Luister: Vuil Wasgoed ‘inspirasie vir aksiefliek-makers’


bouwer-en-bennie-vuil-wasgoed

Bennie Fourie en Bouwer Bosch. (Foto: Verskaf)

Die akteurs Bennie Fourie en Bouwer Bosch word gesien as baanbrekers in die Afrikaanse filmbedryf, en met die aksiekomediefliek Vuil Wasgoed het hulle weer die pas aangegee vir toekomstige fliekmakers.

Die storie handel oor Wim (Bosch) en Kevin (Fourie), twee beste vriende wat ook saam by ʼn klerewassery werk, maar daarvan droom om hul eie koffiewinkel oop te maak. Hoewel die twee net tydelik by die klerewassery sou werk, is albei sewe jaar later steeds daar. Vir hulle is dit ʼn hoogtepunt om elke aand die klere van die wassery se kliënte aan te trek en dan partytjies by te woon.

Benewens sy rol as Kevin, het Fourie ook die teks geskryf en die vervaardiging saam met Bosch en Danie Bester van The Film Factory behartig. Hy sê om die teks te verwerk vir die vollengte fliek was ʼn uitdaging.

“Aanvanklik het ek gesukkel met die rigting wat die storie moet inslaan, maar ʼn fliek soos Snatch het my geïnspireer omdat daar verskeie antagoniste is. Van daar af het ek die storie ontwikkel en dit is nou soveel groter. Baie van die kwinkslae van die kortfliek is steeds in die vollengte fliek en die tonele is basies dieselfde struktuur,” vertel Fourie.

Hy verduidelik dat die begroting vir die aksiefliek asook die teks vir ʼn paar uitdagings gesorg het. “As jy skryf, dan skryf jy enige iets en jy skryf alles in die nag met baie beligting, want dit lyk goed. Wanneer jy dit prakties moet uitvoer, dan wonder jy hoekom jy so oorboord gegaan het,” lag hy.

“Ons het ook net met een kamera geskiet, so elke keer wanneer jy ʼn toneel uit meer as een hoek wil skiet moet jy die kamera eers skuif – dit is ʼn baie stadige proses.”

Hy vertel hulle het vir vyf weke aaneen geskiet, ses dae ʼn week, 12 ure per dag. “Vir drie van die vyf weke het ons van 18:00 die aand tot 06:00 die oggend geskiet. Dit raak ʼn uitdaging om fokus te hou.”

Bosch, wat die rol van Wim vertolk, is ook mede-vervaardiger. “Om ʼn vervaardiger te wees van ʼn fliek is nie ʼn kreatiewe werk nie. Dit behels baie logistiek en jy moet mense en strukture in plek stel vir die fliek om gemaak te word.”

Hy stem saam met Fourie dat die verfilming van ʼn aksiefliek ʼn uitdaging is, omdat die begroting beperk is. “Ons het besef die rede hoekom daar so min aksieflieks in Suid-Afrika gemaak word, is omdat dit baie duur is, en om dit op Hollywood-skaal te doen is ʼn massiewe uitdaging. Dit is duur om gewere op stel te hê en daar moet ouens wees met lisensies.”

Bosch sê die hoop met die fliek is om toekomstige fliekmakers in Suid-Afrika te inspireer en te laat voel hulle kan dit ook doen. “Die bedryf is op so ’n plek dat dit al hoe meer en meer gesien gaan word.”

Fourie vertel mede-vervaardiger Danie Bester het die fliek vir ʼn rits internasionale fliekfeeste ingeskryf. “Die fliek is toe gekies vir die Portland-fliekfees. Dit is lekker om vir ʼn Afrikaanse fliek erken te word, en dit is vir ons lekker dat ʼn Afrikaanse fliek met Engelse onderskrifte steeds aanklank vind.”

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.