‘Noem my Skollie’ ingeskryf vir Oscar-toekenning

Tarryn Wyngaard Dann-jacques Mouton. Foto: Verskaf

Tarryn Wyngaard Dann-jacques Mouton. Foto: Verskaf

Die Afrikaanse fliek, Noem my Skollie, is pas deur die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NRVS) aangewys as Suid-Afrika se amptelike keuse vir die 89ste jaarlikse Oscar-toekennings in die kategorie “Beste buitelandse rolprent”.

Zama Mkosi, uitvoerende hoof van die NRVS, het gesê dié fliek is gekies na ʼn streng keuringsproses deur ʼn beoordelingspaneel verbonde aan die NRVS.

“Dit is ʼn aanduiding van die rol wat die NRVS speel in die bemagtiging van die rolprentbedryf deur Suid-Afrikaanse stories na die wêreld te neem,” het sy gesê.

Die vervaardigers, Dawid Max Brown en Moshidi Motshegwa, asook kykNET en M-Net, het Dinsdag dié positiewe nuus verwelkom.

Dié fliek is sover deur 32 000 gekyk sedert dit op 2 September in teaters begin draai het.

Noem my Skollie (Foto: Verskaf)

Noem my Skollie (Foto: Verskaf)

Noem my Skollie is ʼn projek wat ons na aan die hart lê en kykNET en M-Net is geweldig trots op elkeen wat lewe aan die film gegee het,” het Mario Dos Santos, direkteur van M-Net kanale, gesê.

Dié fliek handel oor die lewensverhaal van die draaiboekskrywer John W. Fredericks (70) en vertel hoe dié suksesvolle skrywer en regisseur agter ʼn vullishoop grootgeword het. Met geen heenkome nie en as lid van ʼn bende, het hy daarin geslaag om sy lewe om te draai met die krag van geloof.

Dié fliek, met Daryne Joshua as regisseur, speel af op die Kaapse Vlakte en in die Pollsmoor-gevangenis.

Die fliek het ook geskiedenis gemaak toe dit in Augustus by die Pollsmoor-gevangenis vertoon is. Dit is die eerste film wat nog ooit in hierdie maksimum-gevangenis vertoon is voordat dit landwyd op die grootskerm vrygestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiepie ·

Wat bedoel Me. Zama Mkosi as sy sê “Dis ‘n aanduiding van die rol wat die NRVS speel in die bemagtiging van die rolprentbedryf…”? Is dit hulle hele bydrae? Om te oorweeg en te stem vir watter rolprent SA moet verteenwoordig by die Oscars? Klink vir my baie na SASCOC wat sy eie stert prys vir die prestasies van atlete wat grotendeels sonder hulle insette en ondersteuning sukses behaal het. Gun die mense wat die “hard yards” ingesit het hulle sukses en moenie na die tyd probeer om in hulle shine te deel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.