Die rolprent Inxeba (The Wound) is gekies as Suid-Afrika se inskrywing vir beste buitelandse rolprent in aanstaande jaar se 90ste Oscar-toekennings.
“Die rolprent het plaaslik twee toekennings ingepalm tydens die Durbanse Internasionale Rolprentfees vir beste akteur en beste Suid-Afrikaanse regisseur,” sê Cait Pansegrouw, vervaardiger van Inxeba.
“Dit is ‘n rolprent wat vyf jaar lank geneem het om te maak en dit is ’n fliek waarop alle Suid-Afrikaners kan trots wees.” Die rolprent handel oor ’n gay liefdesverhouding wat in Xhosa vertel word. Dit volg die verhaal van Xolani en ander jong Xhosa-seuns wat hul gemeenskappe verlaat om inisiasie-seremonies by te woon.
Die rolprent het tot dusver hewige reaksie ontlok aangesien dit handel oor ’n private kulturele ritueel waaroor daar nie besonderhede bekend gemaak mag word nie. Die vervaardigers en akteurs het onder meer doodsdreigemente ontvang.
Die 90ste Oscar-toekennings word op 4 Maart in Hollywood, Los Angeles, gehou. Die nominasies sal op 23 Januarie bekend gemaak word.
Die enigste Suid-Afrikaanse rolprent wat nog in die kategorie vir beste buitelandse rolprent ’n Oscar kon wen, was Gavin Hood se Tsotsi in 2006.
Inxeba is in Augustus deur The New York Times gelys onder resensente se keuse terwyl The Economist dit onlangs gelys het onder “What is the World Watching”. Die rolprent het reeds 12 internasionale toekennings gewen en word in Februarie 2018 landwyd in Suid-Afrika bekend gestel.