Onafhanklike fliek debuteer in Labia-teater

Chris Wait, regisseur van ‘Die reisiger’. (Foto: Verskaf)

Die splinternuwe kortfliek, Die reisiger, word eersdaags by die Labia-teater in Tuine, Kaapstad, vertoon.

Chris Wait, bekend as vlogger en inhoudskepper, is met dié fiksie-rolprent vir die eerste keer in die regisseurstoel. Die fliek, wat 35 minute lank is, is deur Free Wild World Media House vervaardig.

Die reisiger handel oor twee korrupte polisiemanne wat ʼn diamantdief probeer beroof. Dit is ʼn tipiese “good cop, bad cop-verhaal en is oor ʼn tydperk van vier dae in Tulbagh in die Wes-Kaap verfilm.

Die meeste lede van die rolprentspan en toneelspelers is amateurs met ʼn passie vir rolprente en die mikpunt was om te doen wat ook al nodig is om ʼn eerste rolprent te voltooi.

“Ek weet nie regtig wat om daarvan te dink nie, want ek is te na daaraan. Wanneer mense dit sien, kan hulle self ʼn mening vorm,” sê Wait oor die fliek.

Die draaiboek is in Afrikaans, met akteurs Marius Hartzenberg as Robert, Marvin Borcherds as Lucky, Alwyn Mouton as André en Tarryn Lee Snyders as Vanessa.

Ná ʼn aanvanklik mislukte poging om die rolprent die lig te laat sien en ʼn klein begroting, het Wait se geduld en harde werk uiteindelik vrugte afgewerp.

‘n Toneel uit ‘Die reisiger’. (Foto: Verskaf)

“Ek het glad nie verwag dat dit so moeilik sal wees om ʼn fliek te maak nie. Ek het altyd gereken dis net ʼn kwessie van opdaag en skiet, maar nadat ek by ander rolprentmakers kers opgesteek het en ná vele ure van navorsing en YouTube-video’s, het ek eers besef waarvoor ek myself inlaat,” vertel Wait.

“Die afgelope jaar was ʼn ontsaglike leerskool in die proses van rolprentvervaardiging, en hoewel die resultaat waarskynlik nie tegnies perfek is nie, is ek trots op wat ons as span vermag het met so ʼn klein begroting en minimale ervaring.”

Hy vertel hy wou graag die fliek in Afrikaans aanpak omdat dit sy moedertaal is. “Ek moes prakties te werk gaan. Tydens die projek was ek woonagtig op Tulbagh en die idee was om vriende en kennisse, van wie die meeste Afrikaans was, by die projek te betrek.”

Wait het tans ook twee ander draaiboeke wat hy graag in rolprente wil omskep. Een is in Afrikaans en die ander een is ʼn vollengte- Engelse storie wat oorwegend in Kaapstad afspeel.

“Die tyd sal leer of dit ʼn werklikheid gaan word. Ek is gaande oor die rolprentmaak-proses, so ek gaan my allerbeste doen om dit te verwesenlik.”

Twee private vertonings sal op Vrydag 26 November by die Labia-teater in Kaapstad aangebied word. Sitplekke is beperk en daarom is bespreking noodsaaklik.

Vir besprekings, besoek www.freewildworld.com/diereisiger.

Kyk hier na die lokprent vir Die reisiger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.