Nuwe rolprentweergawe van ‘Fiela se kind’ binnekort op die silwerdoek

ʼn Splinternuwe rolprentweergawe van die topverkoper Dalene Matthee-verhaal, Fiela se kind, is van 13 September in fliekteaters reg oor Suid-Afrika te sien.

Brett Michael Innes, skrywer en regisseur van die Safta-bekroonde fliek, Sink, het die regie behartig terwyl Danie Bester (Vir altyd, Vaselinetjie en Stroomop) in samewerking met kykNET Films, Filmfinity (Pty) Ltd en die departement van handel en nywerheid vir die vervaardiging verantwoordelik was.

“Die storie van Fiela is hartverskeurend en treffend,” sê Bester luidens ʼn mediaverklaring. “Die roman het ʼn spesiale plek in die harte van baie Suid-Afrikaners en hoewel dit in 1985 geskryf is glo ons dat dit temas het wat vandag steeds tot ons spreek.”

Die roman is in 1988 deur Katinka Heyns verwerk tot ʼn rolprent met Shaleen Surtie-Richards as Fiela – ʼn vertolking wat so ikonies is as die karakter deur wie dit geïnspireer is. Die jongste weergawe van die fliek is ook in die Knysna-bos en die Karoo geskiet.

“Natuurlik sal daar vergelykings getref word met die eerste fliekweergawe,” sê Innes, wat ook die draaiboek vir die fliek geskryf het, in die verklaring.

Cindy Swanepoel as Barta. (Foto: Verskaf)

“Ons weet dat ons dit nie kan vervang nie en ons probeer nie om dit te doen nie. Klassieke literatuur het ʼn manier om verskillende kunstenaars te inspireer om dit op verskillende maniere te vertolk en ons glo dat Fiela se kind in daardie kategorie val. Dit is werklik ʼn tydlose verhaal.”

Die verhoogaktrise Zenobia Kloppers blaas nuwe lewe in die karakter Fiela Komoetie. Sy het ook in 2007 dié rol in die verhoogproduksie van Fiela se kind vertolk. “Dit is ʼn groot eer om hierdie karakter op die silwerdoek te vertolk. Fiela het ʼn manier om selfs die hardste harte te smelt en haar reis is een wat ons herinner om almal beter mense te wees.”

Die nuwelinge Luca Bornman en Wayne Smith vertolk onderskeidelik die rol van die jonger en ouer Benjamin Komoetie en Drikus Volschenk en Cindy Swanepoel vertolk die rolle van Elias en Barta van Rooyen. Melissa Willering, André Stoltz, Wayne van Rooyen en Stefan Erasmus maak ook deel uit van die rolverdeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.