ʼn Ope brief aan Oom David Kramer

De Klerk Oelofse saam met Edwin van der Walt. Foto: Verskaf

De Klerk Oelofse saam met Edwin van der Walt. Foto: Verskaf

De Klerk Oelofse

Oom David

Ek lê vanoggend in my kamer en luister na ʼn opname van “Biscuits en Biltong” en voor oom met die tune begin, vertel oom eers ʼn grappie oor oom se tuisdorp: “Kyk, toe ek daar grootgeword het, was dit woes en toe ek ʼn paar jaar later terugkeer, toe’s dit woester!” Oom, ek wil net vir oom sê, ek was nou onlangs daar en ek dink dis veilig om te sê oom kan die plek nou herdoop na “Die Wille Woester.” Oom, ek het nog nooit in my lewe so iets ervaar nie.

Ek het net daar buite Worcester op ʼn plaas gaan werk aan ʼn film met die naam Modder en Bloed. In die film speel ek ʼn boeregevangene op St. Helena in die vroeë 1900’s en gewoonlik as ek so iets aanpak, probeer ek my indink hoe dit vir die karakters in daai situasie moes wees.

Oom, ek sê vir oom op dié stel was dit nie eers nodig nie. Sean Else het verniet so hard voorberei, want hy hoef nooit eers action te geskree het nie. Dit was all action, all the time! Bathoni Robinson (sy was die produksie ontwerper) en haar span het daai plaas presies soos ʼn konsentrasiekamp laat lyk en sommer voel ook. Daar was heinings met doringdraad en wagtorings beman deur ouens in Britse uniforms. Daar was klein wit tentjies wat in die wind dans met ʼn paar vlak grafte net agter hulle en as ʼn mens opkyk, sien jy hoe die sneeu die Sandberg toepak.

En laat ek vir oom sê, dit was nie net die reën en die stelontwerp wat my laat voel het soos ʼn gevangene op ʼn groot stuk klip in die middel van die oseaan nie, dit was die wind ook! Albert Maritz (oom ken hom seker?) het eendag vir my vertel hy het gehoor die Here maak die wind in Rooiels, maar oom, as die Here die wind daar maak, het Hy dit seker verlede Augustus eers in Worcester kom toets. Dit was so erg dat die kamera crew ski-brille moes dra (ek wou ook, maar Dihantes het gesê daar was nie sulkes in die vroeë 1900’s nie).

Soos die gevangenes in daai tyd, moes ek ook elke dag dieselfde ou blou uniformpie aantrek. Okay, ek weet die boere sʼn was nou nie ontwerp deur Dihantes Engelbrecht nie, maar oom kry die idee. Saam met die uniform kom ʼn lekker stel vellies, nie sulke nice rooies soos oom sʼn nie en met die reën, ook baie selde droog. En kyk, koue voete is een ding oom, maar om van kop tot tone koud te kry, is ietsie helemal anders. Die oulike grimeringsdames het ons op ʼn aand een vir een by hul trokkie ingelok en al die manne het kaalkop daar uitgestap. En oom sal weet, Worcester-winter sonder hare, is soos ʼn Danville dice sonder petrol.

Die dae wat ons nie in Worcester was nie, het ons by die see geskiet. Ek weet oom dink nou “mmm, lekker by die see”, maar mmm, dis lekker koud by see in Augustus en ek is mos nie lief vir water nie. Oom weet hoe oom in die liedjie sing: “Biscuits en Biltong, ek is ʼn weskusklong”, so sal my liedjie seker lui: “Rys en beesvleis, ek is ʼn bosveldmuis.” Vir ʼn outjie van Polokwane is dit nogal minder lekker om die see in gejaag te word, die enigste branders wat ek ken is veldbranders. Maar toe ek eers sien Adam Bentel (die kinematograaf) is kamera en al in die see in, is ek ook maar met my beste hondjie-slag agterna.

Ek weet dit klink seker vir oom of ek deur ʼn helse tyd is, maar oom, dit is die mense wat saam met my hierdie ervaring deurgemaak het, wat dit eintlik baie spesiaal gemaak het. Met so ʼn span is opgee net nie ʼn opsie nie. Ek wens ek kon vir oom aan elkeen van hulle voorstel, maar dit is so ʼn groot familie dat almal nie eers in oom se Volkswagen Minibus sou pas nie. Ek wil die laaste vers van oom se song aan elkeen van hulle opdra:

“Gee vir my boegoe en kan-nie-dood-blare
Gee vir my soetwyn dis mos bloed in my are
Gee my velskoene en ʼn hoed op my hare
En wys my die langpad weg van die skare.”

Oom, ek sien Sean beskryf Modder en Bloed as ʼn “boere- western.” Ek dink nogal oom sal dit geniet; “Die Boere- Western geskiet in die Wille Woester!” Dit het op1 April landwyd begin draai, sien oom daar!

Groete,

De Klerk.

(P.S. Daar is regtig baie tannies in Worcester wat na talcum powder stink…)

Nota: Modder en Bloed draai tans in teaters landwyd. Die oorspronklike klankbaan en die musiekvideo vir die temalied uit die fliek is ook onlangs bekendgestel. Dié album, met die gelyknamige naam, bevat liedjies geskryf en gesing deur kunstenaars soos Corlea, Bok van Blerk en Karlien van Jaarsveld. Al die liedjies is oorspronklik en spesifiek vir die klankbaan geskryf en is tans in musiekwinkels landwyd beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ina ·

Wat ‘n heerlike leestukkie op die Vrydag oggend. Wil jy nie maar elke dag vir ons ‘n ietsie skryf dat ons kan lag pleks van bekommerd wees oor die land van ons. David bly maar ‘n gunsteling en jyt hom weereens net vaster in ons harte laat neskop. Vanaand kyk ek jou moevie en eet ‘n handvol popcorn op julle! Dankie dat julle Afrikaans nog laat lewe.

Pieta ·

Dis my dorpie daai. David se huis was in dieselfde straat maar ‘n blok verder as ons s’n. Baie Jode in ons buurt, die Kramers ook. Goeie mense. Ons Worcesteriete loop skeef as die wind nie waai nie. Daar is al 76 grade Celcius in die son aangeteken, 54 in die skaduwee. Upingtonners het liewer verhuis na hul daar kom aftree het. Daardie wind maak mens dood as hy nie waai nie.

Laurika of een sing ook daarvan, (‘n Man Stap) van Missy by die Pandora Kafee (het vir Missy geken al was sy drie of viet dekades my senior.) Dis nou woester.

Goed
Beter
Worcester!

Andre ·

Dankie De Klerk!.. Dit was soos om n grootmens se storie uit n kinder oog te lees – baie lekker! Baie dankie – nou kan my naweek maar kom, ek gaan dit tegemoet met n goeie, rustige gemoed..

annelise ·

Ook van Worcester. Ek is sooo lief vir wind, dit laat my lewendig voel. Waar ek ookal in die land is, as die wind waai, al is dit net ʼn bietjie, verlang my hart na die blou berge.

Poplap ·

Ek kan die blou berge verstaan, maar daai winde wat dag en nag woed???
Nee dankie.
Maar ja en ‘n groot asseblief vir Modder en Bloed!!!

Lizl ·

Dit was nou kostelik! Jou storie vertel kom so lekker mens wil net aanhou lees! As die rolprent wereld doodloop vir jou, is daar altyd skryf. Jyt natuurlik aanleg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.