‘Meerkat Maantuig’ eersdaags op die silwerdoek

meerkat maantuigDie betowerende fliek Meerkat Maantuig word op 16 Maart landwyd in fliekteaters oor die hele Suid-Afrika vrygestel.

Dié fliek, wat nog nie in Suid-Afrika begin draai het nie, is reeds aanvaar om by 12 internasionale fliekfeeste vertoon te word.

Die regisseur van die fliek, Hanneke Schutte, het die draaiboek van die fliek, gegrond op die novelle Blinde Sambok deur die bekende Suid-Afrikaanse skrywer Riana Scheepers, verwerk. Die verhaal speel af in die wonderlike woude van die Magoebaskloof.

Die verhaal vertel die storie van Gideonette de la Rey (Anchen du Plessis), ʼn skrikkerige 13-jarige meisie wat glo die vloek wat haar familie al vir jare teister, sal haar in sy greep kry en dat sy die volgende een is wat voortydig dood sal gaan. Sy is bang en desperaat en kan nie ontsnap uit die storie wat haar werklikheid definieer nie. Uiteindelik kan sy slegs haar vrese oorkom deur dit waarvoor sy bang is in die gesig te staar.

Meerkat Maantuig is by verlede jaar se Silwerskermfees vir die eerste keer vertoon en is genomineer vir beste kinematografie, beste produksieontwerp en beste regisseur. Willie Nel het met die beeldjie vir beste kinematografie huis toe gegaan.

Die fliek is amptelik gekies vir ʼn hele rits internasionale fliekfeeste, waaronder The Kids First Film Festival, die grootste kinderfliekfees ter wêreld, asook die internasionale kinderfliekfees GUKIFF in Seoel, Korea.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.