Oscar-wenner op soek na akteur vir nuwe fliek

Eric Abraham (Foto: IMDB)

Die Oscar-bekroonde vervaardiger Eric Abraham en die veelbekroonde filmmaker Oliver Hermanus is op soek na ʼn jong Suid-Afrikaanse akteur om die hoofrol in ʼn nuwe rolprent te vertolk wat gaan handel oor die Suid-Afrikaanse weermag.

Dié fliek, wat OH4 gaan heet, vertel die verhaal van ʼn tiener wat verpligte landsdiens in die weermag moet dien. Die verhaal strek oor twee jaar, wat onder meer tonele van die grens insluit, en vra belangrike vrae oor jong Suid-Afrikaanse mans wat destyds verplig was om in die weermag te dien.

Oliver Hermanus (Foto: Verskaf)

Hermanus sê dié fliek beloof om ʼn opwindende projek te wees. “Ons is baie opgewonde om na onontdekte talent in Suid-Afrika te soek,” sê hy. “Dit is ʼn waardevolle geleentheid vir enige jong akteur wat ʼn loopbaan in die rolprentbedryf nastreef.”

Die fliek sal vervaardig word deur Portobello Productions, Abraham se Londense produksiemaatskappy.

Die akteur moet volgens die beskrywing tussen die ouderdom van 16 en 20 jaar oud wees. Spesifieke gelaatstrekke word nie voorgeskryf nie.

Abraham is al met twee Oscars bekroon, onder meer as vervaardiger vir die flieks Ida en Kolya. Hy is ook die eienaar van die Fugard-teater in Kaapstad. Hermanus is bekend vir flieks soos The Endless River en Skoonheid, waarvan laasgenoemde op die Cannes Rolprentfees met ʼn toekenning bekroon is.

Oudisies vir die rol word landwyd gehou. Diegene wat meer inligting wil hê, kan Hermanus kontak deur ʼn e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Hier kom n liberallistiese aanslag op die eertydse weermag. Kry Leopold Scholtz om vir jul die genuanseerde waarheid weer te gee asb.

Sarel Strydom ·

Jammer, ek het geen vertroue in die sg. Bekroonde Vervaardigers of skrywers nie. Die mense het gewoonlik ulle eie program wat nie altyd met die waarheid strook nie dit weet ons nou al.

Mike Kaapstad ·

Hernu maar net (boetie gaan army toe) met Arnold Vosloo daai tyd was nogal snaaks……………en boetie gaan border toe……..

Bog ·

Snaaks maar onrealisties, soos Al Debbo en frederik Burgers se toentertydse Vlootkapperjolle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.