Milan Murray se kop is in die wolke

Milan Murray. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Milan Murray. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die aktrise Milan Murray het nog altyd ʼn groot liefde vir skryf gehad, maar min het sy kon raai dat ʼn kinderverhaal uit haar pen, wat sy eens op ʼn tyd só bang was om aan te pak, eendag op die silwerdoek sou pryk én boonop met ʼn gesogte toekenning vir beste draaiboek vereer word.

Dié droom het op vanjaar se Silwerskermfees, wat van 22 tot 25 Augustus in Kampsbaai plaasgevind het, vir Murray waar geword. Sy is met ʼn Silwerskermtoekenning vir haar 11 minute-kortfliek, Kromkieriefontein, huis toe.

Murray en Charmaine Nolte se reeks wat idiome as vertrekpunt het, bestaan uit drie kinderverhale, onderskeidelik getiteld Hetta Elizabetta en die wêreld op haar skouers, Pieter Kokkewieter en die hart op sy mou en Kop in die wolke in Kromkieriefontein. Die boeke is geïllustreer deur Marisa du Toit. Die boeke word deur Murray se eie uitgewery, Murray & Me, gedruk en versprei.

Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media laasgenoemde boek het homself die beste tot ʼn draaiboek vir ʼn kortfliek verleen. “Omdat Kromkieriefontein die jongste boek in die reeks is, het ons geweet om ʼn kortfliek daarvan te maak sal bemarkingsgewys baie beteken vir ons verkope, maar ons het ook net drie maande gehad om die animasie vir die fliek te doen. Die ander twee boeke sou baie meer werk vereis het wat die draaiboek betref.”

Kromkieriefontein is gegrond op die idioom “kop in die wolke”. “Dit is baie moeilik vir mense om te bepaal of ‘kop in die wolke’ ʼn goeie of ʼn slegte ding is,” lag die aktrise.

“Vir baie mense beteken dit die persoon is ongefokus of onproduktief, en ander mense sê weer so ʼn persoon is ʼn kreatiewe siel. Die storie gaan oor ʼn dorpie waar almal krom loop – alles is krom, die huise, die bome – en dis krom met ʼn rede. Daar is ʼn burgemeester wat bepaal het dat daar nie gelees, gelag of gedagdroom sal word op dié dorp nie, maar daar is een juffrou, die gr. 2-juffrou op die dorp, en sy loop regop. ʼn Bende kindertjies stel dan ondersoek in oor hoekom sy regop is, en op die ou einde kom dit daarop neer dat haar kop in die wolke is.”

Die boeke waarvan Murray hou, soos Winnie the Pooh, is sulke meesterstukke dat sy huiwerig was om so iets aan te durf, sê sy. “Toe kry ek my eie kinders, en ek lees in die aande vir hulle uit kinderboeke voor, en ek besef wat die magiese is van kinderstories en wat die geleenthede daarin is om hulle lewens te verryk. Dit het toe die saadjie vir die idioomreeks geplant en dit het ontwikkel in die idioomreeks wat ons nou het.”

Sy vertel sy en Nolte is die enigste twee mense wat deel is van hul maatskappy. “Die grootste oorweegrede daarvoor om die boeke self uit te gee, was omdat ons dan kan kyk hoeveel van die wins ons vir onsself kan hou. As jy deur ʼn groot uitgewery werk, is jou tantieme uiteraard baie kleiner.

“Dit kom saam met baie harde werk, want nou moet jy die werk doen wat ʼn groot uitgewery al vir jare met baie ondervinding doen, en soms het hulle groot departemente wat sekere goed doen. Ek en Charmaine doen alles self. Ons skryf die storie en dan werk ons saam met Marisa aan die illustrasies. Daarna sit ons saam met ʼn grafiese ontwerper wat die bladuitleg doen en ʼn taalversorger kyk na die taalgebruik,” verduidelik sy.

Die voorblad van die boek.

Die voorblad van die boek.

“Die grootste uitdaging is die verspreiding, want dit vat baie telefoonoproepe en innoverende bemarking. So, dit is ʼn groot klomp werk, maar op die ou end lê die bevrediging daarin dat jy heeltemal verantwoordelik is vir die produk en dat jy oor alles beheer het.”

Sy vertel Kromkieriefontein is in 2D-animasie omskep vir die Silwerskermfees. “Marisa doen alles met die hand op papier met penne en verf. Daar is 16 illustrasies in die boek en sy moes nog 50 bywerk in die bestek van ʼn maand. Daardie illustrasies is dan van die bladsy af gelig deur Johan Prinsloo wat vir die karakters lyf, ʼn persoonlikheid en ek wil amper sê ʼn ID-nommer, gegee het. Dit was vreesaanjaend om te dink dit moet alles in drie maande gebeur en Johan het baie keer deurnag gewerk om dit gedoen te kry. Ons is baie gelukkig met die eindproduk.”

Om saam met die kinderakteurs, wat die stemme aan die karakters vir die fliekprojek verleen het, te werk was vir Murray ʼn persoonlike hoogtepunt. “Ons hoofstemmetjie, Sebastian Winterbach, was so oulik en hy is net ʼn bondel energie. Hy het ʼn begrip vir wat hy moet doen en hy sal ook vrae vra. Ek het hom eenkeer gevra om die lyn: ‘Dalk is sy ʼn heks’ met ʼn droë stemtoon te sê. Toe vra hy: “Milan, hoe klink dit as dit nat is?”

Kromkieriefontein is deur Milan Murray, Charmaine Nolte en Johan Prinsloo vervaardig en Murray het die draaiboek geskryf en ook die regie behartig. Sebastian Winterbach, Mia Lottering, Lisa van Niekerk, Alexia Snyders en Albert Maritz verleen die stemme aan die karakters. Die fliek is van 1 November op Showmax te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.