Marvel-fliek laat loketrekords spat

Black Widow.

Black Widow, die nuwe Disney-superheldrolprent, het die afgelope naweek net meer as $80 miljoen (sowat R1,16 miljard) by die VSA se fliekteaters in sy openingsnaweek ingeoes.

Exibitor Relations, wat ʼn oog oor die bedryf hou, het Maandag berig dit is ʼn rekord vir flieks wat in die sogenaamde pandemie-era uitgereik is en glo dit beklemtoon die Marvel Cinematic Universe se gewildheid.

Black Widow, met Scarlett Johansson as die voormalige Russiese superspioen, het tussen Vrydag en Sondag byna R1,2 miljard by die loket behaal.

Met ʼn bykomende $60 miljoen (sowat R875 miljoen) wat deur die stromingsdienste Disney Plus ingeoes word, en $78 miljoen (sowat R1,13 miljoen) wat by internasionale rolprentteaters ingestroom het, het die lankverwagte Marvel-fliek ʼn indrukwekkende bedrag van $218 miljoen (R3,1 miljard) in totaal verdien.

Hollywood Reporter noem dit “ongehoord” vir ʼn ateljee om sy stromingstotaal ná ʼn fliek se openingsnaweek bekend te maak. Die fliek het nog nie ʼn uitreikingsdatum in China, waar Beijing plaaslike somertreffers ʼn hupstoot wil gee, nie.

Ver agter Black Widow in die tweede plek was Universal se aksieriller F9: The Fast Saga. Die fliek het voorheen die pandemie-era-rekord gehou met ʼn openingsnaweek van $70 miljoen (sowat R1 miljard). Die fliek het die naweek slegs $11,4 miljoen (sowat R166 miljoen) by die loket verdien, minder as die helfte wat dit die vorige naweek verdien het.

Vin Diesel, Michelle Rodriguez en John Cena is te sien in dié negende aflewering in die Fast and the Furious-franchise.

Scarlett Johansson en Florence Pugh in ‘Black Widow’. (Foto: Facebook/Black Widow)

The Boss Baby: Family Business is in die derde plek met ʼn inkomste van $8,9 miljoen (sowat R129 miljoen). Die stemme van Alec Baldwin, Eva Longoria, Jeff Goldblum en Lisa Kudrow is in die fliek te hoor.

Die gruwelfliek The Forever Purge, met Ana de la Reguera en Tenoch Huerta, is in die vierde plek met ʼn inkomste van $7,1 miljoen (sowat R103 miljoen).

Albei dié flieks is ook deur Universal uitgereik.

In die vyfde plek was Paramount se A Quiet Place: Part II, met ʼn inkomste van $3,2 miljoen (sowat R46 miljoen), wat die binnelandse totaal tot byna $150 miljoen (sowat R2,1 miljard) in sy sewende week gestoot het.

John Krasinski was die regisseur van die fliek. Sy vrou, Emily Blunt, vertolk die hoofrol.

In die sesde plek was Cruella met $2,4 miljoen (sowat R35 miljoen), in die sewende plek was The Hitman’s Wife’s Bodyguard met $1,6 miljoen (sowat R24 miljoen), in die agtste plek was Peter Rabbit 2: The Runaway met $1,3 miljoen (sowat R18 miljoen), in die negende plek was The Conjuring: The Devil Made Me Do It met $655 000 (sowat R9,5 miljoen) en in die tiende plek was In the Heights met $620 000 (sowat R9 miljoen).

Hierdie naweek was die eerste keer sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie dat die binnelandse loket $100 miljoen oortref het. Die top-12-rolprente het gesamentlik $118,8 miljoen behaal, ongeveer 20% hoër as verlede naweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.