Nog ʼn Afrikaanse fliek oorsee te sien

Irshaad & Moniqe_preview

Irshaad Ally en Monique Rockman. (Foto: Lindsay Appolis)

Gambit Films se splinternuwe rolprent, Nommer 37, word eersdaags op die grootskerm by die SXSW-rolprentfees in Texas, VSA, vertoon.

Nommer 37 is aanvanklik as kortfliek vrygestel, reeds in 2016 bekroon met ’n Safta-toekenning vir beste kortfilm en een van slegs 44 films deur debuutfilmmakers wat vir die rolprentfees gekies is uit sowat 8 000 inskrywings van oor die wêreld.

“As ’n fliek se naam Nommer 37 is, en in ’n fiktiewe gebied van die Kaapse Vlakte afspeel, is dit maklik om aan te neem dat dit oor bendes gaan, maar dit is nie die geval nie,” het Nosipho Dumisa, regisseuse en skrywer, luidens ’n verklaring oor haar debuutspeelfilm gesê.

“Dit is deur en deur ’n misdaadriller wat elke oomblik meer spanningsvol raak. Dit gaan oor alles wat vir ’n paartjie kan skeefloop wanneer depressie, nuuskierigheid, gierigheid, vrees en slegte keuses saamgegooi word.”

Danny Ross_preview

Danny Ross. (Foto: Lindsay Appolis)

Dumisa, wat oorspronklik van Durban af kom, maar tans in die Kaap woon, was al die regisseuse van verskeie advertensies, televisiereeks- en realiteitsreeksvoorskoue, leefstylprogramme en kortfilms. Sy het onlangs ook die regie behartig van twee episodes van danZ vir kykNET & Kie en is een van die vervaardigers van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster.

Nommer 37 speel af in ’n fiktiewe woonstelblok genaamd Haven Mansions in Dumisa se weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlakte en bied ’n kykie deur die oë van ’n verbitterde eksmisdadiger wat deur die wêreld waarvan hy eens so deel was, opgekou en uitgespoeg is.

“As kind het ek graag na rillers, gruwels, aksie- en romantiese flieks gekyk. Dit was vir my opwindend om aan ’n rolprent te werk wat belangrike sosiale temas in ons gemeenskap onbeskaamd ondersoek, en net so onbeskaamd weergee as vermaak,” het Dumisa verder vertel.

Irshaad Ally vertolk die rol van Randal Hendricks wat onlangs deur ’n ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel- en woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ’n sosiopaat-geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis. Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ’n verkyker present gee, kan hy sy bure dophou. Hy sien op ’n dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ’n moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld. Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ’n lewensgevaarlike reis, namate die wêreld rondom hom al meer in chaos gedompel word.

Nosipho_preview

Nosipho Dumisa. (Foto: Lindsay Appolis)

Ally, wat bekend is as Rhafiek in Suidooster en Gasant in Four Corners, is baie opgewonde om deel te wees van hierdie produksie. “Ek is al deel van hierdie projek sedert die kortfilm in 2014 vervaardig is. Sedertdien was daar baie uitdagings om te oorkom, maar vier jaar later word die fliek uiteindelik vrygestel. Die gevoel is onbeskryflik.”

Oor die rol wat hy speel, sê hy: “My een swaer is ’n parapleeg. Ek was daar toe hy met depressie geworstel het en my sussie wou los, net soos wat Randal vir Pam wou los. Hy het baie vriende, wat oor die jare deel geword het van ons gesin. Hulle is ’n wilde klomp rolstoelgebonde ouens met skerp tonge, wat vir my soos ouer broers is. Om voor te berei vir my rol, het ek hulle persoonlike en intieme vrae gevra oor hoe dit vir ’n man is om ’n parapleeg te wees, en dit is beantwoord met grappies en trane. Dit was terselfdertyd wonderlik en aaklig, maar ek sal dit enige tyd weer doen omdat ek so baie geleer het. Dumisa is ’n wonderlike regisseuse en dit was lekker om saam met haar te werk!”

Die storie, wat hoofsaaklik vanuit Randal se woonstel vertel word totdat die speurder opdaag, is slim saamgestel om die spanning en gevoel van disfunksie in die fliek enduit te handhaaf.

Die talent van verskeie plaaslike akteurs, onder wie Sandi Schultz (Binnelanders, Noem my Skollie), Deon Lotz (Hansie, Faan se Trein), Elton Landrew (Dis ek, Anna, Dryfsand, 7de Laan), Ephraim Gordon (Class Act), Danny Ross (Broken Vows, Suidooster), David Manuel (The Outsiders, Noem my Skollie) en Amrain Ismail-Essop (This Life, Forgiveness) word ten toon gestel, terwyl Monique Rockman ook beïndruk in haar eerste hoofrol op die grootskerm.

Nommer 37 is ’n spanningsbelaaide grootskerm-ervaring, wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou tot die heel laaste toneel. “Ek hoop dat alle Suid-Afrikaners hierdie fliek sal gaan kyk, want die tema is universeel terwyl hulle ook meer sal sien van ’n wêreld wat aan die meeste van ons onbekend is. Teen die tyd dat fliekgangers die bioskoop verlaat, sal hulle vermaak en verras voel … en dalk ook sommer lus wees om ’n verkyker aan te skaf,” het Dumisa gesê.

Die rolprent is vervaardig deur Gambit Films in samewerking met kykNET Films, M-Net en die departement van handel en nywerheid (DTI).

Die fliek word van 9 tot 16 Maart by die SXSW-rolprentfees in Texas vertoon en plaaslik op 1 Junie in fliekteaters landwyd vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.