Oscars vanjaar sonder aanbieder ná herrie

(Foto: Matt Sayles/Invision/AP, File)

Vir die eerste keer in 30 jaar word die Oscars-toekenningsgeleentheid vanjaar sonder ʼn aanbieder aangebied.

Die komediant en akteur Kevin Hart het in Desember aangekondig dat hy vanjaar se 91ste Oscars sal aanbied. ʼn Storm het egter intussen losgebars nadat ʼn reeks homofobiese twiets wat hy geplaas het herontdek en weer op sosiale media versprei is. Hart het toe besluit om uit die rol as aanbieder te tree.

Hy het gesê hy het dié besluit geneem omdat hy nie die aandag van die toekennings wou aftrek nie en dat hy jammer is oor die inhoud van die twiets.

Kevin Hart sou aanvanklik die Oscars aangebied het (Foto: Instagram via Kevin Hart)

Sedertdien het die organiseerders van die Oscars, wat op 24 Februarie in Los Angeles plaasvind, geswyg oor wie die plaasvervanger-aanbieder tydens die glansryke geleentheid sal wees. Dit was totdat ABC Entertainment, wat die Oscars uitsaai, Dinsdag aangekondig het dat die organiseerders besluit het dat daar vanjaar nie ʼn aanbieder sal wees nie. Hulle het besluit om eerder net gebruik te maak van bekendes om die toekennings te oorhandig, berig BBC.

BBC het verder berig dat ABC Entertainment se hoof, Karey Burke, bevestig het dat dié besluit geneem is ná Hart se onttrekking.

Die laaste keer toe die Oscars sonder ʼn aanbieder plaasgevind het, was in 1989 op die 61ste Oscars-prysaand toe die vervaardiger Allan Carr die omstrede besluit geneem het om meer bekendes te betrek by die oorhandiging van die gesogte beeldjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman Goosen ·

Ja dit is nou tipies Hollywood.
Ons moet tog net nie polities onkorrek wees nie. Pasop maar mense: Sosiale media kan ‘n mens sink

Annie Webb ·

Die TV-kykertal van dié geleentheid het geweldig gedaal vandat dit ‘n geleentheid geword het vir die linkses in Hollywood om Trump voor ‘n meestal ondersteunende gehoor uit te skel. Ek sê meestal, want daar is oorgenoeg Trump-ondersteuners in Hollywood, hulle word net doodgeskree as hulle dit durf sê. En kry nie weer werk nie. Soos só baie geleenthede in die VSA wat voorheen “entertaining” was, het die luidkeels ontevrede linkses dit heeltemal bederf. Niemand mag meer lag en pret hê nie, dan gee hulle een of ander minderheidsgroep aanstoot. En dan haal so ‘n minderheidsgroep uit en wys; al die etter uit hulle siek, goor binneste. Dit vloek en skel van die verhoog af dat mens terugverlang na daai lang, vervelige, melodramatiese toesprake waarin almal bedank word wat ooit bokant die wind verbygestap het van die wenner van een van die talle beeldjies wat uitgedeel word. Agt jaar van Obama hét toe Amerika radikaal getransformeer soos hy beloof het; dis nou ‘n plek waar al die ingedoendes hulle ontevredenheid 24/7/365 kan spoeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.