‘Meisies wat fluit’ ‘gee blik op werklike lewe’, sê aktrises

Meisies wat fluit is die jongste rolprent uit regisseur en skrywer Johan Cronjé se pen en alles dui daarop dat dié fliek, net soos sy debuutrolprent, Wonderlus, gehore se verbeelding kan aangryp en grense kan verskuif.

Die fliek debuteer Vrydag op die Silwerskermfees en is daarna eksklusief op BoxOffice beskikbaar.

Die rolverdeling van die fliek is noukeurig gekies: Leandie du Randt en Stiaan Smith vertolk die hoofrolle van Sofia en Henk, ʼn egpaar wat besig is om van mekaar te skei, maar wat net nie daarin kan slaag om fisiek van mekaar geskei te wees nie.

Meisies wat fluit is aanvanklik as ʼn televisiefliek geskryf en geskiet en was deel van Nagvlug Films en Showmax se televisierolprentprojek, waaronder ander speelflieks soos Posbus 1 en Somerkersfees vervaardig is.

kykNET was egter so beïndruk met wat die span van die rolprent met ʼn klein begroting kon regkry, asook die gehalte van die draaiboek en die akteurs se spel, dat daar besluit is om die fliek terug te hou tot vanjaar se Silwerskermfees, wat uiteindelik as ʼn webinaar aangebied is weens die Covid-19-pandemie.

Cronjé poog met Meisies wat fluit weer, net soos met Wonderlus, om met sy fyn gefokusde talent kontemporêre verhoudings onder ʼn vergrootglas te plaas.

Amalia Uys vertolk die rol van Jani, Sofia se beste vriendin, terwyl Bennie Fourie, Pietie Beyers, Geon Nel, Anje de Wet, Anré Bouguenon en Hanli Rolfes die res van die ondersteunende rolle vertolk.

“Jani is op die man af en sê ʼn ding soos dit is. Sy ondersteun vir Sofia in hierdie baie deurmekaar en onsekere tyd in haar verhouding, maar sy sê ook nie altyd wat Sofia wil hoor nie,” sê Uys oor haar karakter.

Amalia Uys in ‘Meisies wat fluit’.

“Sy laat my aan myself dink, maar ook aan ʼn vriendin van my wat niemand se nonsens vat nie. Ek het haar gebruik as my inspirasie vir die rol.”

Die karakter is ook ses maande swanger. “Ek dink die swangerskap dra by tot haar eerlikheid en maak haar net nog so ʼn bietjie skerper,” lag Uys.

Uys het in Vergeet my nie, wat vroeër vanjaar op die silwerdoek gedraai het, ook die rol van ʼn swanger karakter vertolk.

“Ek was nog nie swanger en is nie ʼn ma nie, maar dit is onmoontlik om elke rol wat jy speel uit persoonlike ervaring aan te pak. Met Vergeet my nie en Meisies wat fluit was daar so half ʼn instink wat by my ingeskop het oor hoe ek myself moet dra en loop en het myself net so ingeleef om te glo daar is regtig ʼn baba in my maag.”

Uys verskaf ook komiese verligting in die fliek met ʼn paar sarkastiese en skreeusnaakse kwinkslae. “My vriende weet ek is ʼn totale nar. Dit is baie lekker om komedie te doen, want dan voel dit nie soos werk nie. Ek verwelkom altyd ʼn stukkie komedie.”

Sy vertel die vervaardigers het haar genader om die rol van Jani te vertolk en nadat sy die teks gelees het, kon sy nie die projek van die hand wys nie.

Stiaan Smith in ‘Meisies wat fluit’.

“Toe ek hoor dit is Johan Cronjé wat die regisseur is, wou ek eintlik uit die staanspoor ja sê. Hy is ʼn genie wat ongelooflik goed skryf. Hy is ʼn lieflike regisseur met so ʼn mooi natuur. Hy laat ʼn mens so veilig voel en ek dink hy gaan nog diep spore in die fliekbedryf trap.”

Wat sy die meeste van die teks gehou het, is dat dit eg is. “Dit is ʼn uitbeelding van hoe die lewe werklik is, met verskillende en uiteenlopende karakters waarmee mense kan identifiseer. Die fliek is ʼn slice of life.”

Die fliek het ʼn ouderdomsbeperking van 18 (ST), en Uys sê daarom gaan dit definitief reaksie uitlok. “Die ironie vir my is dat mense nie omgee om na oorsese aktrises in gewaagde rolle te kyk nie, maar wanneer dit ʼn Afrikaanse aktrise of projek is, is mense ongemaklik.

“Ek hou daarvan om die grense te verskuif en om nie die konvensionele roete te volg nie. Ek is so bly dat ons hierdie tipe materiaal ook in Afrikaans kan skep. Daar was nog nooit ʼn kunswerk in menseheugenis wat nie óók negatiewe kommentaar ontvang het nie. Ek kies projekte na gelang van waarby ek aanklank vind en pak dit aan na die beste van my vermoë. Ons is kunstenaars en ons het stemme wat ons wil gebruik.”

Leandie du Randt in ‘Meisies wat fluit’.

Volgens Leandie du Randt, wat die rol van die vurige Sofia speel, is dit die mees riskante rol wat sy nog vertolk het. Sy het onlangs in ʼn Instagram-video vertel waarom sy dié rol aanvaar het.

“Die storie wat die fliek vertel is eg. Dit is nie ʼn romantiese komedie waarin alles perfek en snaaks is nie; dit is ʼn uitbeelding van die regte lewe. Waarom sal ek ʼn kunstenaar wil wees as ek nie regte stories kan vertel nie? Ek is op ʼn stadium in my lewe waar ek al my ma verloor het en ek is deur ʼn egskeiding – die regte lewe is nie altyd lekker nie!

“Tye het verander en ek voel dit is nodig vir ons om daardie storie en narratief te vertel. Ek dink dit is belangrik om die fliek te kyk met ʼn oop hart voordat jy ʼn opinie daaroor vorm,” sê Du Randt.

Meisies wat fluit is op BoxOffice beskikbaar.

Kyk hier na Floris Groenewald se resensie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae