ʼn Bonatuurlike riller… in Afrikaans

Janè van der Westhuizen (voor) en Bertha le Roux is te sien in die kortfliek Prinses: ‘n bonatuurlike riller wat by die kykNET Silwerskermfees gewys word.

ʼn Lokprent van Prinses volg onderaan die berig.

Bertha le Roux, ook bekend as Emma in die sepie, 7de Laan, maak vanjaar haar debuut op die grootskerm in die kortfliek, Prinses, wat tydens die kykNET Silwerskermfees bekend gestel word.

Prinses is ʼn bonatuurlike riller en handel oor die generasievloeke wat die Strydom-gesin teister. “Ek sien dit as ʼn rolprent oor die sondes van jou voorgeslagte wat jou inhaal,” het Bertha aan Draadloos gesê.

Bertha vertolk die rol van Janine Strydom, die ma van Simoné (Jané van der Westhuizen). Niks wat Simoné doen is goed genoeg vir haar ma nie. Wanneer Simoné gekroon word as die prinses van Laerskool Sonstraal en weer haar ma teleurstel, neem die gees van Simoné se oorlede ouma van haar besit en word familiegeheime oopgekrap.

Bertha waarsku dat kykers nie haar karakter van 7de Laan moet verwag nie. Hoewel sy dink dat daar mense is wat nie noodwendig daarvan sal hou om haar in só rol te sien nie, voel sy tog dat die Afrikaanse gehore gereed is vir ʼn bonatuurlike riller. “Hulle moet net verstaan vanwaar af die fliek kom: dit is simbolies.”

Prinses is een van 13 kortflieks wat by die Silwerskermfees vrygestel word waarna dit in selektiewe teaters en op kykNET uitgesaai sal word.

Dirk Stoltz, Adri Britz, Zelda Roelofs, Juané Vermaak en JC Snooke is ook in die rolprent te sien terwyl Morné du Toit verantwoordelik was vir die regie en teks.

Luister gerus na die volledige onderhoud met Bertha in Program 143 van Allegaartjie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.