Oscars 2022 kry weer aanbieder

Die Oscars-geleentheid kry in 2022 weer ‘n aanbieder nadat dit sedert 2019 sonder ‘n seremoniemeester voortgegaan het. (Foto: Mark Ralston/AFP)

Die televisienetwerk ABC het Dinsdag aangekondig dat die 94ste jaarlikse Oscar-toekenningsgeleentheid vanjaar weer vir die eerste keer sedert 2018 ʼn seremoniemeester sal hê.

Die Oscar-beeldjies sal op 27 Maart uitgedeel word, met die room van die internasionale rolprentbedryf wat dié mees gesogte toekenningsgeleentheid in Hollywood by die Dolby-teater sal bywoon.

Verlede jaar is die geleentheid sonder ʼn seremoniemeester by ʼn treinstasie in Los Angeles aangebied en deur net meer as 10 miljoen kykers wêreldwyd gevolg. Dit is ʼn 56%-afname van 2020 se kykersgetal en ʼn rekordlaagtepunt vir die Oscar-geleentheid.

Craig Erwich, president van ABC Entertainment en Hulu Originals, het tydens ʼn paneelgesprek wat deur die Television Critics Association aangebied is, bevestig dat daar vanjaar weer ʼn seremoniemeester sal wees.

Erwich het egter nie verdere besonderhede verskaf oor wie dit gaan wees nie. Die geselsprogramaanbieder Jimmy Kimmel het in 2017 en 2018 as seremoniemeester vir die Oscars opgetree.

In 2019 het die komediant Kevin Hart hom onttrek aan sy rol as aanbieder nadat homofobiese inskrywings wat hy jare gelede op Twitter gemaak het, weer aan die lig gekom het.

Sy posisie is nie gevul nie en die toekenningsgeleentheid het sedertdien sonder ʼn seremoniemeester voortgegaan, maar is wyd gekritiseer vir die “gebrek aan fokus en humor” sonder ʼn aanbieder.

Die Academy of Motion Picture Arts and Sciences het ook Dinsdag aangekondig dat die veteraan Glenn Weiss die Oscars vir ʼn sewende agtereenvolgende jaar sal regisseer.

Min besonderhede is bevestig oor die program, wat weer deur Will Packer vervaardig sal word.

Die benoemings vir die geleentheid sal op 8 Februarie bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.