Passie vir kinderteater slyp Cindy vir ‘Fluit Fluit’

Cindy Swanepoel. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Cindy Swanepoel, wat bekend is vir haar rol as dr. Annelize Roux in die kykNET-sepie Binnelanders, het gehore tydens vanjaar se Silwerskermfees laat skater in die 22 minute-kortfliek Fluit Fluit. Die fees het van 22 tot 25 Augustus in Kampsbaai plaasgevind.

Dié kortfliek is gegrond op die lewe van die fluitende predikantsvrou, Ryne de Beer, wat in die sewentigerjare haar fluitvernuf op plate vasgelê en vertonings landwyd aangebied het.

Swanepoel is Saterdagaand tydens ʼn glansgeleentheid by die gesogte jaarlikse rolprentfees vereer met die toekenning vir beste aktrise in ʼn kortfliek vir dié komiese rol.

Sy vertel sy het nooit van De Beer geweet voordat sy een aand op pad na ʼn vertoning saam met ʼn liedjie in die motor gefluit het nie. “Een van my vriende wat saamgery het, maak toe ʼn grap oor die fluitende predikantsvrou.

“Ek en Duan (Wanty, vervaardiger van die kortfliek) wou dadelik meer weet, soveel so dat ons ʼn liedjie van haar geluister het. Ons het gedink die onderwerp is skreeusnaaks en die konsep vir ʼn Silwerskerm-kortfliek is net daar gebore.”

Dit is moeilik om nie te veel van die storie te verklap nie, gee sy toe. “Ons wil nie sê dit gaan oor Ryne de Beer nie, want dit gaan nie. Die storie is deur haar as die fluitende predikantsvrou geïnspireer. Ons het verder ons eie storie ingekleur en gesorg dat daar ʼn lekker, onverwagse einde is.”

Duan Wanty en Cindy Swanepoel vroeër vanjaar tydens die première van 'Stroomop'. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Duan Wanty en Cindy Swanepoel vroeër vanjaar tydens die première van ‘Stroomop’. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Volgens Swanepoel is daar nou soveel mense wat na haar toe kom en sê hulle ken vir De Beer. “ʼn Tannie sal kom sê sy het ʼn plaat van haar of ʼn oom sal kom vertel hy ken iemand wat haar geken het.”

In die kortfliek maak Swanepoel van ʼn verskeidenheid vreemde instrumente gebruik wat sy al vir ʼn lang tydperk versamel. “Ek het baie lank kinderteater gedoen en het ʼn geweldige passie daarvoor. In ʼn stadium het ek die idee in my kop gehad dat ek net vir kinders vertonings wil doen, wat toe nooit gebeur het nie. Ek bêre dus al vir ʼn baie lang tyd hierdie instrumentjies. Dit het baie handig te pas gekom tydens die skiet van hierdie fliek.”

Aanvanklik het hulle slegs ʼn konsep vir die fliek gehad. “Tydens die mentorskapwerkswinkels wat die Silwerskerm-platform bied, het ons saam met die skrywers gesit en die storie ontwikkel tot wat dit vandag is. Ons het soveel leiding gekry en het besluit om elke nota wat vir ons gegee is, ter harte te neem.”

Sy vertel sy het baie geïmproviseer tydens die verfliming. “Dit is vir my makliker om my ding in die oomblik te doen as om dit op papier neer te skryf. Al die fluite was ook my eie,” lag sy.

“Ek is nog altyd lief vir klanke en ek hou daarvan om met ʼn voëlboek te sit en voëls na te maak. Ons wou dit ook nog in die storie inwerk, maar het dit uiteindelik uitgesny. Al hierdie vreemde goedjies wat ek kan doen is nou skielik ʼn talent!”

Sy het met behulp van begeleiding op ʼn CD haar liedjies geoefen. “Die regisseur, Hardus van Deventer, was heel verbaas toe hy hoor wat ek alles kan doen, want hy het my nie hoor oefen nie. Ons het so ʼn ongelooflike klankman gehad, want die fluite klink of dit professioneel opgeneem is.”

Tydens die skietproses het sy bekommerd geraak dat sy nie snaaks genoeg is nie. “Ná die eerste dag van verfilming het ek huis toe gegaan en gewonder of ek nou die regte ding gedoen het, want niemand op die stel het gelag nie. Toe ons uiteindelik met mekaar gesels, het hulle vir my gesê hoe snaaks dit is, en toe vra ek hoekom niemand gelag het nie! In ʼn mate was dit vir my beter dat hulle nie gelag het soos ʼn gehoor nie, anders speel jy vir die komedie en ek het die rol baie ernstig opgeneem. Ek dink dít is die fyn lyn – as jy te hard probeer, dan is jy nie snaaks nie.”

Die plakkaat vir 'Fluit Fluit'.

Die plakkaat vir ‘Fluit Fluit’.

Sy vertel borrelend dat sy juis haar hand aan ʼn komiese rol wou waag. “Dit is ʼn baie moeilike genre en ek dink mense vat dit baie as vanselfsprekend. Ons sukkel op die oomblik om ouer én jonger mense gelyktydig te laat lag. Stories soos Orkney snork nie laat mense nog lag, maar dit het ʼn nostalgiese element wat ʼn mens nie kan herskep nie. Dit is vir my ʼn groot kompliment wanneer die ouer garde na my toe kom en sê hulle het gelag.

“Ek is baie lief vir improvisasie en ek doen só baie drama op die oomblik. My karakter in Binnelanders is baie swaar en kwaai, en ek is mal daaroor om dit te speel, want dit is uitdagend op sy eie manier. Tog hoop ek die rol in Fluit Fluit beeld my veelsydigheid as aktrise uit,” sê sy.

Sy sê die span van Fluit Fluit droom daarvan om die storie in ʼn sewe stuk-reeks te ontwikkel. “Ons sal nou kyk wat ons kan doen, maar so iets sal vir my wonderlik wees. Ek het met die regisseur so ʼn kode gehad, dat ons net moet aanhou skiet, totdat ek vir hom sê: ‘Goed, Cindy is nou klaar.’”

Fluit Fluit is deur Duan Wanty vervaardig en Hardus van Deventer het die regie behartig. Neeltje Swanepoel, Cindy Swanepoel en Duan Wanty het die draaiboek geskryf. Weslee Swain Lauder vertolk die rol van die buurman. Die fliek sal vanaf 1 November op Showmax te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petrice ·

Pragtige vrou en dan nóg so talentvol ook!! Baie geluk Cinds!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.