Oscars 2019: Só lyk al die wenners

Rami Malek (heel links) en Olivia Colman (links) is onderskeidelik aangewys as beste akteur en aktrise. Regina King (regs) en Mahershala Ali (heel regs) is onderskeidelik aangewys as beste aktrise en akteur in 'n ondersteunende rol. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Rami Malek (heel links) en Olivia Colman (links) is onderskeidelik aangewys as beste akteur en aktrise. Regina King (regs) en Mahershala Ali (heel regs) is onderskeidelik aangewys as beste aktrise en akteur in ‘n ondersteunende rol. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die uiters gewilde Queen-fliek, Bohemian Rhapsody, het tydens die 91ste Oscar-toekenningseremonie, wat Sondagaand (plaaslike tyd) in die Dolby‑teater in Los Angeles gehou is, ʼn handjievol goue beeldjies ingepalm.

Rami Malek, wat die rol van die ikoniese sanger, Freddie Mercury, in dié rolprent vertolk, is met die beeldjie vir beste akteur vereer. Die fliek is ook met die toekennings vir beste klankredigering, beste rolprentredigering en beste klankvermenging huis toe.

Dit is Malek se eerste Oscar en ook die eerste keer wat hy vir die kategorie genomineer is. Hy het sy ma, wat Sondagaand in die gehoor was, bedank en het ook hulde gebring aan sy oorlede pa wat nooit die kans gehad het om te sien hoe hy ʼn wêreldbekende rolprentster word nie.

Die oorlewende lede van Queen het saam met die sanger Adam Lambert die toekenningseremonie geopen met die treffers “We Will Rock You” en “We Are the Champions”, as ʼn huldeblyk aan Mercury.

Olivia Colman het die beeldjie vir beste aktrise vir haar rol as koningin Anne in The Favourite weggeraap onder die neus van Glenn Close, wat glo ʼn gunsteling was om met dié beeldjie weg te stap en benoem is vir die fliek The Wife.

Lady Gaga, Andrew Wyatt, Anthony Rossomando en Mark Ronson, skrywers van die liedjie "Shallow" uit die fliek 'A Star is Born'. Dié liedjie is aangewys as beste oorspronklike liedjie. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Lady Gaga (voor), Andrew Wyatt (agter links), Anthony Rossomando (agter middel) en Mark Ronson (agter regs), skrywers van die liedjie “Shallow”, uit die fliek ‘A Star is Born’. Dié liedjie is aangewys as beste oorspronklike liedjie. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Colman het wel in haar bedankingstoespraak vir Close uitgesonder as iemand wat sy haar lewe lank nog bewonder. Sy het ook die regisseur van The Favourite, Yorgos Lanthimos, bedank, asook haar medesterre, Emma Stone en Rachel Weisz.

Colman het ook vir haar kinders dankie gesê en gesê sy hoop hulle kyk by die huis na die toekenningsgeleentheid. “Dit gaan nie weer gebeur nie,” het sy gesê.

Die regisseur van die Netflix-rolprent, Roma, is met die beeldjies vir beste regisseur en beste kinematografie vereer. Die fliek is ook aangewys as beste internasionale fliek.

Marvel Studios se Black Panther, wat geskiedenis gemaak het deur die eerste superheldfliek te wees wat benoem is vir beste fliek, is vereer met die beeldjies vir beste stelontwerp, beste kostuumontwerp en beste oorspronklike klankbaan.

“Shallow”, die liedjie wat fliekgangers se hartsnare geroer het in die fliek A Star is Born, met Lady Gaga en Bradley Cooper in die hoofrolle, het die beeldjie vir beste oorspronklike liedjie gewen.

Dit was die eerste keer in 30 jaar wat die Oscars-toekenningsgeleentheid nie ʼn aanbieder gehad het nie.

Die komediant en akteur Kevin Hart het in Desember verlede jaar aangekondig dat hy vanjaar se 91ste Oscars sou aanbied. ʼn Storm het egter intussen losgebars nadat ʼn reeks homofobiese twiets wat hy geplaas het, herontdek en weer op sosiale media versprei is. Hart het toe besluit om uit die rol as aanbieder te tree.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners:

Beste fliek – Green Book

Beste regisseur – Alfonso Cuarón, Roma

Beste akteur – Rami Malek, Bohemian Rhapsody

Beste aktrise – Olivia Colman, The Favourite

Beste akteur in ʼn ondersteunende rol – Mahershala Ali, Green Book

Beste aktrise in ʼn ondersteunende rol – Regina King, If Beale Street Could Talk

Beste oorspronklike draaiboek – Green Book

Beste aangepaste draaiboek – BlackKklansman

Beste internasionale fliek – Roma

Beste tekenprent – Spider-Man: Into the Spider-Verse

Beste klankredigering – Bohemian Rhapsody

Beste visuele effekte – First Man

Beste fliekredigering – Bohemian Rhapsody

Beste tekenprent (kortfliek) – Bao

Beste aksiefliek (kortfliek) – Skin

Beste dokumentêre kortfliek – Period. End of Sentence.

Beste oorspronklike klankbaan – Black Panther

Beste oorspronklike liedjie – “Shallow” uit A Star is Born

Beste stelontwerp – Black Panther

Beste kinematografie – Alfonso Cùaron, Roma

Beste kostuumontwerp – Black Panther

Beste grimering en haarstilering – Vice

Beste dokumentêre fliek – Free Solo

Beste klankvermenging – Bohemian Rhapsody

Bron: The New York Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.