Lusmaker vir nuwe Schuster-fliek uitgereik

Leon Schuster as Sonny Frank. (Foto: Verskaf)

Leon Schuster as Sonny Frank. (Foto: Verskaf)

Die eerste voorsmakie van die geliefde grapjas Leon Schuster se jongste gesinskomedie, Frank and Fearless, is onlangs op sosiale media uitgereik.

Dié lusmakerlokprent versprei reeds soos ʼn veldbrand!

Die fliek, wat in Afrika afspeel, neem kykers op ʼn opwindende avontuur wanneer ʼn hartlike ou man, Sonny Frank (Leon Schuster), en ʼn tienjarige plattelandse Afrika-seun, Fearless (Themba Ntuli), besluit om Suidoos-Asië se ambassadeur te ontvoer in ʼn poging om die stroping van renosters stop te sit.

Saam met hulle op hierdie missie is twee viervoet-vriende, wat bydra tot die pret en hart van die verhaal. Reini is ʼn jong renoster waarvan die ma deur stropers doodgemaak is en Dog is Fearless se lojale swart brak.

Themba Ntuli as Fearless. (Foto: Verskaf)

Themba Ntuli as Fearless. (Foto: Verskaf)

Wanneer dinge egter erg skeefloop, word hulle gedwing om ʼn peleton genadelose stropers aan te vat, onder wie die skrikwekkende eks-wildbewaarder, Dolf (Kenneth Nkosi), met wie Sonny ʼn geskiedenis het. Die emosionele hart van die fliek spruit voort uit elke karakter se persoonlike reis.

In ware Schuster-tradisie vertel Frank and Fearless die komiese verhaal van vier karakters se heldhaftige streke in die Bosveld, gekombineer met ʼn baie relevante en kontroversiële storielyn met ʼn diep emosionele impak.

Dit laat dié nuwe rolprent kop-en-skouers uitstaan bo enige van Schuster se vorige werk, soos Mr Bones en Mad Buddies, wat van die beste presteerders ooit by die plaaslike loket was en in die buiteland ook baie sukses bereik het.

Themba en Leon in 'n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Themba en Leon in ‘n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Hierdie rolprent, uit die pen van Gray Hofmeyr, Schuster en Geoff Newton, is geskep deur ʼn dinamiese span rolprentkundiges, met Hofmeyr as bekroonde regisseur en André Scholtz en Menzi Thabede as vervaardigers.

Hofmeyr werk al vir jare in die vermaakbedryf en is verantwoordelik vir verskeie lokettreffers, soos die eerste Jock of the Bushveld, Leon Schuster se Sweet and ShortThere’s a Zulu On My Stoep en meer.

Buiten vir uitstaande kinematografie spog die rolprent ook met indrukwekkende 3D-animasiewerk (Luma Creative Studio), animasiemodellering (DreamSmith) en spesiale effekte (Refinery), asook knap toneelspel deur die sterbelaaide rolverdeling.

Schuster is puik in die rol van die onsekere spoorwegsjef en versamelaar van inheemse speserye, terwyl die nuweling Themba Ntuli van Meerkat Maantuig-faam die perfekte keuse was om die komplekse Afrika-kind, wat bang is vir sy eie skaduwee, te vertolk.

Kenneth Nkosi (Tsotsi), Khanyi Mbau (Happiness is a Four Letter Word), Jennifer Steyn (Goodbye Bafana, Madam and Eve) en David Dennis (Soul City) is ook in die fliek te sien.

Frank and Fearless sal kykers laat skaterlag, maar ook diep raak met die ernstige onderliggende boodskap en persoonlike oorwinnings, wat sal aanklank vind by oud en jonk en hulle vasgenael sal hou van begin tot einde.

Frank and Fearless word op 23 November landswyd in fliekteaters uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Vra ek ook ·

Hy het dan ruk gelede gesê hy is klaar met films maak want die mense is te aggressief of het nie meer sin vir humor nie of so iets?

Katerina ·

Ek voel dieselfde, geweldig irriterend. I would rather watch paint dry than watch a Schuster movie.

Storielyn ·

Voorspelbaar – Leon in vroue klere – iemand wat in oef val of besmeer en dan die tande van Naas Botha

Blommie ·

Ek is mal oor Leon en hoeveel donker dae hy helder gemaak het deur al sy films.
Maar Ja ek stam, din dis beslis tyd vir aftree want daar is niks nuuts nie.
Dieselfde grappe word vertel op verskillende maniere.
Dit was lekker maar is nou klaar……..

KoosNel ·

Ek het gehoop dit gaan een van daardie films wees waar hy gek skeur met mense. Daardie kyk ek almal. Flieks soos die een waar hy probeer diep raak is nie vir my goed nie.

Vonkprop ·

Wat ‘n klomp gemors. Dink hy ons IK begin met ‘n komma? Hy is goed met mense uitvang maar sy storieflieks beteken niks. Oor en oor dieselfde belaglike ou toilethumor. En sy kamstige spesiale effekte kan ek op my rekenaar maak in ‘n middag. Swak verby!

Ronel ·

Ek kon actually voel hoe val my IK met n paat punte deur net na daai stukkie strooi te kyk. Ek gaan beslis nie nog meer tyd mors deur na die fliek te kyk nie. Nee wat, sy dae van fliem maak is verby.

Stormrider ·

Ek neem kennis van al die negatiewe sentiment, maar glo my, hierdie rolprent gaan oudergewoonte weer ‘n treffer wees. Almal gaan stroom na die lokket toe. Hierdie man weet hoe om geld te maak uit ons ou volkie uit!

Vonkprop ·

Ek dink nie hy maak geld uit ons volkie uit nie. Sy mark is ‘n sekere deel van die bevolking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.