Opvolgflieks van groot lokettreffers op pad grootskerm toe

Russell Crowe in 'Gladiator'. (Foto: Facebook via @GladiatorMovie)

Russell Crowe in ‘Gladiator’. (Foto: Facebook via @GladiatorMovie)

Die regisseur van die lokettreffer en Oscar-bekroonde fliek Gladiator, Ridley Scott, het bykans twee dekades nadat die fliek die lig gesien het, amptelik aangekondig dat hy besig is met die opvolgfliek.

Gladiator het in 2000 die lig gesien. Volgens die vermaaklikheidswebwerf RTE, het Scott al verlede jaar tydens die jaarlikse SXSW-konferensie in Texas in die VSA, waar hy die fliek Alien: Covenant aan’t bemark was, gesê die dood van Maximus, vertolk deur die Australiese akteur, Russell Crowe, sal hom nie stuit nie.

“Ek weet hoe om hom terug te bring,” het Scott gesê, maar die opvolgfliek sal glo fokus op die karakters Lucius, die seun van Lucilla, vertolk deur Connie Nielson, en neef van Commodus, vertolk deur Joaquin Phoenix.

Gladiator is tydens die Oscar-seremonie in 2001 met vyf goue beeldjies vereer, onder meer vir beste akteur (Crowe) en beste rolprent. Scott was ook benoem vir beste regisseur, maar is deur Stephen Soderbergh uitgestof vir die fliek Traffic.

Aanhangers van die Austin Powers-flieks kan ook solank hulle springmielies gereed kry vir die vierde fliek in dié franchise, met Mike Myers in die hoofrol as dié skreeusnaakse en stoute spioen.

Elizabeth Hurley en Mike Myers in 'n toneel uit 'Austin Powers: International Man of Mystery'. (Foto: Facebook via @AustinPowersMovie)

Elizabeth Hurley en Mike Myers in ‘n toneel uit ‘Austin Powers: International Man of Mystery’. (Foto: Facebook via @AustinPowersMovie)

Myers vertolk ook die rol van Powers se aartsvyand, Dr. Evil, en het glo aan die webwerf Entertainment Tonight gesê die jongste aflewering sal meer uit die oogpunt van dié karakter vertolk word.

Jay Roach, wat aan die stuur was van die vorige drie flieks in die franchise, Austin Powers: International Man of Mystery (1997), Austin Powers: The Spy Who Shagged Me (1999) en Austin Powers in Goldmember (2002), sal weer die regie behartig.

Myers het aan Access Hollywood gesê hy het die hoofkarakter geskep as huldeblyk aan sy pa, wat in 1991 oorlede is.

“Ná my pa se dood het ek bestekopname gedoen van die invloed wat hy op my as mens gehad het, asook die invloed wat hy op my en my komedie gehad het. So, Austin Powers was ʼn huldeblyk aan my pa, wat my voorgestel het aan James Bond, Peter Sellers, The Beatles, The Goodies, Peter Cook en Dudley Moore.”

Dit is nog nie bekend wanneer dié twee lankverwagte opvolgflieks uitgereik gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerda ·

Wat is so wonderlik aan flieks. Dis nie meer n plesier om na enige fliek
te kyk met die wat die Here se Naam so ydelik daarin gebruik word nie , en al die gevloekery en sex tonele dis aaklig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.