‘ʼn Pawpaw vir my darling’, met iets in vir ons almal

n-Pawpaw-vir-my-darling

Zeus speel die rol van Tsjaka. Foto: Facebook

ʼn Pawpaw vir my darling, ʼn splinternuwe Koos Roets-rolprent, begin op 8 Januarie in fliekteaters regoor Suid-Afrika draai.

Die fliek is geskoei op Jeanne Goosen se boek met dieselfde titel en die verhaal word vertel uit die oogpunt van die Beeslaer-gesin se hond, Tsjaka. Tsjaka kry skaam vir die mensfamilie by wie hy woon. Die Beeslaers is deel van ʼn gemeenskap wat finansieel swaar trek, en waar niemand eintlik kan wag vir betaaldag sodat hulle kan braai en goedkoop brandewyn kan drink nie.

Soufie Beeslaer is die ma van die gesin en dié rol word vertolk deur Deirdre Wolhuter. “Ek lyk só sleg in die fliek,” lag sy hardop. “Tydens die rolprent se bekendstelling in Johannesburg het ek agtergekom die gehoor herken my glad nie. Op die plakkaat is ek ʼn kaalkop,” lag sy verder. “Die mense het gedink ek is Deon se date!” Deon Lotz speel die rol van Soufie se man, Vleis Beeslaer.

“Soufie en haar man het drie kinders, elkeen met sy eie probleme,” vertel Deirdre verder. “Sy en Vleis probeer só hard om hulle gesin bymekaar te hou en al wat hulle regtig wil hê is die beste vir hulle familie. En die lewe is moeilik vir haar, jy weet,” gesels Deirdre verder.

“Haar storie is een van verlore drome. Sy het drome gehad toe sy die kassier by die OK Stores was en haar drome is nooit bewaarheid nie. Ons almal kan daai ding verstaan van die teleurstelling van hoe die werklikheid net nie altyd tred gehou het met die drome wat jy vir jouself gehad het nie.”

Identifisering met die karakters

Die vervaardiger van die rolprent, André Scholtz, stem saam. “Een rede waarom rolprente sukselsvol is, is dat mense kan identifiseer met die karakters. In hierdie fliek is daar ʼn geweldige identifisering met al die karakters. Dis ʼn snit uit ons lewe wat ons almal al ervaar het en dalk al van vergeet het,” verduidelik hy. “Die mense lag want dis waarhede, maar saam met die lag in die lewe is daar ook ʼn traan.”

“Brümilda (van Rensburg) lyk ook nie in die fliek soos wat die publiek haar ken nie,” sê Deirdre. “En alles kom terug tot by Koos Roets. Ons sal enigiets vir hom doen. Koos het by Katinka Heyns gekuier toe die boek daar by haar huis lê,” vertel sy. “Hy steel toe die boek by haar en toe Katinka dit agterkom, sê sy vir Koos hy kan die boek kry as ʼn Kerspresent. Hy het die teks geskryf en het ʼn paar goed bygevoeg wat nie in die boek is nie.”

“ʼn Mens kan wel nie te ver van die boek afwyk nie,” sê André. “Daar is verskillende kulture in die boek en ons het dit so gehou. Daar is ʼn swart bywoner en ʼn swart polisieman en daar is baie interaksie tussen hulle en die ander wit gesinne in die straat. Die strate waar ons die verfilming gedoen het, het gelukkig mense van verskillende kulture en ons kon dusmense gebruik van die straat af,” vertel hy.

Hoekom moet mense gaan kyk?

“Dit bly op die ou einde ʼn ongelooflike ‘love story’,” sê Deirdre. “Ten spyte van al die moeilikheid wat sy het, kan jy die liefde sien tussen Soufie en Vleis wanneer hy vir haar die ‘pawpaw’ oorhandig.”

“Daar is pyn saam met die goeie dinge in die lewe en almal skrop ʼn nes op hulle eie manier. Ons moet leer om mekaar te waardeer,” sê André. “Daar is iets in die rolprent vir almal – ons kan baie by mekaar leer.”

[wpvideo KiQt7AVO]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Schalk ·

Ek het jare terug die boek gelees, en dit was loshande die beste afrikaanse boek wat ek nog gelees het. Ek weet net nie hoekom daar n bietjie van die storie afgewyk is nie? Was dit ook maar polities die regte ding om te doen?

Andre Scholtz ·

Schalk..glo nie iets is weggeneem nie
Defnitief nie om polities reg te wees nie…allermins
Daar is wel iets bygevoeg.. maar vir die lagspiere.Gasn kyk gerus en laat weet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.