Nuwe ‘Space Jam’-fliek onttroon Marvel by loket

LeBron James en die Looney Tunes-karakters in ‘Space Jam: A New Legacy’. (Foto: IMDb)

Space Jam: A New Legacy het die naweek skoonskip gemaak by die Amerikaanse loket. Die fliek het $31, 6 miljoen (sowat R462 miljoen) in sy openingsnaweek verdien.

Met ʼn gesamentlike stromingsuitreiking het dit ʼn nuwe pandemie-era-rekord vir ʼn gesinsrolprent opgestel.

Die aksiebelaaide rolprent wat handel oor basketbal, is die opvolg van die 1996-rolprent met Michael Jordan. Hierdie keer snoer LeBron James kragte saam met die Looney Tunes-karakters om sy seun te red.

Ten spyte van slegte resensies onttroon Space Jam: A New Legacy die Marvel-fliek Black Widow. Dié superheldavontuur, met Scarlett Johansson as die Russiese spioen Natasha Romanoff, het $26,3 miljoen (sowat R382 miljoen) in sy tweede naweek verdien.

Dit is ʼn skerp daling van 67% van die $80 miljoen (sowat R1,16 miljard) wat die fliek verlede naweek in sy openingsnaweek verdien het. Dié rolprent was toe die winsgewendste fliek wat tot dusver post-Covid-19 uitgereik is.

In die derde plek is Sony se psigologiese riller Escape Room: Tournament of Champions, met ʼn inkomste van $8,8 miljoen (sowat R128 miljoen).

Die vierde plek word ingeneem deur Universal se F9: The Fast Saga met $7,7 miljoen (sowat R111 miljoen) en die vyfde plek deur Universal se Boss Baby: Family Business met $4,7 miljoen (sowat R68 miljoen).

In die sesde plek is The Forever Purge met $4,1 miljoen (sowat R59 miljoen), in die sewende plek is A Quiet Place: Part II met $2,2 miljoen (sowat R32 miljoen) en in die agtste plek is Roadrunner met $2 miljoen (sowat R29 miljoen).

In die negende plek is Cruella met $1,2 miljoen (sowat R17 miljoen) en in die tiende plek is Pig met $970,000 (sowat R14 miljoen).

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.