Nuwe ‘Star Wars’ ʼn lokettreffer

star-wars-croatia

ʼn Persoon wat aangetrek is soos ʼn karakter uit Star Wars stap in die hoofstraat van Dubrovnik, Kroasië. (Foto: Xinhua/Grgo Jelavic)

Aanhangers van die gewilde Star Wars-rolprentfranchise het die afgelope naweek na rolprentteaters gestroom om die agtste en jongste aflewering in dié reeks te sien.

Star Wars: The Last Jedi het in sy openingsnaweek ʼn reusebedrag van $450 miljoen (sowat R5,7 miljard) in kaartjieverkope wêreldwyd gemaak. Dit hervestig dié ruimte-avontuur franchise as ʼn lokettreffer.

Die Star Wars-sage is in 1977 deur George Lucas geskep. Volgens comScore het The Last Jedi die afgelope naweek $220 miljoen (ongeveer R2,8 miljard) by die loket in die VSA en Kanada gehaal terwyl Star Wars: The Force Awakens $248 miljoen (ongeveer R3,1 miljard) in sy openingsnaweek in Amerika en Kanada gemaak het met sy uitreiking twee jaar gelede.

Dié debuut is nog ʼn reusesukses vir die Walt Disney-maatskappy, wat die Star Wars-vervaardiger Lucasfilm in 2012 oorgekoop het.

“Daar is baie min handelsname wat hierdie vlak van entoesiasme en relevansie kan behou,” het Paul Dergarabedian, senior media-analis vir comScore, gesê.

Daar is ten minste nog vyf Star Wars-flieks in die pyplyn by Disney, insluitend ʼn fliek oor ʼn jong Han Solo getiteld Episode IX, wat na verwagting in Desember 2019 uitgereik sal word.

In The Last Jedi vertolk die aktrise Carrie Fisher vir die laaste keer die rol van Leia, die geliefde prinses wat ʼn generaal word en die weerstandsmagte teen die bose Eerste Orde lei. Fisher is in Desember 2016 aan ʼn hartaanval dood.

Die held Luke Skywalker, wat deur Mark Hamill vertolk word, het ook ʼn prominenter rol in The Last Jedi.

Disney het gesê internasionale kaartjieverkope vir The Last Jedi is die derde grootse vir rolprente wat nie by die Chinese mark, die tweede grootste mark vir flieks ter wêreld, ingesluit is tydens sy openingsnaweek nie. Die fliek begin eers op 5 Januarie in China wys.

Dave Hollis, president van Disney se wêreldwye teaterverspreiding, het gesê die positiewe reaksie van aanhangers dui op sterk kaartjieverkope oor die vakansietydperk. Fliekgangers het die fliek ʼn A-gradering toegeken in ʼn peiling deur CinemaScore.

Loket-analiste het nie verwag dat The Last Jedi die openingsnaweeksyfers van The Force Awakens wat in 2015 uitgereik is, sou oortref nie, aangesien dit die eerste Star Wars-fliek was wat in ʼn dekade uitgereik is. Dié fliek het uiteindelik meer as $2 miljard (ongeveer R25,6 miljard) verdien.

Disney sal die verspreidingsregte vir alle vorige Star Wars-flieks oorneem as deel van die ooreenkoms van $52 miljard (sowat R668 miljard) wat verlede week met Twenty First Century Fox Inc. gesluit is. Fox het die vorige ses fliek in die Star Wars-reeks versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.