Silwerskermfees gewys het. Dit is deur Van Wyk geskryf en Marinus Gubitz was die regisseur.

Die vollengterolprent het vanjaar by die 10de Silwerskermfees sy première gehad en is vir drie pryse benoem, waaronder beste redigering, beste kostuumontwerp en beste klankontwerp.

Van Wyk vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat hy nie dadelik daaraan gedink het om die kortfliek verder te ontwikkel nie, maar dat dit terugskouend vir hom ʼn wonderlike ervaring was.

“Nadat die kortfliek by die fees gespeel het, het iemand genoem dat dit uitvoerbaar is vir ʼn vollengterolprent. Ek het hierdie potensiaal nie self raakgesien nie, maar die idee om Simon se karakter te ontwikkel en die konsep uit te brei, het my geprikkel,” sê hy.

Die fliek is grotendeels in Magoebaskloof in Limpopo verfilm. Dit was reeds in Februarie 2020 in die voorproduksiefase en die span was gereed om te begin skiet, toe die proses weens die Covid-19-pandemie uitgestel moes word.

“Daar het vier byle tydens die verfilming van die houtkaptonele gebreek,” verklap Van Wyk. “Dit was ʼn interessante reis, veral om te sien hoe Arno in tonele geplaas word wat ek geskep het. Ek was eintlik soveel meer by die proses betrokke as bloot net ʼn skrywer.”

Vlugtig is ʼn mengsel van riller- en dramaelemente, meen Van Wyk. Hy sê kykers wat daarvan hou om verras of uitgedaag te word, sal by Vlugtig aanklank vind.

“In ʼn sekere opsig moet jy flieks klassifiseer sodat iemand wat daarna kyk, weet wat om te verwag. Ek dink Vlugtig lê op die grens tussen ʼn sielkundige drama en ʼn sielkundige riller.

“Dit neig nie soveel na ʼn rillerfliek dat kykers verskriklik ongemaklik sal voel nie, maar daar is beslis sielkundige elemente daarin wat na vore kom.”

Vlugtig is nou op BoxOffice op DStv te sien. Maroela Media se eie fliekkenner, Floris Groenewald, het dié nuwe rolprent geresenseer.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Ernst van
    Wyk, draaiboekskrywer van die Afrikaanse rolprent,
    Vlugtig.
  • Kyk hier na Floris se resensie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.