Oscar-toekennings: Hier is die wenners

oscar wenners

Sam Rockwell, Frances McDormand, Allison Janney en Gary Oldman met hul beeldjies. (Foto: oscar.go.com)

Die 90ste Oscar-toekennings is Sondagaand (internasionale tyd) by die Dolbyteater in Hollywood in Los Angeles uitgedeel.

Die flieks The Shape of Water en Three Billboards outside Ebbing, Missouri het dié glansryke toekenningsaand, wat die room van die rolprentbedryf vereer, oorheers.

The Hollywood Reporter berig The Shape of Water het met $57,4 miljoen die meeste geld by die loket gemaak van al die flieks wat in die afgelope vyf jaar dié toekenning gewen het. Verlede jaar se wenner, Moonlight, het maar $22,1 miljoen verdien en die 2016-wenner, Spotlight, maak aanspraak op $45 miljoen.

Dié flieks het maar ʼn fraksie van die geld verdien wat lokettreffers soos The Greatest Showman, die musiekblyspel wat tans in teaters draai, tot dusver verdien het. Volgens The Washington Post het dié fliek al ʼn allemintige $350 miljoen by die loket gemaak – maar dié fliek het tot dusver nog net ʼn Golden Globe-toekenning vir die beste oorspronklike liedjie ontvang.

Bekendes het die Amerikaanse aktrise Frances McDormand Sondagaand luidkeels toegejuig toe sy met die Oscar vir die beste aktrise vir haar rol in Three Billboards outside Ebbing, Missouri vereer is. McDormand het in 1997 ook dié toekenning vir die fliek Fargo ontvang. Sy is al drie ander kere vir ʼn Oscar benoem.

Die aktrise het sommige bekendes in die gehoor laat kopkrap oor ʼn laaste opmerking in haar aanvaardingstoespraak toe sy verwys het na ʼn “inclusion rider”. Sy het later verduidelik dit beteken dat ʼn akteur of kunstenaar kan aandring op ʼn bykomende klousule in hul kontrak wat bepaal dat die rolverdeling en die filmspan divers is.

Gary Oldman, wat die Oscar vir beste akteur vir sy rol in die fliek Darkest Hour gewen het, het harte geroer toe hy in sy toespraak sy 98-jarige ma vir haar liefde en ondersteuning bedank het. “Skakel die ketel aan. Ek bring ʼn Oscar huis toe,” het hy gesê.

Bekendes was nie almal in swart geklee in solidariteit met die #MeToo en Time’s Up-veldtogte teen seksuele teistering nie. Verskeie akteurs en ander kunstenaars het egter daarna verwys dat dié veldtogte steeds gesteun moet word.

Tarana Burk, stigter van die #MeToo-veldtog, het gesê dit verskaf almal groot vreugde dat Harvey Weinstein, die bekroonde Amerikaanse rolprentvervaardiger en medestigter van The Weinstein Company, nie teenwoordig was nie. Weinstein word daarvan beskuldig dat hy tientalle vroue verkrag en seksueel geteister het.

“Talle aktrises het opgemerk: ‘Jy verstaan nie hoe vreemd dit is dat Weinstein nie hier is nie, want hy was altyd teenwoordig.’ Hulle is so verlig – hulle hoef nie meer teen hom vas te loop of voor te gee nie. Dit voel soos ʼn sluier wat gelig is.”

Vir meer inligting oor die hoogtepunte, besoek die Oscars-webwerf.

Hier is ʼn lys wenners:

Beste fliek
The Shape of Water

Beste aktrise
Frances McDormand, Three Billboards outside Ebbing, Missouri

Beste akteur
Gary Oldman, Darkest Hour

Beste byspeler (man)
Sam Rockwell, Three Billboards outside Ebbing, Missouri

Beste byspeler (vrou)
Allison Janney, I, Tonya

Beste dokumentêr
Icarus

Beste animasieprent
Coco

Beste kortfilm (regstreekse aksie)
The Silent Child

Beste kortfilm (animasie)
Dear Basketball

Beste buitelandse fliek
A Fantastic Woman

Beste visuele effekte
John Nelson, Paul Lambert, Richard R Hoover en Gerd Nefzer, Blade Runner 2049

Beste grimering en haarstilering
Kazuhiro Tsuji, David Malinkowski en Lucy Sibbick, Darkest Hour

Beste kostuumontwerp
Mark Bridges, Phantom Thread

Beste klankredigering
Richard King en Alex Gibson, Dunkirk

Beste klankvermenging
Gregg Landaker, Gary Rizzo en Mark Weingarten, Dunkirk

Beste algehele redigering
Heaven is a Traffic Jam on the 405

Beste produksieontwerp
Paul Denham Austerberry, Shane Vieau en Jeff Melvin, The Shape of Water

Beste oorspronklike draaiboek
Jordan Peele, Get Out

Beste aangepaste draaiboek
James Ivory, Call Me by Your Name

Beste regisseur
Guillermo del Toro, The Shape of Water

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.