Nuwe Leon Schuster-rolprent dán in teaters

Leon Schuster en Themba Ntuli (Foto: Verskaf)

Meer as ʼn half dekade ná die uitreiking van sy laaste fliek keer die Suid-Afrikaanse komediant en rolprentmaker Leon Schuster terug na dié bedryf met nóg ʼn komedie – dié keer ʼn fliek met ʼn inspirerende storielyn.

Hy sê Frank & Fearless volg in ware Schuster-tradisie: Die pittige komedie en humoristiese sosiale kommentaar waarvoor vorige flieks soos There’s a Zulu on my Stoep en Mr. Bones bekend is.

Wat dié fliek egter onderskei van vorige projekte, is dat dié fliek bestaan uit ʼn “relevante en omstrede storielyn” wat ʼn “diep emosionele impak sal laat”.

Frank & Fearless was ʼn baie moeilike fliek om te maak en die draaiboek deur my, Gray Hofmeyr, en Geoff Newton, is oor ’n tydperk van vier jaar ontwikkel,” vertel Schuster. “Ek en Gray het vir die eerste keer saamgewerk aan Sweet and Short in 1991 en het sedertdien nege prente saam gemaak. Ons is ou kamerade en die een sonder die ander is soos vir ’n soldaat om oorlog toe te gaan sonder ʼn geweer.”

Schuster, plaaslik een van die suksesvolste rolprentmakers, sê hy is vol vertroue dat dié fliek al sy vorige projekte gaan oortref.

Frank & Fearless speel af in Afrika en neem kykers op ʼn avontuur wanneer ʼn hartlike ou man, Sonny Frank (Schuster), en ’n tienjarige plattelandse Afrika-seun, Fearless (Themba Ntuli), besluit om Suidoos-Asië se ambassadeur te ontvoer in ʼn poging om die uitwissing van renosters te bekamp.

Wanneer dinge erg skeefloop, word Frank en Fearless gedwing om ʼn peloton genadelose stropers aan te durf – en hier kom hulle te staan teen die eks-wildbewaarder, Dolf (Kenneth Nkosi), met wie Sonny ʼn nare ervaring gehad het.

“Dit was nogal ʼn omstrede besluit om ʼn komedie te laat afspeel teen so ʼn tragiese agtergrond soos die huidige renosterstropingskrisis. Ek glo egter dat komedie en tragedie mekaar kan komplementeer en kan bydra tot die emosionele impak van die verhaal en boodskap, mits die spel en storie heeltemal eerlik en opreg is,” sê Hofmeyr wat ook regisseur van die fliek is.

Die fliek word plaaslik versprei deur Filmfinity (Pty) Ltd en word op 23 November 2018 landswyd uitgereik. Frank & Fearless is vervaardig deur André Scholtz en Menzi Thabede in samewerking met M-Net, Chrome Films, die departement van handel en nywerheid (DTI) en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

PT ·

agnee net toe ek dog ons is verby sy simpel flieks. (die oues was goed met die pranks) maar die wat hy probeer act, nee wat, ek hou verby.

piper ·

stem saam. sy flieks is swak. sal beslis nie gaan kyk nie. sy ; candid camara ; snitte het ek geniet maar nie sy flieks nie.

Verstom ·

Bolander, gaan kyk jy dan maar namens al die ander wat nie wil kyk nie.

Valerie ·

“Inspirerende storielyn”? Van Schuster. Onmoontlik. Dis seker ‘n verwysing na nog ‘n toilet rampie. Hou maar ver verby.

Drieks ·

Heerlik, kan nie wag nie… Leon het soveel vermaak vir ons al gebring.

Eugene ·

Nee ou Leon…
Maak eerder vir ons pranks, dis jou kos daai man.
– beste vermaak in my jeug was maar die ‘You must be Joking’s’.

Jakes ·

So, die groot aankondiging met die uitreiking sy vorige rolprent (dat dit sy laaste fliek sou wees) was sommer net ñ liegstorie.

Wilmarie ·

As julle nie daarvan hou nie, moet dit dan nie kyk nie! Daar is wel mense wat dit geniet!

NM ·

SA het hopeloos te veel mense wat van dié toilethumor hou, seker omdat dit hul aan die land laat dink LOL

Hennie ·

Die fliek speel seker weer grotendeels af in die toilet, want soos sy vorige flieks was maagwerkings die hooftema van sy stories. Hy vind dit klaarblyklik as goeie kykvermaak.

Jannie ·

Luister na julself en gaan stel bietjie selfondersoek in na hoekom dinge so sleg gaan in die land van ons.
Negatiewe kommentaar is aan die orde van die dag wat het geword van as ek niks goed kan sê nie blt eerder stil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.