Pavarotti-dokumentêr eersdaags op silwerdoek

Luciano Pavarotti (Foto: Verskaf)

Die wêreldberoemde tenoor Luciano Pavarotti se lewensverhaal word eersdaags op die silwerdoek verewig in die vorm van ’n dokumentêre program.

 Luidens ’n verklaring deur die Gravel Road Distribution Group word Pavarotti, soos die dokumentêre rolprent heet, vervaardig deur dieselfde span wat betrokke was by die dokumentêr The Beatles: Eight Days a Week – The Touring Years.

 Met die bekroonde regisseur Ron Howard aan die stuur bied dié dokumentêr ʼn intieme blik op die lewe, loopbaan en nalatenskap van dié Italiaanse tenoor wat in 2007 in die ouderdom van 72 dood is.

Howard beywer hom om die man agter die groot stem te ontbloot en ʼn blik te gee op dié deel van sy lewe wat die wêreld nog nie tevore gesien het nie. Dit is die worsteling en ware emosies agter die glorie van Pavarotti se musiek wat Howard glo wil wys.

Luciano Pavarotti (Foto: Verskaf)

Die dokumentêr sluit verskeie onderhoude in, sommige daarvan wat Pavarotti met televisiegeselsprogramme en nuustydskrifte gedoen het. Meer onlangse onderhoude wat in New York, Los Angeles, Montreal, Londen, Modena en Verona plaasgevind het, vorm ook deel van die fliek. Daar word ook met Pavarotti se familielede, studente en kollegas gesels.

Volgens Howard het die onderhoude met die familielede veral ’n indruk op hom gemaak. “Die emosies loop hoog tydens hierdie onderhoude. Dit kon nie maklik vir hulle wees om dit te doen nie. Ek is baie dankbaar daarvoor omdat ek dink dat hierdie onderhoude op die menslikheid van die verhaal fokus en nie net op Pavarotti as ’n fantastiese kunstenaar nie. Hulle vertel van die reis vol hoogte- én laagtepunte wat hulle saam as familie moes deurmaak,” sê Howard.

Luciano Pavarotti (Foto: Verskaf)

Die dokumentêr bevat ook persoonlike beeldmateriaal van Pavarotti wat nog nooit die lig gesien het nie. Meeste van hierdie beeldmateriaal kom uit die persoonlike versameling van Nicoletta Mantovani, Pavarotti se weduwee en ook die ma van sy dogter, Alice.

“Dit was vir my belangrik om Pavarotti se storie vir die wêreld te vertel. Hy was nie net een van die talentvolste kunstenaars nóg nie, maar hy het ook ’n goeie hart gehad,” vertel Mantovani.

Pavarotti het in ’n kultuur grootgeword waar opera as gewilde vermaakvorm op almal se lippe was. “Hy wou terugkeer na opera, sy herkoms, in die moderne wêreld,” sê Howard.

Howard voeg by dat Pavarotti se nederigheid hom altyd sal bybly. “Hy was baie trots op sy prestasies, maar hy was ten alle tye nederig. Hy het eerder sy geleenthede gebruik om mense se harte aan te raak.”

Pavarotti begin op 23 September landswyd in teaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

stormrider ·

Ek luister na baie verskillende tenore en sy weergawe van die treffer uit Puccini se opera Turandot is die beste wat ek nog van alle tenore gehoor het. Daar was maar net een Pavarotti!

KukieKraai ·

@Stormrider, jy is in die kol, ek stem 100% saam, Pavarotti was en is net iets anders, gee my hoendervleis en soms n knop in my keel met sy stem en “stage presence”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.